Grondhervorming: ‘Ons dra almal iemand se wonderwerk in ons’

Op ’n plaas in die Overberg bly ’n boere-egpaar wat verskillende maniere gevind het om die lewe van mense in hulle omgewing te verbeter. Die Kerkbode-span het onlangs daar gaan inloer om die storie eerstehands te hoor en beleef.

’n Mens voel sommer met die intrapslag tuis in die ruim gesellige ietwat deurmekaar plaashuis van Kosie van Zyl (51) en sy onderwyseresvrou, Lize op Hansieskloof, geleë tussen Caledon en Napier in die Overberg, ongeveer twee ure vanaf Kaapstad.

Drie opgeskote kinders is besig met skoolwerk by ’n groot tafel vol papiere en boeke in ’n toegeboude stoepvertrek. Groot vensters kyk uit op groen gras onder skaduryke bome en ’n kampie waarin ’n bruin perd rustig wei. Verder agtertoe strek geploegde lande bruin die newels in wat hopelik oor ’n paar maande golwend groen met jong graan en canola-oeste sal staan.

Kosie het op die buurplaas Fairfield grootgeword waar sy pa, soos twee geslagte Van Zyl-mans voor hom, plaasbestuurder was. Met Lize teenaan hom op ’n rooi bank vertel Kosie in ’n rustige sagte brei dat hy grootgeword het met die idee dat hy in sy pa se voetspore sou volg. Hy het landbou op Stellenbosch geswot waar hy Lize ontmoet het. Hulle is getroud en hy het teruggekom en plaasbestuurder geword.

Kosie het gedink dit is hoe naby hy aan sy droom om te kan boer sal kom tot op ’n dag in 1994 wat die buurplaas se eienaar, Callie Otto, hom vra of hy nie sy plaas, Hansieskloof, wil koop nie. Met geen kapitaal agter hom nie, het Kosie eers gedink dit is onmoontlik, “maar met die hulp van my pa as mentor, wat gesien het dat dit ’n geleentheid is, het ons met oom Callie gesit en gesels en op die ou einde het hy en ant Miemie vir ons die geld geleen om die grond by hulle te koop.

Kosie en Lize van Zyl het altwee gevoel dit wat hulle het is uit genade en dat God wil hê dat hulle as’t ware Sy hande en voete moet wees om wonderwerke vir ander te laat gebeur soos wat iemand destyds vir hulle die droom van hul eie plaas laat waar word het. Foto: Robert Cable

“Daarna het ons nog stukkies grond gekoop en tien jaar later was ek ’n kommersiële boer deur een ou wat my ’n kans gegee het … en dit is waar die hele Agri Dwala-idee begin het. In ons hart wou ek en Lize vir iemand anders dieselfde kans gee as wat ons gehad het.”

Hy en Lize het altwee gevoel dit wat hulle het, is uit genade en dat God wil hê dat hulle dit gebruik om sy koninkryk te bou, as ’t ware sy hande en voete te wees om wonderwerke vir ander te laat gebeur soos wat oom Callie destyds vir hulle ’n droom laat waar word het.

Agri Dwala se storie word ’n boek

Agri Dwala se storie word ’n boek Die naam Agri Dwala is gekies want, soos hulle dit toe verstaan het, beteken dit “om te boer in die berge” wat pas by hul boerdery-omgewing verduidelik boer Kosie van Zyl. Dit is ook waar die titel van die nuwe boek, ‘Uit klip gekap: ’n Getuienis van seën’, vandaan kom wat die tydskrif Landbouweekblad met die borgskap van Kaap Agri vanjaar uitgegee het.

As dit kom by boerderydinge soos hoe duur sakke canola-saad is of hoe die plaasmasjinerie werk, dan gesels Daniel Pieters graag. Dié oudleerder van Napier Hoërskool is deur die Van Zyls gehelp om ’n landboudiplomakursus te doen en was van die begin af deel van Agri Dwala.

“Ek is nou al 16 jaar hier en het ’n passie vir my werk,” sê die pa van vier wat vandag een van die maatskappy se vyf direkteure is. Sy verantwoordelikhede lê aan die tegniese sy soos om na die plaasmasjinerie om te sien wat hulle gebruik vir plant en besproeiing.

