Kyk mekaar in die oë en vergewe

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Eendag toe Jesus op pad was na ’n sterwende kind, word sy reis on­derbreek deur ’n waaghalsige vrou. Sy het al twaalf jaar aan bloed­vloeiing gely en al haar geld aan dokters uitgegee, maar kon nie gesond word nie. Toe kom sy deur die skare mense nader om agter aan Jesus se kleed te raak. Toe stop haar bloedvloeiing. Toe Jesus vra wie Hom aangeraak het, is die dissipels verbaas. In die samedromming in die strate raak mense tog aan mekaar. Maar Jesus het besef dat iemand Hom met ’n bepaalde intensie aangeraak het. Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy bewend van angs voor Hom gaan neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy: Dogter, jou geloof het jou gered, gaan in vrede.

Hierdie storie is nie net merkwaardig omdat die vrou gesond geword het nie. Hierdie storie is merkwaardig omdat die vrou onrein was. Trouens, sy was al vir 12 jaar onrein, ’n vernederde randfiguur in die samelewing. Die storie is merkwaardig omdat dit gaan oor die mees blootstellende aspek van elke vrou se lewe. Hierdie storie is nog meer merkwaardig omdat sy gestenig kon word omdat sy met haar onrein lyf die Jode kon kontamineer. Om dan voor al die mense te moet sê wat sy gedoen het, was soos om haar eie doodsvonnis te onderteken. Die fisiologiese werklik­heid van haar bestaan was net ’n deel van haar probleem. Hoe daar oor haar gedink is, was selfs gevaarliker as haar gesondheidstoestand.

LEES OOK: Help mekaar met karaktervorming

En dan laat Jesus haar gaan. Dit moes vir die ander Joodse mans wat daar gestaan het, ’n skok wees. Hulle reëls het anders bepaal. Hierdie storie word ook dáárdeur merkwaardig dat hierdie man voor al die ander mans ’n keuse maak om die vrou se gelyke menswaardigheid te erken. In die proses plaas Hy Homself in gevaar. Die storie gaan oor vrouwees in ’n manlikdominante samelewing. In hierdie samelewing red Jesus ’n verworpe en vernederde mens.

Vrouedag en Vrouemaand is ’n vie­ring van die gelyke menswaardigheid van vroue. Die oorsprong daarvan lê in die navolging van Christus. Ons het ver gevorder om aan vroue eer te bewys deur geregtigheid teenoor hulle te laat geskied. Maar daar is nog baie werk. In die wyse waarop ons onnadenkend uitsluitend praat, grappies maak oor vroue, veralgemeen oor vroue se emosies en kwaliteite, aan vroue bepaalde rolle “toeken” – asof daar aan hulle rolle toegeken kan word deur mense met meer gesag – sit ons dikwels onbedoeld, maar nie minder effektief nie, die gevaarlike minderwaardigheid van vroue in ons en ander se denke voort. Vroue mag nie alleen die stryd voer om hulle menswaardigheid te beskerm nie. Daar rus ’n sware plig op mans om Jesus na te volg in sy onverskrokke verbintenis om vroue te eer as gelyke mense voor God.

In Afganistan word die minderwaardigheid van vroue nou op die spits gedryf. Duisende vroue steek byvoorbeeld hulle kwalifikasies weg om vervolging te vermy. Ander vlug vir hulle lewe. Uitsluiting, veral ook van Christus uit hierdie samelewing, het verwoestende gevolge.

Verdeeldheid tussen mense lei dikwels tot skeidsmure van veralgemenings, tot afbrekende persoonlike aanvalle, tot onbegrip, tot die skending van mense se waardigheid. Dit gebeur met goeie en vroom mense, maar ook met robuuste en ongeërgde mense, dat hulle in hulle standpuntinname, dikwels onbedoeld, mense begin kwets, beledig, veroordeel en stereotipeer. Mense word in kampe gejaag, meestal net twee. Dan kan jy dié wat nie in jou kamp is nie tot vyand ver­klaar. Jy kan aan een front veg. Kort voor lank is daar geen genade vir mekaar nie, word die mens nie meer gesien nie, word die pyn van ander nie meer opgelet nie, word die skending van ander se geloofs­integriteit gerasionaliseer, word die miskyk van ander se lyding die heersende kultuur, word jou algoritmiesgeselekteerde inligting­stroom jou totale narratief. Want jy is bui­te sig en buite hoorafstand van die ander, anderkant jou selfgeboude muur, so ver dat mense afskietbare objekte word, alles met die oog op ’n oorwinning vir die standpunte waarin jy glo.

LEES OOK: Gesprek met Lisel Joubert: Kerkwees gaan oor ‘gedeelde gebrokenheid’

Dit is hoekom die storie van Lukas 8 vir my so ekstra merkwaardig is. Want nadat Jesus die vrou bevry het van die veroordeling van die Joodse samele­wing, sit Hy sy tog voort na Jaïrus se huis. Jaïrus was ’n raadslid van die sinagoge. Hy was een van dié wat onrein vroue op hulle raadsbepaalde plek gehou het. Maar Jesus gaan van die insident met die vrou en die Jode, na die Joodse raadslid se huis toe en wek sy kind op. Is dit nie merkwaardig hoe Hy met liefde onderskei nie? Sy weerstand teen die Joodse gesagvoerders maak Hom nie onsensitief vir hulle lyding en nood nie. Hulle word nie objekte van stryd en weersin nie. Sy genade is ook vir hulle genoeg. Jaïrus en sy dogtertjie bly vir Hom mense wat sy liefde, hoe onverdiend ookal, kan ontvang.

Jesus het ons kom red van ons sonde. Hy roep ons op om ons te bekeer. Glo die Goeie Nuus, die koninkryk van God het naby gekom. ’n Voorteken van die ewige koninkryk sal wees as ons mekaar sal nader trek, in die oë kyk, vergewe, nie veroordeel nie, aanhoor en nie name noem nie, mekaar se menswaardigheid beskerm in plaas daarvan om mekaar as binnemense of buitemense, getroues of ontroues, goeies of slegtes te stereotipeer. Ons sal beslis voortekens van die koninkryk van die hemel oprig as ons deur die konstrukte van die samelewing breek en mekaar se integriteit en eer beskerm, en bly omgee, soos Jesus.

  • Ds Nelis Janse van Rensburg is pre­dikant van die NG gemeente Wel­ge­moed en voorsitter van die Algemene Sinode se moderamen.