Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Prof Louis C Jonker, namens die NG Kerk Dosenteraad, Fakulteit Teologie, Stellenbosch, skryf: Ons as die NG dosente verbonde aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch, wil hiermee graag ons perspektief op die kerklike en publieke woelinge van die afgelope tyd oor teologiese opleiding en navorsing stel.
Ons is bekommerd dat daar dikwels eensydig en ongenuanseerd (van alle kante af) op hierdie kwessie gereageer word. Die volgende perspektiewe – so hoop ons – kan die openbare en kerklike gesprek oor die saak dien:
Eerstens, ons as NG Dosenteraad erken volledig die reg en verantwoordelikheid van die NG Kerkverband, deur middel van die NG Kuratorium, om toesig te hou oor die leer en lewe van NG dosente verbonde aan die fakulteit. Dit beteken enersyds dat hierdie liggaam – sou dit nodig en geregverdig wees – hulle taak sou versaak as hulle nie sou optree deur middel van gesprekvoering en/of amptelike klagtes by die tersaaklike ring nie. Dit beklemtoon ook die groot verantwoordelikheid wat die kuratorium het om kritiese gesprekke wat oor NG dosente in die openbaar gevoer word, verantwoordelik en volgens die NG Kerk se amptelike standpunte (insluitend die belydenisskrifte) te fasiliteer. Dit sluit onder andere in dat die kuratorium ook die navraer(s)/klaer(s) se standpunt(e) in die lig van die NG Kerk se amptelike standpunte (wat geformuleer is, en word, deur deeglike en verantwoordelike Skrifstudie, nadenke, en debat) moet beoordeel.
LEES OOK: ‘Die doel is om die waarheid en die feite aan die lig te bring’ – Kuratorium oor optrede teen dosent
Aansluitend by bogenoemde, meen die NG Dosenteraad dat dit buite orde sou wees as die kuratorium ontvanklik sou wees vir klagtes wat vanuit ander kerklike of sekulêre omgewings sou kom. Met betrekking tot die lewenswyse van NG dosente, het enigiemand (ongeag kerkverband of affiliasie) uiteraard die reg om onetiese gedrag onder die aandag van kerklike amptenare of liggame te bring. Wanneer dit oor leerkwessies gaan, verstaan ons dat die kuratorium slegs skriftelike navrae of klagtes vanuit NG Kerkgeledere (individuele lidmate, gemeentes of kerkvergaderings) ontvang waarvan die geldigheid dan aan die hand van die belydenisskrifte en standpunte van die kerk beoordeel word alvorens enige ondersoek gedoen word. Dit impliseer dat klagtes vanuit die geledere van kerke wie se leer radikaal van die NG Kerk s’n verskil, of van persone (selfs ook binne die NG Kerk) wat sélf nie in lyn is met die amptelike kerklike standpunte nie, afgewys sal word. Dit sluit veral ook die kwessie van Skrifgesag en Skrifuitleg in.
Die NG Kerk het helder standpunte hieroor wat geformuleer is met inagneming van die nuutste uitlegkundige navorsing. Indien iemand, of ’n instansie, ’n klag sou lê of ’n navraag sou hê vanuit ’n verstaansraamwerk wat drasties van die NG Kerk s’n verskil, behoort die kuratorium nie ontvanklik daarvoor te wees nie. Trouens, dit sou selfs die verantwoordelikheid wees van die kuratorium om die klaer/navraer daarop te wys dat hy/sy/hulle nie die NG Kerk se standpunte verteenwoordig nie. Ons as dosente is dankbaar dat die kuratorium ook ’n beskermende funksie het teen die soms venynige en ongeregverdigde kritiek en verkettering van NG dosente wat dikwels in die pers en op sosiale media plaasvind – oor onder meer Bybelinterpretasie, die interpretasie van die belydenisskrifte, tradisie en liturgie.
LEES OOK: ’n Agtermiddag by Peter Nagel: Oor teologie, tug en Griekse tragedie
Dit is verder ons standpunt dat ons roeping juis behels om die NG Kerk met goeie en verantwoordelike navorsing te dien – oor die uitleg van die Bybel, of oor enige ander teologiese kwessie. Die Gereformeerde tradisie, waarop ons onsself beroep, gaan juis uit van die voorlopigheid van ons kennis oor God. Daarom is dit die taak van die kerk, ook die NG Kerk, om voortdurend ons verstaan van God en die wêreld te herondersoek, te herbelig, te hersien en te herinterpreteer in die lig van nuwe insigte en kennis, en voortdurend veranderende kontekste. Daartoe kan (en wil) teologiese dosente graag ’n bydrae lewer. Trouens, ons beskou dit as ons roeping.
