Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dr Lisel Joubert is bly daar is ’n herwaardering en herbesoek aan sommige van die tradisies van die vroeë kerk byvoorbeeld die ‘skryf’ van ikone soos hierdie twee wat sy ’n paar jaar gelede voltooi het. Foto: Heléne Meissenheimer.

Gesprek met Lisel Joubert: Kerkwees gaan oor ‘gedeelde gebrokenheid’


God het nie regtig hande nie, maar vir die bekroonde skrywer en teoloog dr Lisel Joubert is die woorde, die metafoor, dat sy in die palm van die Here se hand is, dieselfde hande waarmee Hy haar geskep het, genoegsaam, skryf Heléne Meissenheimer.

Ons ontmoet om oor Joubert se jongste boek, Woorde: God Drie-enig in ons taal: ’n Bybelwerkboek, te gesels. Maar sy is ook intussen aangestel as dosent in kerkgeskiedenis by die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch. So daar is baie om oor te praat op hierdie koue, winderige oggend op Hermanus.

Binne die NG Moederkerk se witgepleisterde ou Sondagskoolgebou, wat baksteen vir baksteen ’n klipgooi van die Ou Hawe-museum herbou is, verduidelik Joubert hoekom sy dink dit is van tyd tot tyd nodig om ook die metafore, waarin ons oor God praat, te herbesoek en soms radikaal nuut te verpak.

“Woorde skep werklikhede. Woorde skep werklikheid. Woorde bepaal my wêreldbeeld … my selfverstaan … woorde bepaal my Godsverstaan,” sê Joubert met haar sagte brei-stem. Sy is geklee in ’n fluweelbaadjie en jeans waar ons sit by ’n swaar eetkamertafel van donkerhout omring met mure gevul met geraamde swart-en-wit foto’s uit dié Overbergse kusdorp se verlede.

Sy dink ’n bietjie na. In die stilte is sagte voëlgekwetter hoorbaar en soms stemme, maar ons is te ver om die gedreun van die branders teen die kranse te hoor.

LEES OOK: Mev dominee word hier (uiteindelik) mevrou in eie reg

“So as ek sê ‘ek is klei in God se hande’ of as ek sê ‘die Ou Man daarbo het nou weer so iets gedoen’ is dit twee beelde en dit maak ’n massive verskil hoe ek reageer, hoe ek optree teenoor ander mense … my oë toemaak in die nag.

“Die feit dat jy in pastorale situasies met mense sit wat nou nog dra aan die las van woorde wat 30 jaar terug vir hulle gesê is … woorde het mag,” sê dié leraar wat self vir haar roeping as predikant aan die ontvangkant was van meer kritiek as ondersteuning.

Dit het byna 20 jaar geneem sedert sy haar DTh by Stellenbosch voltooi het tot sy in 2016 in haar eerste voltydse pos as medeleraar by Gansbaai-gemeente aangestel is. In haar eie woorde was Lisel “meer werkloos in die kerk op papier, maar tussenin was ek altyd maar betrokke en dominee in mense se oë met of sonder amptelikheid”.

“Dit het baie jare gevat om te begryp ek het ’n stem en ek maak ’n verskil,” skryf sy in Randfigure: Stemme van toe tot nou, ’n boek wat verlede jaar verskyn het. Sy en mede-redakteur Isabel Murray het ure in die kerkargief deurgebring om in hierdie pragboek ’n stem te gee aan van die sendelingvroue uit die Victoriaanse tyd. Lisel dien op die Sinodale Argief Taakspan en deel van haar nuwe pos as dosent by die Teologiese Fakulteit behels verdere argiefnavorsing, want daar is nog baie ander “randfigure” wie se verhale wag om vertel te word.

As iemand wat hou van krities dink, lees sy “’n klomp goed” wat sy dan graag weer oordra vir haar lidmate … “of dit nou is deur ’n preek of ’n Bybelskool of ’n boek wat ek skryf, ek glo net nie ek moet die goed self hou nie,” sê sy.

In 2015 het Lisel die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir haar debuutwerk Ontmoeting met heiliges ontvang. Daarna het gevolg God van die woestyn: ’n Ruimte van ontmoeting, verrassing en hoop (2015) en Mosaïek van Maria, Miriam van Nasaret: Ingeweef in God se verhaal (2018).

Op die vraag hoe pas ’n voltydse predikant en ma van twee tieners die skryf van vele boeke in by haar vol program, vertel sy ongeërg dat dit nie so erg is as wat dit klink nie. Haar man Deon boer naby Franskraal en haar kinders was al op koshuis en net naweke tuis met een hierdie jaar al op universiteit. “My man het my nog altyd ondersteun,” voeg sy by.

