Ons leef in die donker. Ons het tot vandag 49 uit die 92 wintersdae van 2022 beurtkrag gehad. Op vele maniere is dit simbolies van die toestand van ons land. Hoe donker is dit immers nie in ’n land waarin die laaste polisiehoof wat sy of haar termyn eerbaar voltooi het, genl George Fivaz was wat so lank gelede as die jaar 2000 uit diens getree het van die SAPD nie? Sy opvolger was genl Jackie Selebi wat skuldig bevind is aan grootskaalse bedrog en in die tronk beland het. Sedert Selebi is Bheki Cele, Nhlanhla Mkhwanazi (waarnemend), Riah Phiyega en Khehla Sitole almal onder ’n wolk ontslaan uit hierdie allerbelangrikste leiersposisie. Wat was die gevolge nie van hierdie soort leierskap nie? En hoe nag is dit nie as jou nasionale vervolgingsgesag nie daartoe in staat is om die boereverneukers uit die Steinhoffstal of die rowers van miljarde uit die staatskas te kan voorsien van gratis verblyf in die tronk nie? Dit is sterk skemer tot donker as diegene wat die magte van die duisternis moet beveg, die ligte help afsit.
LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Charlotte Sibanyoni
En hoe donker is dit nie as die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, in Junie 2022 verklaar dat die meeste munisipaliteite in SA in chaos verkeer nie? Slegs 16 uit die 257 munisipaliteite het ’n skoon oudit gekry. Wat is die lesing op die ligmeter as die gemiddelde werkloosheidsyfer in jou land tussen 2020 en 2022 42,48% is? Hoe swart is die nag nie as 18 miljoen van jou 62 miljoen medelandsburgers afhanklik is van maandelikse sosiale toelae nie? Of as 99,6% van die R257 miljard wat vir die Departement van Sosiale Ontwikkeling begroot is, aangewend word vir toelaes en die klein oorblywende restant vir maatskaplike programme? Dan is daar skaars genoeg lig om die skrif aan die muur te lees.
Kerke het ’n priesterlike en profetiese rol om in hierdie donker tyd te vertolk. As priesters moet ons komberse uitdeel, kos gee, bejaardes versorg, wonde verbind, kinders beskerm, swakkes dra en hulpeloses bystaan. En ons doen dit. Maar as profete moet ons praat oor die oorsake van die nood. Soos die profete van die Ou Testament moet ons teen die vertrapping van die armes, die valse weegskale, die verjaging van die vreemdelinge, die vernietiging van die menswees van die broses, uitroep. Ons moet gaan staan waar Christus staan, by dié wat in nood verkeer en ’n stem wees vir die stemloses en ’n basuin wees vir geregtigheid.
LEES OOK | Kindersorg: Só kan gemeentes verwonde onderwysstelsel help genees
In die globale kerk leef ’n sterk oortuiging dat die kerk as instituut homself nie behoort te bemoei met die partypolitiek nie. Hoewel die meeste kerke seker is dat gelowiges behoort deel te neem aan openbare politieke diskoerse en ook aan die partypolitiek, ter wille van ’n gesonde staat, meen ons dit is nie die kerk as instituut se rol om voorkeure aan te dui ten opsigte van die ondersteuning of nie van spesifieke politieke partye nie. Hierdie is ’n korrekte benadering. Daar kom egter ’n punt waar die politieke leiers moet kennis neem van die heilige woede van kerkmense. Ons kan nie langer swyg nie, anders sal die klippe dit uitroep. Te veel mense gaan onnodig dood in hospitale, te veel armes vir wie daar nie medisyne is, of ’n dokter of ’n bed nie. Te veel kinders gaan slaap honger, te veel sterf in kruisvuur, word verkrag, verniel, versaak. Te veel vroue, gestremdes, bejaardes, weerloses, vreemdelinge ontvang die vonnis van die dood, verhoor deur die ongenaakbare ellende van ’n swakbestuurde land. Alles is nie die regering se skuld nie, maar dit wat die regering wel kan doen, laat te veel te wense oor. Hulle het byna al die ligte van die land afgesit. Toe die president se Phala Phala-storie in die media onthul word, het die skemer onheilspellend verdig. Die new dawn lyk al meer soos maanlig.
Daarom, toe Mervyn Bunnan se onlangse brief aan die ANC vandeesweek bekend word, het dit waarskynlik verreweg die meerderheid Suid-Afrikaners se sentiment verwoord. Hy is 86 jaar oud, skryf hy, die enigste oorlewende persoon wat die Congress of the People op 26 Junie 1955 toegespreek het. Hy sê hy was juis aan die woord toe die polisie daar instorm. Maar dan skryf hy: I will not renew my membership of the ANC. The ANC is no longer fit to govern or worthy of my support, exiguous (onbeduidend) as it has been. I no longer wish to be a member …
VIDEO: Dominee oor depressie, kuns en genesing
Lid of nie ’n lid nie, ondersteuner in die verlede of nie, maar so kan dit nie aangaan nie. Die regering is nie meer in staat om hierdie land te regeer nie. Ons het ’n beter regering nodig.
Slegs 49% van alle geregistreerde kiesers het in 2019 deelgeneem aan die algemene verkiesing. Van die 35,8 miljoen stemgeregtigdes het 26,7 miljoen mense geregistreer en 17,6 miljoen het gestem. Die regerende party het 58% van die totale aantal uitgebragte stemme ontvang, dit wil sê ongeveer 30% van die stemgeregtigdes in die land se stem. Terloops, ’n na-verkiesing-opname toon dat slegs onderskeidelik 60 en 61% van alle bruin en wit kiesers gestem het. Daar kom ’n tyd waar die verantwoordelikheid van landsburgers om deel te neem aan die politiek van die land nie meer opsioneel behoort te wees nie.
Ons glo dat die Goeie Nuus duisternis verdryf. Maar vir baie in Suid-Afrika is hierdie Lig nie beskore nie. En dít is nie die regering se skuld nie. Vir ander kom die son van geregtigheid nooit op nie. Die ellende van armoede en lyding is net te groot, die vernietiging van waardigheid is net te afbrekend, die onafwendbaarheid van die dood net te sterk. Teen hierdie duistenis sal ons net so hard moet veg as wat ons sal moet werk aan die verkondiging van die Lig.
- Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.
Ds. Nelis jy weer- gee net die waarheid. Ons sal baie naby aan Jesus moet bly stap en ons Lig gee vir ander wie dit nog nie het nie. !! Ons het pas ‘n uitreik na die Noorde van Suid Wes gehad waar die mense daar smag na Bybels en die Woord. God is op Sy Troon en mens besef nie altyd wat “agter die gordyn” gebeur nie. Prys Sy Naam.
Ds. Nelis jou preek Sondag mbt die situsie in die Land was opsommend en het mens laat besef hoe laat is dit. Ons bly Hoop!