Laastens, Bybelwetenskaplikes van die NG Dosenteraad bestudeer die tekste van die Ou en Nuwe Testament met akademiese en teologiese integriteit. Hulle taak is nie net om die tekste goed te bestudeer nie, maar om ook die wêrelde waarin hierdie tekste tot stand gekom het, deeglik in spel te bring in die interpretasieproses. Dit behels onder andere dat ander geskrifte wat in die tyd van die totstandkoming van die Bybel in sirkulasie was (en daar is baie!) ook bestudeer moet word om beter begrip te kry vir die godsdienstige en teologiese debatte en ontwikkelings van die antieke tyd. Ons is deeglik bewus daarvan dat die oorgang tussen die Judaïsme en die Christendom nie ’n eensklapse en duidelik onderskeibare verandering was nie. Die vroeë Christendom het vir eeue lank geworstel met die vraag oor of, en hoe, Jesus van Nasaret mense se denke oor God help verander het, en wat die status van hierdie Jesus dus sou wees. Die konsensus-sienings het later (meestal in die vierde eeu na Christus) in ’n aantal belydenisskrifte uitgemond. Tussen die Christusgebeure en die finalisering van hierdie belydenisskrifte lê ’n uitgestrekte wêreld en tyd van worsteling, nadenke, herevaluering en herinterpretasie. Ons merk reeds iets van hierdie worstelingsproses wanneer die boek Handelinge en die briewe van Paulus en andere laat blyk dat daar verskillende menings oor kwessies soos die besnydenis, die eet van offervleis, en ja, selfs oor die goddelikheid van Jesus was.
LEES OOK: Theo Danzfuss skryf: Martelare van kerklike tug
Dit is die taak van Bybelwetenskaplikes en ander teoloë om hierdie “oorgangstyd” deeglik te bestudeer deur middel van die talle buite-Bybelse tekste wat getuig van hoe die teologiese debatte verloop het. Trouens, die bestudering van hierdie fassinerende debatte sou selfs ook vir ons, in die NG Kerk vandag, van nut kon wees as ons diep nadink oor hoe ons God in oorgangstye bely. Tegelykertyd behels dit dat die belydenisskrifte gesien moet word teen die agtergrond waarteen dit geformuleer is. Die standpunte van die Christelike kerk is geformuleer binne die verstaansraamwerke van hulle tyd, na eeuelange worstelinge oor die kwessies wat hierbo genoem word. Belydenisskrifte verwoord dus nie die sogenaamde “finale antwoorde” nie – trouens, dan sou die kerk reeds lankal gestagneer het. Dit verwoord eerder die insigte wat stamelend deur Christene bely word, gegewe die ontwikkelings oor eeue heen, en in die konteks van ’n bepaalde historiese tydsgewrig. Belydenisvorming bly ’n dinamiese proses – soos die bekende voorbeeld van die Belhar-belydenis illustreer. ’n Lewende geloofstradisie worstel dus voortdurend met die vraag wat dit beteken om opnuut die evangelie hier en nou te bely en uit te leef.
Ten slotte, ons as NG dosente van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch stel onsself graag in diens van hierdie navorsing, maar ook in diens van ons kerklike roeping. Ons meen nie dat ons akademiese werk in isolasie plaasvind (onder die vaandel van akademiese vryheid) en dat die NG Kerk niks daaroor te sê mag hê nie. En ons meen ook nie dat ons betrokkenheid by die kerklike debatte van ons eie tyd ons diskwalifiseer vir ons akademiese taak nie. Hierdie noodsaaklike en kreatiewe spanning tussen akademiese teologie en kerklike teologie is niks nuuts nie, en moet volgehou word ter wille van beide die akademie en die NG Kerk. ’n Kerk wat vervlak in terme van teologiese navorsing, staan helaas ook die gevaar om bloot hulle eie sienings en oortuigings te dien.
Praat saam via Kerkbode se brieweblad.
