Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Kindersorg: Só kan gemeentes verwonde onderwysstelsel help genees

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Onderwys in Suid-Afrika is in ’n reuse-krisis. Veel groter as wat die Covid-19-pandemie ooit was.

Duisende kinders het na die pandemie nog nie teruggekeer skool toe nie. Hierdie stand van sake is onlangs deur die Minister van Basiese Onderwys Angie Motshekga bevestig toe sy aan lede van die parlement gesê het dat die negatiewe gevolge van die pandemie so erg is dat die onderwysstelsel nie gou daarvan sal herstel nie.

Die jongste statistiek skets inderdaad ’n donker prentjie: Ongeveer 1,1 miljoen kinders tussen 5 en 18 jaar was teen 2020 nie meer in die skool nie. In die groep van 5-13 jaar het die getal toegeneem van 207 768 in 2016 tot 779 979 in 2020.

Geborg

LEES OOK: Former policeman now minister makes church history

Wat die prentjie nog donkerder maak, is dat die 5- tot 6-jariges die groep is waar die grootste toename plaasgevind het, met 37% van die kinders wat geen vorm van onderrig ontvang nie. Die kerk kan hierdie stand van sake nie ignoreer nie, juis omdat gereformeerde kerke onderwys deur die geskiedenis as belangrik beskou het.

Martin Luther was die eerste kerkhervormer wat breedvoerig oor die belangrikheid van goeie onderwys vir kerk en staat geskryf het. In 1524 het hy onder meer aan die owerhede geskryf dat onderwys ’n belangrike saak is waarmee die jeug gehelp moet word en in 1541 het hy die besondere beeld gebruik deur onderwysers te vergelyk met tuiniers wat jong bome en struike in die tuine van die koninkryk plant.

Ander kerkhervormers soos Philip Melanchton en Johannes Calvyn het in aansluiting by Luther ook beklemtoon dat onderwys onlosmaaklik deel van die kerk se opdrag is. As gereformeerde kerk is die geskiedenis van die NG Kerk daarom nie sonder rede vervleg met die geskiedenis van van die bekendste skole in Suid-Afrika nie. Net soos in die verlede, klop die uitdaging nou aan die deur van elke gemeente om by onderwys op die dorp of in die voorstad betrokke te raak.

Hoe kan dit gebeur? Gemeentes kan op van die volgende maniere betrokke raak:

  • Motivering van ouers: Lidmate kan veral ’n groot rol speel om werkers in hulle diens te motiveer om hulle kinders skool toe te stuur.
  • Motivering en ondersteuning van onderwyspersoneel: Die stukkende onderwystelsel plaas enorme druk op onderwyspersoneel. Gemeentes kan moeite doen om uit te reik na die personeel van plaaslike skole.
  • Beskikbaarstelling van infrastruktuur: NG gemeentes oor die land beskik oor uitstekende infrastruktuur wat as naskoolsentrums ingerig kan word.
  • Deelname aan programme van die kerk soos byvoorbeeld Little Seeds van Badisa.

Wyle aartsbiskop Desmond Tutu het tereg gesê: Onderwys is nie voorbereiding vir die lewe nie, dit is die lewe self. Daarom sal die kerk moet help met die stukkende onderwys in die land.

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand