Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henrietta Klaasing van Randfontein skryf (namens Kairos Netwerk Dagbestuur): ’n Teologiese dosent van die NG Kerk by Universiteit Stellenbosch, dr Peter Nagel, is onlangs aan drie klagtes van leerdwaling skuldig bevind. Hy aanvaar nie die Godheid van Jesus nie. In Rapport van 8 Januarie beweer hy dat die tugondersoek bedoel was om behoudendes te paai – die kerkmense het hom “teologies verkrag”, want die artikel waarin hy die Godheid van Jesus ontken, “Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus is not θεός”, is al in 2019 gepubliseer. Vier jaar later het die dagbestuur van Wes-Kaapland se kuratorium het hierop geantwoord met ’n persverklaring in Kerkbode.
Kairos Netwerk wil kortliks reageer. Ons is dankbaar dat daar na jare se klagtes uiteindelik besluit is om ’n tugondersoek te doen oor ’n dosent se leerstellige dwalinge. Wat die kuratorium se motivering vir hierdie ondersoek was, weet ons nie. Ons bid net dat dit die begin sal wees van ’n skoonmaakproses om ons predikante se opleiding weer op ’n Skriftuurlike teologiese basis te plaas. Die kuratorium se verklaring bevestig egter ’n paar groter probleme:
- Ons is oortuig dat beide die kuratorium en die ring die erns van hierdie dwaling onderskat. As ’n dosent wat predikante moet oplei, openlik die Godheid van Jesus ontken, oortree hy nie maar net sy legitimasie-eed nie, hy verwerp die hart van die evangelie en die fondament van al die Christelike kerke van meer as tweeduisend jaar. So ’n dwaling vra nie net ’n akademiese herformulering nie maar radikale bekering.
- Ons is verder oortuig dat die tugmaatreël nie naastenby voldoen aan die doel van kerklike tug, naamlik die eer van God, die welsyn van die kerk en die redding van die sondaar, nie. Dit is tog sinneloos om vir ’n dosent te sê jy mag nie meer Sondae preek nie, want jy verkondig dwaalleer, maar jy kan steeds elke dag van die week klas gee vir die kerk se voornemende predikante. Wat word dan van die eer van God en die welsyn van die kerk?
- Ons is oortuig dat die kuratorium hulle eie plig versuim deur te maak asof hulle niks verder kan doen nie aangesien die universiteit sy werkgewer is. Daarteenoor bepaal KO Reglement 11 (3.3.8) duidelik oor die bevoegdheid van die kuratorium se ondersoekliggaam. Die volgende dissiplinêre maatreëls kan deur die ondersoekliggaam opgelê word: 3.3.8.2 die opskorting vir ’n vasgestelde tydperk van die dosent se voorreg om teologiese studente van die NG Kerk op te lei; of 3.3.8.3 die beëindiging van die dosent se voorreg om teologiese studente van die NG Kerk op te lei.
- Die kuratorium erken nou amptelik dat Kairos Netwerk tog al die tyd reg was oor die ernstige leerdwaling by die teologiese fakulteite. Daar is dosente met ernstige teologiese dwalinge wat steeds toegelaat word om ons toekomstige predikante op te lei. As ’n kuratorium met sulke swak verskonings hulle plig versuim om toesig te hou oor teologiese opleiding, verbeur hulle hulle bestaansreg.
