Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Theo Danzfuss skryf: Martelare van kerklike tug

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Dit is verstommend om te sien hoeveel ongelowiges daar is wat nou uit hulle kassies klim om die dwaalleer van ’n teologiese dosent wat openlik die Godheid van Jesus ontken te verdedig.

Hulle beweer sy ongeloof is die resultaat van deeglike akademiese navorsing, daarom is dit onaantasbaar. Op my boekrak staan daar ook ’n groot aantal boeke, sommige meer as 1 000 bladsye, van deeglike wetenskaplike navorsing oor die Bybel se getuienis dat Jesus ware God is.

Die eindresultaat van talle van hierdie uitstaande akademici se wetenskaplike navorsing was om maar net soos Tomas, na al sy slim akademiese argumente, in aanbidding voor Jesus neer te val en te bely: “My Here en my God” (Joh 20:28). Oor die Godheid van Jesus hoef ons dus regtig nie meer te stry nie.

LEES OOK: ’n Agtermiddag by Peter Nagel: Oor teologie, tug en Griekse tragedie

Toe mense vir Spurgeon gevra het, hoe kan ons die Bybel verdedig, het hy gesê: Jy hoef nie ’n leeu te verdedig nie, maak net die hek oop en hy verdedig homself.

Dr Peter Nagel en al sy ondersteuners wat martelaar speel, kan glo wat hulle wil, maar los asseblief die akademiese hoogmoed. Onthou daar is baie slimmer akademici wat al, net soos Tomas na al sy wetenskaplike eise, met skaamte soos Tomas moes erken dat Jesus ware God is, of soos die geharde Romeinse offisier by die kruis moes uitroep: “Hierdie man was werklik die Seun van God!” (Matt 15:39).

Ons woon in ’n land met godsdiensvryheid. Niemand hoef dus martelaar te speel oor sy geloof nie. Elkeen kan glo wat hy wil, maar jy mag die kerk, jouself en mense om jou nie bedrieg nie. Iemand wat geloofsbelydenis afgelê het en wat later weer in die kerk gelegitimeer is en later weer as leraar in ’n gemeente georden was en wat later nogal as teologiese dosent bevestig is, het by elkeen van die geleenthede herhaaldelik bely dat Jesus God is en dat hy alle leringe wat daarmee in stryd is sal verwerp. Om dan skielik in die openbaar te sê jy aanvaar nie die Godheid van Jesus nie, maar jy wil steeds lidmaat van die kerk wees wat dit bely, jy wil steeds predikant wees vir mense wat dit glo en jy wil steeds teologiese dosent wees wat aanstaande predikante oplei om dit te preek, is blatante oneerlikheid. So iemand het homself ook elke keer vrywillig aan die kerklike tug onderwerp. Om nou met behulp van die media martelaar te speel as die kerk jou tot orde roep, is oneerbaar. Om te dink dat jy so iemand beskerm deur saam te sing in die ongelowiges se koor teen kerklike tug, getuig van onkunde en kortsigtigheid.

LEES OOK: Kairos Netwerk oor leertugondersoek by Kweekskool op Stellenbosch

Ja, dit is natuurlik nie net die dwaalleraar en sy ondersteuners wie se integriteit op die spel is nie, maar ook die Kuratorium wat aangestel is om toesig te hou oor ons teologiese opleiding. As hulle bewustelik toelaat dat ’n dosent wat skuldig bevind is aan ergerlike dwaalleer, tog mag voortgaan om vir ons teologiese studente klas te gee, is hulle net so tugwaardig en aandadig soos hy.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top