Om ’n grondhervormingsprojek soos Agri Dwala te laat slaag met ’n aanvanklike 29 aandeelhouers (ses plaaswerkers van Kosie en die res dorpsmense van Napier), almal kleinboere maar sonder kennis of ervaring van die besigheidsy van landbou, vat harde werk, vasbyt en ’n nederige openhartigheid wat toelaat dat ander van jou kan verskil. Dit hoor ’n mens by Kosie, wat steeds in ’n mentorrol betrokke is by direksielede soos Daniel.

Florina Pieters voor Agri Dwala se gastehuis op een van hul plase so 10km buite Napier. Foto: Robert Cable

“Om jou hart tot so ’n projek te verbind, gaan beteken jy moet deel. Jy gaan nie net jou werktuie en kennis deel nie, maar jou kosbaarste geskenk – jou tyd. Jy sal leer wat dit beteken om mense wat anders as jy dink, te respekteer,” deel Kosie in die boek Uit klip gekap: Die verhaal van Agri Dwala, ’n getuienis van seën. Die boek is geskryf deur Etienne van Heerden (nie die skrywer van Toorberg nie!) en vanjaar deur Landbouweekblad uitgegee, met Agri Kaap as borg. (Sien boekbesonderhede hieronder –Red). 

Vir Kosie was een ding van die begin af beslis. Dat hy gaan help soos wat hy gehelp is. Hy het sy implemente aan die begin vir Agri Dwala se gebruik beskikbaar gestel soos wat Fairfield se eienaar destyds sy implemente vir hom geleen het toe Kosie op sy eie plaas begin boer het. Sy pa se mentorrol het hom destyds gehelp om geleenthede raak te sien, daarom was hy en sy vriend Piet Blom, ’n plaaslike landboukundige, ook vir die eerste tien jaar nou betrokke as mentors. Die erns van hulle verbintenis het hulle gewys deur te belê in aandele in die nuwe maatskappy.

Saam met vennote soos plaaslike landboumaatskappy Overberg Agri, die Kaap Agulhas-munisipaliteit, die Landbank, die departemente van grondsake en landbou en later Pioneer Foods, het Agri Dwala vooruit geboer. Hulle kon hulle grond uitbrei, eie implemente koop en hulle veetroppe vergroot. Vandag is 15 aandeelhouers oor soos sommige hulle aandele uitgekoop het. Wie oor is, is diegene wat regtig wil boer, meen Kosie.

So al sug Daniel oor die stygende koste van saad en implemente, droogtes en goed wat hulle die laaste twee jaar soms laat “krul”, is Agri Dwala se suksesverhaal ’n ligstraaltjie van hoop in die landbousektor waar sovele grondhervormingsprojekte sukkel om te slaag.

“Die grondhervormingskwessie word dikwels vanuit ’n ongunstige hoek beskou en die Agri Dwala-model kan soveel inspirasie en hoop verskaf. Ons moet die opbouende stories en die lesse wat ons uit dié suksesverhale kan leer, so wyd as moontlik deel,” sê Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri.

Meer mense moet hierdie inspirerende storie van geloof, hoop en liefde hoor, glo Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad: “Met die publikasie van ’n boek oor Agri Dwala se sukses sal hulle inspirerende verhaal hopelik ’n groter gehoor bereik. Agri Dwala se mense maak jou weer trots om ’n Suid-Afrikaner te wees. Dit is ’n storie wat nie genoeg oorvertel kan word nie,” sê hy.

Hier word met passie gewerk vertel Daniel Pieters, een van Agri Dwala se direkteure. Foto: Robert Cable

Agri Dwala se vroue

Karsrivier, een van die plase wat Agri Dwala later aangekoop het, het ’n groot plaashuis en ’n stoor wat die vroue van die projek in 2011 in ’n gastehuis en funksielokaal omskep het. Lize was aanvanklik as mentor by hierdie projek betrokke, maar vandag bestuur die vroue dit self.

Margaret Engel, die gastehuis se bestuurder, is siek met Kerkbode se besoek, maar ons kry vir Florina Pieters, Daniel se vrou, waar sy besig is om die funksielokaal reg te kry vir ’n middagetebespreking. Sy is maar van laasjaar daar betrokke en doen die admin, vertel sy terwyl sy ons rondwys in die keurig gerestoureerde ou plaasopstal met sy plankvloere en gesellige binnenshuise braaikamer.

