
’n Boer, ’n huisvrou en ’n lugmagmajoor tel onder die groep studente wat op Vrydag 17 Maart geskiedenis gemaak het as die eerstes om grade aan Hugenote Kollege te verwerf wat deur dié private Christelike hoëronderwysinstansie self onderskryf word.
Daar was ’n feestelike stemming onder almal die oggend, studente, ouers en kerklike vennote soos gehoor in die handeklap en luide aanmoediging van die gegradueerdes.
Vir Carel van der Merwe, Annette Steenkamp en Eliza van der Westhuizen het die oggend beteken hulle kon na drie jaar van studie hulle BTh-graad in missionale teologie verwerf. Al drie met lof.
Getoga in swart het hierdie drie diensleraars van die NG Kerk saam met 22 pas gegradueerde maatskaplike werkers hulle grade in die NG Moederkerk op Wellington ontvang.
’n Trotse rektor, prof Nelus Niemandt, het gesê dié groep is pioniers. “Julle is inderdaad die eregaste vandag,” het hy in sy verwelkomingsboodskap gesê op wat hy bestempel het as “’n dag van uitnemende blydskap” vir Hugenote Kollege.
Dit het vier jaar van “paaie en moeite” geneem om die twee grade, BTh in missionale teologie en B Maatskaplike Werk, te kon akkrediteer. Beide graadkursusse is praktykgerig, want by Hugenote Kollege is hulle ernstig oor die werklikheid van Christus se lewensveranderende teenwoordigheid in die wêreld, het ds Nelis Janse van Rensburg in sy hoofrede as dié instasie se direksievoorsitter benadruk.




Van Rensburg het later vir Kerkbode vertel dat onder dié groep ook studente is wat nie met hulle matriekuitslae toelating vir die graadkursus gehad het nie. Na voltooiing van die maatskaplike hulpwerkkursus, ook by Hugenote Kollege, kon hulle vir die maatskaplike werk-graad inskryf soos wat Nicole Roman gedoen het wat die Rektorstoekenning vir akademiese uitnemendheid verwerf het.
’n Besoek aan Hugenote Kollege se webtuiste sit die geskiedkundigheid van die dag in perspektief. Vir dekades was die graadkursusse wat by die instansie aangebied is, die van Unisa. Luidens hugenote.com is dié vennootskap in 2012 beëindig wat die kollege gelaat het sonder geakkrediteerde programme en geen studente. Die direksie het daarop begin om Hugenote Kollege te omskep in ’n private Christelike naskoolse opleidinginstansie “focusing on the training and equipping of innovative social leaders to participate in God’s mission of caring for and the healing of this world”.
Van Rensburg het dan ook Vrydag vir die pas gegradueeerdes gesê hulle is vanaf hierdie oomblik medeverantwoordelik vir die genesing en opbou van Suid-Afrika. Hy het verduidelik, “ons mense is diep gewond … wonde weens werkloosheid en armoede, wonde weens geweld teen vroue en kinders, vernederende wonde weens korrupsie en staatskaping … daar is niemand beter toegerus as jy om hierdie wonde heel te maak en hoop in ons kinders te wek en waardigheid te herstel aan ons mense nie.”
Na afloop het dr Frederick Marais van die NG Kerk se Algemene Kuratorium die drie nuwe diensleraars elkeen ’n handdruk kom gee. By navraag hoor Kerkbode by die drie dat Steenkamp ’n 72-jarige huisvrou is van Bothaville in die Vrystaat en Van der Westhuizen ’n 52-jarige majoor in die lugmag by Bredasdorp in die Overberg. Die 52-jarige Van der Merwe vertel hy was sy lewe lank in boerdery betrokke op Worcester in die Boland, maar nou “sien ek uit om vir Jesus te boer”. Vir die drie nuwe diensleraars beteken hulle teologiese kwalifikasie dat hulle nou beroepbaar is na ’n gemeente.
Lees ook: Meer bedienaars en diensleraars as predikante in 2030?
Meer oor teologiese opleiding by Hugenote Kollege
Daar is twee graadkursusse beskikbaar, die teologiese en maatskaplike werkgraad. Die BTh-graad met fokus op missionale teologie word volledig aanlyn aangebied. Dit is moontlik om deur die loop van die jaar hiervoor in te skryf.
Daar is ook vyf bedienaarskursusse wat vir lidmate van die NG Kerk aangebied word.
Persone van enige denominasie kan egter inskryf vir die voorgraadse kursusse in Grieks en Hebreeus.

Baie geluk, Hugenote Kollege! Dit was ‘n lang en moeisame pad om uit die skaduwee van Unisa te beweeg en hierdie grade as eie grade by die kwalifikasie-owerheid geregistreer te kry. Mag julle van krag tot krag gaan. Ons glo dis maar net die begin.