Jy swot wat? | Ontmoet Jaco Barnard

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In dié rubriek gesels die skrywer met Ph-D-studente oor interessante navorsingsonderwerpe.


Die erediens van die lewe

Dr Jaco Barnard, predikant, stel nie net in Sondageredienste belang nie.

Vir hom is dit van groter belang om te vra oor die erediens wat van Maandag tot Saterdag plaasvind: die erediens van die lewe. Barnard het die diepe oortuiging dat elke oomblik van elke dag ’n erediens is, ’n oomblik van ontmoeting met God se teenwoordigheid. Die Sondagerediens is bloot die wegspringplek vir die eredienste wat in die week volg. Die vraag is egter: Hoe effektief is hierdie wegspringplek? Daarom vra hy in sy PhD-proefskrif, getiteld Die erediens van die lewe: ’n Prakties-teologiese verkenning, die vraag: “Het die Sondagerediensgebeure betekenis vir die gelowige individu se Christelike identiteit en lewe?”

Kortom, blyk die antwoord, in die woorde van die predikante en lidmate wat aan die navorsing deelgeneem het, ja te wees, “mits die boodskap daarvan hulle lewensomstandighede aanspreek, en lidmate hulle lewensdoel help verstaan.” Op die oog af lyk dit soos ’n gerusstellende antwoord wat bloot vir meer relevante prediking vra, maar hier is meer aan die gang.

Barnard gebruik die definisie van ’n erediens soos wat uit sy onderhoude en fokusgroepe na vore gekom het om die erediens van die lewe te bespreek. Hy wys uit dat daar op Sondae van die “samekoms van gelowiges” gepraat word, maar dat mense deur die week al meer individualisties leef. Hy skryf oor gemeentelede wat op Sondae wil beleef hoe die Woord oopgebreek word sodat hulle dit verder kan gaan verkondig, maar dat hulle dikwels in sedeboodskappe en eksegese vasgevang voel. Laastens skryf hy oor gemeentelede se liefde vir die erediens as ’n plek om te aanbid sonder dat hulle noodwendig daarvan bewus bly dat aanbidding ’n lewenswyse is.

Wat Barnard vind, is dat “die diepte van, betekenis en doel van die verskeie liturgiese rituele vir lidmate onbekend is.” Daar is dus ’n gaping tussen die erediens en die lewe en in hierdie opsig het die erediens nie die gewensde impak op die gelowige individu se Christelike identiteit en lewe nie.

Eredienste in die tyd waarin Barnard sy proefskrif ingehandig het (2019) en eredienste in die tyd waarbinne hy sy graad verwerf het (April 2020) lyk natuurlik radikaal anders. Hoe interpreteer Barnard die situasie vanuit sy kennisveld? Dit maak hom opgewonde, het hy aan Kerkbode vertel. Hy sien dit as ’n geleentheid om die ruimte van die erediens na die lewe te neem sodat mense opnuut kan besef dat sitkamers, en nie net kerkgeboue nie, ook heilige ruimtes kan wees waar familielede mekaar in die erediens kan bedien.

Die artikel waarin Barnard sy bevindinge beskryf, lees maklik en dit gee baie stof tot nadenke vir diegene wat eredienste lei, sowel as vir dié wat dit bywoon (al dan nie). Barnard is besig om ons uit te daag om die betekenis van beide die Sondagerediens en die erediens van die lewe te herontdek.

  • Dr Jaco Barnard is predikant by NG Garsfontein en het in 2020 sy doktorsgraad in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Kontak hom gerus by jaco@nggars.org.za vir sy PhD of die artikel daaroor.
  • Marileen Steyn is tentmaker leraar van NG Saldanha met ’n spesifieke fokus op jeugbediening.

Het jy ’n storievoorstel vir hierdie rubriek? Kontak die skrywer by marileen.steyn@gmail.com