Ons leer nou vinnig

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ons betree ’n nuwe era in die geskiedenis. Daaroor kan daar geen twyfel wees nie. Daarvan getuig die leerkurwe waarin ons onsself die afgelope maande bevind het. Een van die belangrikste onbedoelde uitkomste van die Covid-19-pandemie was dat ons verbeelding oor die toekoms geweldig gestimuleer is.

Hoewel die “nuwe” toekoms ongedefinieerd en onsienbaar is, weet ons reeds baie daaroor. Ons weet dat menslike gedrag en gewoontes anders gaan wees. Ons weet dat ons nageslag nuwe, meer komplekse uitdagings die hoof sal moet bied. Ons weet ook reeds dat die volhoubaarheid van die aarde as natuur­like bron onder meer druk gaan kom. Ons weet dat kunsmatige intelligensie ’n groter en groter rol gaan speel. Ons weet ook dat die digitalisering van die wêreld almal toenemend toegang gaan gee tot dieselfde bronne van kennis. Die wêreld se onderrig- en opleidingsmetodes gaan revolusionêr verander. En ons weet dat mense toenemend ’n behoefte gaan hê aan sosiale konneksie.

Covid-19 het die transformasie van ’n ou na ’n nuwe wêreld inderdaad dra­maties versnel. En het ons dit nie in die kerk aan die lyf gevoel nie? Hoe vinnig het ons nie almal geleer om digitale platforms te gebruik vir eredienste en toerustingsgeleenthede nie? En hoe het ons voortgesette opleiding van dominees nie toeganklik geraak vir almal in elke uithoekie van die wêreld nie? Ons is in ’n sin reeds op ’n snelbaan geplaas na ’n nuwe wêreld. En dit beteken dat ons die hele tyd leer.

Daar is daarom veral twee maniere waarop ons nou ’n verskil kan maak aan die toekoms, deur navorsing en opleiding. Op beide hierdie gebiede het die NG Kerk die afgelope jare groot treë gegee. Ons nuwe bane van teologiese opleiding kon nie op ’n beter tyd kom nie. Teologiese opleiding is meer toeganklik gemaak. Die toekoms sou immers nie ons ou grense eerbiedig nie. Ons hoop nou ook om in die afsienbare toekoms opwindende nuwe opleidings- en toerustingsmoontlikhede vir lidmate te ontsluit. In ’n missionale kerk val die fokus mos baie sterk op die amp van die gelowige. Gelowiges is die draers van die Goeie Nuus en beliggaam Christus se diensbaarheid op elke plek waar hulle teenwoordig is. As ons die toekoms wil beïnvloed sal ons meer en meer gelowi­ges móét laat deel in die kennis en vaardighede wat voorheen net vir sommiges toeganklik was. In ’n diverse en vloei­bare wêreld gaan die verantwoordelikheid vir die toepassing van geloofskennis en -vaardighede net nog meer van almal vereis word.

Ons het egter op die gebied van navorsing ook groot vordering gemaak. Van die dae van die besondere insigte wat deur Kerkspieël ontsluit is, na vandag waar kwalitatiewe navorsing blitsvinnig gedoen word, het die waarde van goeie navorsingsresultate net bly toeneem. En hoe dikwels word die aannames wat ons byvoorbeeld oor lidmate se insigte, kennis en menings, en oor gemeentes se verstaan van hulle roeping, uitdagings en dilemmas het, nie deur die uitkomste van navorsing aangepas nie. Die ontnugterende werklikheid is dat ons nou besef dat ons in die verlede dikwels hieroor geraai het en gemaak het of ons weet wat aangaan en dan so hopeloos verkeerd was. Terloops, die aannames van die eerste paragrawe hier­bo oor wat ons weet, word inder­daad ondersteun deur navorsing.

