Hommeltuie het oor die laaste jare die filmbedryf deur ’n groot omwenteling geneem. Waar daar vantevore spore gebou moes word waarop trollies met kameras bewegende beelde moes volg, word hommeltuie nou ingespan.
Die opsies om die regte kamerahoeke en perspektiewe te kry, het in dié proses veelvoudig toegeneem. Daar is amper nie ’n einde aan die hoeveelheid hoeke wat ’n regisseur kan inspan om sy toekomstige kykers se ervaring te versterk nie. Saam met die hommeltuie word gesofistikeerde stabiliseerders gebruik om die beelde so helder as moontlik te kry. Hommeltuie stel ons ook nou in staat om vanuit die hoogte perspektief te kry op die plek waar ons ons bevind. Uit die hoogte sien ons deesdae goed wat ons tot onlangs selde kon sien. So het ek onlangs by die see op ’n ekovriendelike hoogte ’n walviskoei en haar kalf met behulp van ’n hommeltuig dopgehou waar hulle agter die branders baljaar. Die hommeltuig het aan ons verstommende beelde gelewer wat ons voorheen nie sou kon sien nie.
LEES OOK: Kyk mekaar in die oë en vergewe
Dit is nou nodig om vanuit ’n hoë afstandsperspektief na die kerk en die wêreld om ons te kyk. Die massas inligting tot ons beskikking, navorsing oor tendense, die kartering van globale werklikhede, die studie van bewegings en patrone lig ons as ’t ware hoog uit ons klein wêrelde om wyer en verder te sien. Dit is egter ook nodig dat ons deur ons verhouding met die drie-enige God in hierdie afstandposisie gestabiliseer word. God se beloftes, sy verbondstrou, sy heilsdade, sy vergifnis van sondaars, sy roeping, sy liefde, sy genade – alles onwrikbaar vas, bied stabiliteit met die oog op helder waarnemings. Vanuit God se stewige greep lyk die wêreld anders.
As jy dan kyk, sien jy hoedat meer en meer mense in die Westerse wêreld klaarblyklik sonder God klaarkom. Jy sien dat sekularisasie ons grootste bedreiging is. En jy sien klinkklaar die betekenis van sekulêre humanisme. Jy begryp ook hoe individualisme versprei soos ’n veldbrand. En jy let op dat ’n mensbeeld wat geen heerlikheid weerkaats nie verskriklik leeg is. En die pennie drop … hoe meer ontgodddelik die wêreld is, hoe meer ontmenslik is die mens.
O, en jy kliek tot watter mate digitale tegnologie mense se lewe oorgeneem het. En jy neem waar hoe mense aanlyn koop, vriende maak, inligting kry, boeke lees, speel, studeer, mekaar die hof maak, kommunikeer, lewe. En jy sien hoe tegnologie werksgeleenthede opeet. En dit dring tot jou deur dat kunsmatige intelligensie en algoritmes maak dat jou denke geïnfiltreer word deur magte wat jy nie ken nie. En jy skrik by die wete dat jy blootgestel is, dat alles wat veronderstel is om jou te help, nie net help nie, maar ook vat wat jy nie noodwendig wil gee nie. En jy sien die armoede en ellende waarin mense verkeer, en die res se rykdom, en jy sidder.
LEES OOK: Digitale bediening: ‘Dis nie pause nie … dis nuut begin’
En jy begryp dat mense op soek is na identiteit en erkenning. En hulle vind dit in afsondering, agter grense waaroor hulle beheer het. Hoe kleiner die kring getrek word, hoe groter die beheer, hoe sterker die gevoel van veiligheid. My wêreldjie met my reëls waar ek besluit wie ek in- en uitsluit, dit is identiteit.
Maar jy sien ook dat miljoene mense op soek is na troos omdat hulle geliefdes verloor het. En jy sien ’n wêreld wat treur en depressief is. En jy beleef hoe huisgesinne hulle beste self moet herontdek. En jy snak na jou asem oor die angs van samelewings, reeds in ’n stryd gewikkel om hulle hande te lê op die skaarserwordende bronne van die aarde.
En jy sien uit die hoogte die horison buig en die prent raak vol en jy snap dat God nie net anderkant die boog is nie, maar dié kant besig is om te verlos en te troos, te inspireer en op te tel, te dra en hoop te gee, die saak van die verdrukte te beregtig en die geringe na waarde te ag. En hoewel die altydverskuiwende boog jou sig beperk, kom daar ’n glans van heerlikheid van daar af wat jou laat weet dat daar meer is om te ontdek, meer is om te beleef, meer is om nog gesien te word.
LEES OOK: Die geskenk van swakheid
Dit alles kan ons met die groter perspektief van afstand helder sien. Maar helaas is ons verstekposisie klaarblyklik nie om van ’n afstand te kyk nie. Ons raak immers voortdurend verstrengel in interne stryde. Ons floreer in die mikrokosmosse van eie belang. Die wêreld verkeer in nood en ons tjommel voort asof ons interne geskille die eintlike punt is waarom alles gaan. Ons het Christus om perspektief, betekenis, troos, omgee, verbondenheid, identiteit, geborgenheid, ’n nuwe lewe, genade en ewige heerlikheid te bied, maar ons is besig om strydperke af te meet, met ultimatums en met groot woorde mekaar te dreig en te manipuleer. Dit kán nie vanuit ’n hommeltuigperspektief nou die regte ding wees om te doen nie.
Ek het daarom vyf voorstelle vir die kerk se agenda vir die tyd waarin ons leef:
- Bedien mense voortdurend en innig met die troos wat Christus bied, sy deernis en teenwoordigheid. Dit gaan baie tyd vat om die geestelike en emosionele nagevolge van die pandemie te verstaan en verwerk.
- Wees gasvry teenoor die buitestanders, die mense buite die kerk. Gaan wees dit by hulle. Wys vir hulle hoe insluitend die liefde van Christus werk.
- Wees sout en lig op elke plek. Maak die lewe beter, regverdiger, draagliker en mooier vir mense op elke moontlike manier deur vir hulle die nuwe lewe in Christus te demonstreer. Wees positief, maar suiwer ook die samelewing van sistemiese vergrype.
- Verkondig Christus as Verlosser en Saligmaker. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Verkondig die reeds en die nog nie van die koninkryk van God.
- Populeer en okkupeer die digitale wêreld. Alles behoort immers aan die Here. Gebruik dit om die Goeie Nuus op elke moontlike plek en manier te laat weerklink – Jesus is die Here.
- Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG gemeente Welgemoed en voorsitter van die algemene sinodale moderamen van die NG Kerk.