Die ‘nuwe’ covid-normaal beteken ook sy kan vir haar nuwe pos meeste dae van die huis af werk en hoef net ’n paar dae per week op Stellenbosch te wees. Sy doseer Kerkgeskiedenis al ’n paar jaar, ’n vak waarvoor sy hartstogtelik lief is, want sy sê daarin het sy ’n skatkis van kerktradisies ontdek wat oor 2 000 jaar opgebou is.

Sy is bly daar is deesdae al hoe meer ’n herwaardering en herbesoek vanuit ’n Protestantse lens na die mistiek soos beoefen deur die vroeë kerk. Lisel verduidelik mistiek in dié konteks beteken om saam met ander gelowiges in aanbidding en gebruik van die sakramente iets van die misterie van God te beleef. Dit dui nie op ’n individualistiese alleen-ervaring nie, want daarmee het sy ’n probleem.

“Ek dink die erediens moet my interafhanklikheid van die ander bevestig. Ek moet nie eintlik kerk toe gaan vir myself nie – ek gaan kerk toe vir die ander … ek ervaar ons is hopeloos te individualisties vandag. As ’n ding my nie meer pas nie, loop ek. As ek nie iets kry nie, loop ek. Dit gaan glad nie oor my nie – ek gaan kerk toe vir ander mense, soos iemand gesê het sodat ek nooit vergeet ek is nie alleen nie … ek is nie alleen op weg nie.”

Sy glo die kerk gaan oor gedeelde gebrokenheid. “As ek nie die gedeelde gebrokenheid kan sien nie, dan kan ek nie simpatie hê nie en kan ek nie solidariteit hê nie, kan ek nie kerk wees nie. Dis maar hoe ek kerk sien.”

Soos haar tieners wat in Januarie tydens die inperking vir haar gesê het hulle mis die tannies van die kerk wat vir hulle sê “joe, jy het grootgeword!” wat hulle gewoonlik geïrriteer het … “mense kom kerk toe om mekaar te sien”.

Dit is vir haar baie makliker om te sê hoekom sy nog gereformeerd is as hoekom sy nog in die NG Kerk is, maar sy reken die issues wat die kerk het is nie uniek tot hierdie denominasie nie … “almal het dieselfde issues”.

LEES OOK: Diep, toeganklike teologie met poëtiese skoonheid

“Ek glo nogal aan die spesifiekgeit van roeping … ek glo nogal jy is waar jy is. Ek gaan nie loop nie, want dan dink ek miskien ek is beter,” lag sy, “want ek is nie. Ons is almal sinners en broken en al daai stuff. So, wie is ek om te dink ek is te goed vir dié tradisie?”

Só, terug by kerk en hoe ons oor God praat. “Die gereformeerde tradisie sê semper reformanda … ons besoek dit oor en oor,” sê Lisel. Na haar mening is dit heeltemal ongereformeerd om met ’n klipverstaan te werk, en sy glo dit beteken ook ons moet soms die woorde waarmee ons oor God praat herbesoek, want soms raak ons so gewoond aan dieselfde frases oor en oor gebruik dat hulle hulle impak verloor, clichés word. Asof ons God probeer mak maak terwyl party van die mistieke tradisies vir jou sal sê God is anderkant woorde.

“Ek wil net hê dat ons wegkom van die plek waar ons woorde oor God in klip gegiet is … ek dink nie die kerk is die plek waar ons woorde oor God wat in klip gegiet is net ‘aan pass’ van die een generation na die volgende nie. Kerk is die plek waar ons die woorde wat ons het oor God oopbreek, dit as metafore sien, lewend en dinamies en vra maar wat beteken dit vir my vandag dat God goed is of dat God my Vader is?”

En wat as ’n bepaalde metafoor jou ongemaklik maak? Soos om te sê God is ook ons moeder? Joubert meen jou eerste reaksie moet wees om jouself af te vra: Maar hoekom pla dit my?

“Want in my gesprek met myself gaan ek heel moontlik op ’n plek kom waar … my gesprek met my ongemak ’n groeigesprek gaan wees.”


  • Meer oor God Drie-enig in ons taal: ’n Bybelwerkboek, deur Lisel Joubert: Joubert beskryf dit as ’n interaktiewe boek wat op ’n kreatiewe manier die getuienis wat van God in die Bybel is herbesoek. Elke dag het ’n Skriflesing, ’n opdrag en agtergrondskennis oor die teks. Sy gee self die werkboek uit met die kleurvolle voorblad wat deur een van haar kinders geteken is. Die boek kos R100 (posgeld uitgesluit).
  • As jy ’n werkboek wil bestel, kan jy ’n e-pos na Lisel by lisel@kingsley.co.za stuur.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.