Een ding is seker, ons kan in die kerk net so min bekostig om nog te raai hoe mense dink en wat die aannames is waarmee hulle funksioneer as wat enige ander suksesvolle onderneming kan bekostig om in die donker te skiet. Ons leer ook nou om teologiese navorsing aan die fakulteite waar ons studente opgelei en navorsing gedoen word, te belyn met die behoeftes wat deur ons kerklike navorsing uitgewys word. Die kerk, in al sy gestaltes, het die laaste tyd vinnig geleer wat dit beteken om die probleem-eienaar van navorsing te wees. En ons leer teen ’n hoë tempo om die resultate van navorsing te interpre­teer en benut in ons bediening van die magdom van soorte mense en situasies wat die Here op ons pad plaas.

Net in die onlangse verlede het ons byvoorbeeld baie wys geword oor die tendense in gemeentes tydens Covid-19 deur ons eie uitgebreide navorsing on­der gemeenteleiers. Ons weet nou uit hierdie navorsingsresultate dat gemeen­teleiers meen dat die belangrikste vaardighede wat hulle nou nodig het, kulturele sensitiwiteit, beter begrip van die ander, beter samewerking en die vermoë om vertroue te wen, is. Ons opleiding moet nou hierdie behoeftes aan­spreek. Ons besef al hoe meer dat ont­trek­king, mure, afsondering, enkelvormigheid ons nie gaan help om die evangelie te deel en die krag van die gemeenskap van gelowiges te beleef waar­van die Bybel ons vertel nie. Die beliggaming van die Jesus vir wie ons volg, kan nouliks in afsondering geskied.

Gelukkig bevestig die navorsing dat gemeentes dit verstaan en daarom reeds groot aanpassings gemaak het na meer­voudigheid. Netwerke met ander rolspelers word gevestig, multi-kulturaliteit is nie meer vreemd nie, onbedoelde afgegrensdheid is met bedoelde verhou­dings en netwerke in die groter gemeenskap vervang, so dui die navor­sings­resultate vir ons aan. Natuurlik is daar nog baie werk. Maar ons respondente sê Covid-19 het hierdie prosesse versnel.

Die konsolidasie van hierdie winste van ons tyd gaan lê in die wyse waarop ons opleiding en toerusting aan gelowiges kan bied. Nuwe koinonia gaan in leergemeenskappe gevind word, selfs in digitale leergemeenskappe wat oor grense strek. Die konsep van lewens­lange leer sal nou gevestig moet word. Kategese kan nie klaar wees in Gr 11 nie. Nee, ons sal programme saam met lidmate moet ontwikkel om gespesialiseerde bedieningskennis en -vaardig­hede toeganklik te maak. Die heelpad moet hierdie nuwe leergeleenthede gelei en ondersteun word met navorsing wat aandui waar die Gees nuwe moontlikhede oopmaak en waar ons Hoof ons gemeentes heen lei.

Ek het hoop vir die kerk. Ek sê dit nie omdat dit die regte ding is om te sê nie. Ek glo dit op grond van wie Christus, ons Hoof, is. En ek sien die vrug van sy leierskap in die antwoorde van die talle gelowiges wat getuig van ’n versnelde dinamika in ons kerk, ’n beweging van God self, in die wêreld.

Ds Nelis Janse van Rensburg is mode­rator van die NG Kerk.

One thought on “Ons leer nou vinnig

  1. Philip Venter says:

    Janee, dinge verander vinnig. Dankie vir jou skrywe en opinie.

    Ek bly verontrus oor die konsep “die kerk”. Baie miljoene rande bymekaargemaak uit gemeentes se jarelange offergawes, behoort niemand enige gesag of mag te gee oor uitsprake, oordele, riglyne en waardeoordele nie. Miskien moet ons die geld skenk aan die Solidarity Fund, sodat gemeentes de novo kan besuit hoe om hulle bedieninge aan te pak.En ontslae raak van bedelaar-dominees: ons kan dit self doen. Want geloof is verwondering, en verwondering is orals, en word mooi gesien deur ‘n geldlose bril.

Comments are closed.