Waar daar destyds nie geld was vir haar om te leer vir verpleging nie, is sy bly sy en Daniel kan nou al geld wegsit sodat hulle kinders eendag kan gaan leer. Hiermee help Agri Dwala ook, “hulle sponsor die kinders wat verder wil gaan leer,” sê Florina, en dit is ’n goeie ding. “Daar is nou vir ons kinders ook ’n droom, want daar is nou vir hulle kanse en geleenthede wat hulle nie voorheen gehad het nie,” vertel Margaret in die boek. Sy was die Van Zyls se huishulp en haar man Marius, wat nou ’n direkteur van Agri Dwala is, was ’n plaaswerker.

Kingdom Ambassadors Children’s Village

’n Bietjie meer as tien jaar gelede het daar ’n klein seuntjie oor die Van Zyls se pad gekom wat ’n huis nodig gehad het en later sy boetie ook … “en dit was die begin van dit wat ons hier staangemaak het,” sê Lize. Dit is waar die Kingdom Ambassadors Children’s Village, ’n geregistreerde pleegsorghuis en plek van veiligheid op hulle buurplaas, Hansiesrivier, sy ontstaan gehad het.

Leonard en Sonja Brand se koms om te help by die Kingdom Ambassador’s Children’s Village was ’n antwoord op gebed. Foto: Robert Cable

Lize vertel in haar sagte stem sy het in die jare wat sy op Napier skoolgehou het, bewus geword van die groot behoefte wat daar in die omgewing is vir ’n plek van veiligheid vir behoeftige kinders. In ’n leë huis op Hansiesrivier, wat ook in hulle besit is, het hulle in 2016 eers een pleeghuis begin, maar soos die kinders meer geword het is meer pleeghuise gebou. Vandag is daar vyf pleeghuise, elk met ses kinders in met ’n huismamma wat na hulle omsien. Daar is ook ’n maatskaplike werker en arbeidsterapeut betrokke.

Hulle het ook gou ontdek die pleegkinders sukkel dikwels om in die plaaslike skole aan te pas weens die trauma wat hulle in hulle ouerhuis beleef het. So het Lize begin met ’n skoolprojek, eers net vir hierdie 30 kinders, maar daar is ook in die gemeenskap ’n groot behoefte aan onderrig vir kinders wat nie in hoofstroomskole kan aanpas nie. Tans het die leersentrum 75 kinders in klasse van graad RR tot graad 8.

’n Groot verantwoordelikheid. Lize het besef sy het hulp nodig. ’n Jaar en ’n half gelede maak ’n egpaar uit Durbanville kontak. Oud-apteker en entrepreneur Leonard Brand en sy onderwysvrou Sonja het van die Van Zyls en hulle projekte gehoor en wou betrokke raak. Hulle koms is ’n antwoord op gebed, vertel Lize.

Met haar onderrigervaring met outismekinders, is Sonja die regte persoon om as vise-prinsipaal by die leersentrum leiding te neem terwyl Leonard as voorsitter seker maak die pleegsorgfasiliteit word volgens wetlike bepalings vir NWO’s reg bestuur.

Hulle koms is vir die Van Zyls net nog ’n bewys dat al lyk dit hoe sleg, God in beheer is. “Hy voorsien al is dit ’n minuut voor middernag,” sê Lize.

“Die realiteit is ons het almal as gelowiges iemand se wonderwerk of geleentheid in ons hart en ons hand. Ek dink dit is wat ek probeer sê as ek sê ons moet God se koninkryk bou op aarde,” sê Kosie vroeg die volgende oggend, koffie in die hand, voor hy groet om te ry om te doen wat hy van kleins af wou doen. Om te boer en ’n verskil in mense se lewe te maak.


KOOP DIE BOEK SÓ
Uit klip gekap: Die storie van Agri Dwala, ’n getuienis van seën deur pastoor Etienne van Heerden word deur Landbouweekblad met die ondersteuning van Kaap Agri uitgegee. Bestel die boek teen R295 op https://winkel.landbou.com/  of per e-pos by johan.terblanche@media24.com. Heléne Meissenheimer

Word 'n vriend van Kerkbode