Vir die NG Kerk om te slaag in sy roeping, is dit van kritieke belang dat lidmate die Bybel op ’n gesaghebbende manier kan uitlê en gebruik.
Die debatte oor etiese kwessies oor die afgelope jare het getoon dat daar baie onkunde en onsekerheid bestaan oor die uitleg van die Skrif. Die nadeligste uitkoms van hierdie onkunde en onsekerheid is dat lidmate die Skrif vir predikante los om uit te lê, of om te stry oor die regte uitleg.
In ’n kerk wat besig is met ’n missionale transformasie wil ons juis die teenoorgestelde hê. Ons wil so veel as moontlik lidmate hê wat oor die basiese vaardighede beskik om die Skrif verantwoordelik te hanteer. Maar eers kom die waardes waarmee die Bybelteks gelees word. Dit vereis respek vir die konteks waarin die teksgedeelte ontstaan het, respek vir die konteks waarin dit gelees word, respek vir die gaping tussen gister en vandag, en bowenal respek vir die feit dat die Bybel die Woord van God is. Dit moet as kerugma gelees word.
Lees ook: In gesprek met Elna Mouton: Maak die Bybel nog enigsins saak?
Voor die stigting van Bybelkor in 1971 het ds Jan Lange, leraar van Riversdal, by ’n Kaapse sinode dringend gepleit vir die stigting van ’n instelling wat die Bybel kan help toeganklik maak vir gelowiges. Hy het gesê dit gaan in die kerk nie net oor baksteengeboue nie, maar veral oor lidmate se geloof wat uitgebou word – woorde wat vandag meer waar is as ooit tevore.
Die Algemene Sinode het met sy uitbreiding van die bane van teologiese opleiding onder meer voorsiening gemaak vir ’n bedienaarskursus met die oog op preekbevoegdheid vir nie-gelegitimeerdes. Die ontstaan van die kursus is veelseggend. Die NG Kerk het sy lidmate nodig om die Woord te verkondig in elke uithoekie van die wêreld. Die bedienaarskursus word deur die Hugenote Kollege (HK) aangebied en is aanlyn beskikbaar. Daar is kerkdiplomas vir bedienaars met die oog op preek- en erediensleidingsvaardigheid, maar ook met die oog op pastorale sorg, jeug- en familiebediening en gemeenskapsdiakonaat.
Lees ook: Meer bedienaars en diensleraars as predikante in 2030?
Daar is ook tans ’n aantal lidmate wat tweedeloopbaanstudente in teologie is. Hulle maak gebruik van afstandsonderrig. Daar is ook gegradueerde lidmate wat teologies opgelei word om diensleraars te word.
Daar word ook ’n aanlyn BTh-graad in missionale teologie aan HK aangebied. En hoe ’n heugelike dag was dit nie toe HK op Vrydag 17 Maart die eerste drie BTh-grade toegeken het nie. Die kerk se eie privaat hoëronderwysinstelling se alumni sal kan artikuleer na ’n openbare universiteit vir verdere studies. HK het ook begin met aanlyn studies in Grieks en Hebreeus sodat alumni volle toegang kan kry tot verdere teologiese studies. Hierdie ontwikkelinge het studie in teologie baie meer toeganklik gemaak. Verby is die dae waarin teologiese studies net toeganklik was vir diegene wat ses of sewe jaar residensieel aan ’n universiteit kon gaan studeer.
Lees ook: Hugenote Kollege vier eerste ‘eie’ gradeplegtigheid
Die akademiese opleiding aan ’n openbare universiteit van ons studente wat gemeenteleraars wil word, is vir die kerk baie belangrik. Die ekumeniese aard van die teologiese fakulteite verryk en verruim die leerervaring van studente. Verder is die teologiese navorsing waaraan studente blootgestel word van deurslaggewende belang vir die ontwikkeling van teologiese denkvaardighede. Hulle eie navorsing en verdere studie verseker dat die kerk nie stagneer in sy denke nie.
Die uitgangspunt van die reformasie was immers dat die kerk altyd weer reformerend terugkeer na haar bronne, dit bestudeer en die waarheid daaruit onderskei. Die wêreld van die leser en dié van die teks ontmoet mekaar egter telkens nuut. Die insigte wat ontstaan vanuit hierdie herontmoetings word in die fakulteite akademies deurgrond en blootgestel aan die ondersoek van akademici vanoor die wêreld. Dit wat studente hieruit leer, is kwalik vervangbaar. Binne die konteks van ’n instelling waarin talle akademiese dissiplines beoefen word, en op elke gebied dieper en wyer navorsing gedoen word, gedy die ondersoekende gees van die reformasie. Die diepte en die wydte van die betekenis van die Skrif vind telkens nuwe toepassings in ons tyd. Daarsonder wil ons nie die toekoms ingaan nie.
Met al hierdie opleidingsgeleenthede raak dit nou egter by die dag belangriker dat die kerk sy aanvullende kerklik-teologiese opleiding meer sistematies en doelgerig aanpak. Studente wat ’n leraar of diensleraar in die NG Kerk wil word, is reeds verplig om vir die aanvullende kerklike program in te skryf. Daarsonder word hulle nie gelegitimeer nie. Hierdie program moet veral fokus op die geloofsvorming van studente, maar ook aanvullende kerkeie teologiese opleiding doen. Kerklike teologie is waarderend, bevestigend en troostend of versterkend (pastoraal). Dit is ook in wese konfessioneel van aard. Die belydenis van die kerk oor die eeue spreek saam in die onderskeiding wat gedoen word. Die kuns is om die spanningsveld tussen kerklike en akademiese teologie te behou. Daarvoor sal die kerk egter moet seker maak dat sy weet waaraan sy wil vorm gee en wat aanvullend geleer moet word.
Die Algemene Kuratorium word nou uitgedaag om diepgaande na te dink oor kerklike teologie, en oor die geloofsvorming van alle teologiese studente van die kerk. Die kuratorium sal ook moet begin dink oor verdere maniere om lidmate in te nooi in ’n lewenslange leerproses. Die voordele van die tegnologie sal ook hiervoor benut moet word. Die ervaring met die bedienaarskursus vir preekbevoegdheid het ons geleer dat hierdie studente na hulle eerste proe aan die teologie wil verder leer. In ’n missionale kerk is die amp van die gelowige ’n aktiewe dienende amp wat op talle terreine ’n verskil maak deur dienswerk en Woordverkondiging. Bybelkundigheid en -vaardigheid is deurslaggewend om hierdie amp tot sy volle reg te laat kom. Die kerk sal ook nou in hierdie onderrig na ’n hoër rat moet oorskakel.
Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en moderator van die NG Kerk.