Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Cobus van Wyngaard het in Desember 2019 sy doktorsgraad gesamentlik van die Vrije Universiteit in Amsterdam en Unisa verwerf. Hy is tans ’n dosent by Unisa en is as predikant aan die NG gemeente Pretoria gekoppel. Kontak hom gerus by cobus.w@gmail.com vir sy doktorsgraad of verwante artikels.

Jy swot wat? Ontmoet Cobus van Wyngaard

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

In dié rubriek gesels die skrywer met PhD-studente oor interessante navorsingsonderwerpe.


Teologiese gesprekke oor wit-wees

Wat beteken dit om wit te wees? Wat beteken dit om wit én ’n Christen te wees? Dít is die tipe vrae wat dr Cobus van Wyngaard interesseer. In sy PhD, getiteld “In search of repair: Critical white responses to whiteness as a theological problem – a South African contribution”, ondersoek Van Wyngaard wit Christene se pogings om hulle identiteit te (laat) ver­ander. “Christen-wees is identiteitsverandering,” vertel hy aan Kerkbode. “Maar dit is nie iets wat ons self kan doen nie. Wat ons kan doen, is om die struikelblokke wat hierdie verandering kan verhinder, te verwyder.” Die uitda­ging aan Christene is hoe om só wit te wees dat hulle in vrede en versoening saam met ander kan leef.

Die woord “saamleef” som die motivering van sy navorsing op. Hy is diep oortuig dat wit Christene nie bonuspunte kan verwag of kry as hulle met ander rasse saamleef nie. Wat tans dikwels as buitengewone optrede gesien word, insluitend om in vrede ruimtes met mekaar te deel, moet volgens hom genormaliseer word. Om dit reg te kry, moet die gesprekke rondom wit-Christen-wees krities ondersoek word – nie net deur swart teoloë soos dikwels die geval is nie, maar ook deur wit Christene.

LEES OOK: Jy swot wat? Ontmoet Jaco Barnard

In sy verhandeling kyk Van Wyngaard krities na ’n aantal stemme wat oor wit-wees gesels en hy tel drie lyne wat die stemme in gemeen het, op. Die eerste lyn handel oor die noue verband tussen witheid en ons idees van verlos­sing. Die tweede, oor ons idee van menswees en die wyse waarop dit met ras deurweef is.

Die derde lyn wat hy opgetel het, is ook vir Van Wyngaard die mees beteke­nisvolle: dié van plek. Plek is nie net be­te­kenislose ruimtes nie, maar is met ras en identiteit gevul. In die geskiedenis is ras met plek gedefinieer en vandag steeds is ras en plek diep verweef. Van Wyngaard beklemtoon dat plek en identiteit fundamenteel mekaar beïnvloed.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/09/marileen-s.w.jpg” caption=”Marileen Steyn is tentmakerleraar van NG Saldanha met ’n spesifieke fokus op jeugbediening.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

“Strukture is belangrik, maar as ons verandering wil sien, moet ons begin kyk na die plekke waar ons bly en beweeg.” Dit gaan nie vir hom oor waarheen wit Christene uitreik nie, maar na waar mense gaan en bly as hulle ’n keuse het. Watter woonbuurte, skole, kerke en plek­­ke van sosialisering mense kies, bepaal hulle identiteit maar ook hulle beeld van hoe die land (moet) lyk en werk.

Wat die gebeure in Senekal en die gesprekke rondom rasseverhoudings wat daaruit spruit, betref, wil hy nie te vinnig kommentaar lewer nie. Hy meen eerder dat dit belangrik is dat ons nie dadelik oor of namens gemeenskappe praat nie, maar eerder met gemeenskappe.

Van Wyngaard praat nie vanuit ’n plek van alwetendheid nie, maar vanuit sy eie wroegings en gesprekke. Hy is opreg in sy soeke na wat dit kan beteken om vandag as wit Christen saam met ander te leef. Dit is vanuit hierdie soeke wat hy ’n uitnodiging aan wit Christene rig: “Gaan daar buite na ongemaklike plekke toe sodat jy verander kan word.”

  • Dr Cobus van Wyngaard het in Desember 2019 sy doktorsgraad gesamentlik van die Vrije Universiteit in Amsterdam en Unisa verwerf. Hy is tans ’n dosent by Unisa en is as predikant aan die NG gemeente Pretoria gekoppel. Kontak hom gerus by cobus.w@gmail.com vir sy doktorsgraad of verwante artikels.

Marileen Steyn is tentmakerleraar van NG Saldanha met ’n spesifieke fokus op jeugbediening.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top