Toekomsdrome

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is al ’n cliché om te sê die Covid-19-pandemie het ons ganse bestaan kom ontwrig. Ook om te praat van die “nuwe normaal” klink soos geykte taal. Hoe vinnig hét ons lewe, taal en toekomsverwagtinge nie verander nie?

Maar wat en hoe gaan die nuwe normaal wees? Ek wens ek het geweet, maar helaas is alles nog net te onbekend en te onseker om selfs die nabye toekoms te voorspel. Maar ek dink ons kan tog begin hoop en droom oor die nuwe normaal. Dit kan ons help om te midde van die onsekerhede wat ons tans beleef, te begin rigting vind. My eerste drome lyk min of meer so:

  1. Ek droom dat ons die globale bewe­ging van “ek” na “ons” wat tydens die pandemie ontstaan het, sal kan voortsit. Covid-19 het ons geleer hoe lotsverbon­de ons wêreldwyd is. Die nuwe normaal kan wees dat ons verstaan dat daar baie groter blokke van saamstaan in die wê­reldekonomie en -politiek en in ons land en gemeenskappe kan ontstaan – let wel, nie magsblokke nie, maar kwesbaarheidsblokke … blokke van lotsverbondenheid.
  2. Ek droom ook dat die nuwe normaal ’n ekologies vriendeliker wêreld sal wees. Ek droom dat ons minder van fos­sielbrandstowwe afhanklik sal wees. Dat die klein kykie in die glimlag van die natuur tydens die grendeltyd, soos ’n realiteitstoets almal sal aanspoor om skoon energiebronne ’n prioriteit vir ons toekoms te maak. Blouer lug en skoner riviere en oseane is immers ’n voorvereiste vir die voortbestaan van lewe na Covid-19. Ons sal die huidige tendense in die natuur eenvoudig moet omkeer en ons rol as bewaarders ernstiger moet neem.
  3. Ek sien ook ’n nuwe slim-ekonomie ontwikkel waar groei deur groter verbruik nie meer die dryfkrag is nie, maar groei deur vindingryke gebruik. Sirku­lêre nywerhede en ekonomiese modelle is ’n nuwe paradigma waarin voortdu­ren­de herverbruik ekonomiese kragte ont­sluit wat lewe en werk vir die massas kan verseker (Google: Circular economy).
  4. Ek droom ook dat toegang tot wifi toegevoeg sal word tot die lys van ba­siese menseregte. Met die vierde industriële rewolusie wat nou vir elkeen ’n werklikheid word, is toegang tot wifi vir elke potensiële student en werknemer ’n onverhandelbare vereiste. As jy digitaal kan leer en vaardighede ontwikkel, het jy ’n kans om toegang te kry tot werk, maak nie saak waarvandaan jy kom of waar jy woon nie.
  5. Ek hoop ook dat lewenslange leer, en veral ook binne die kerklike konteks, nou deel sal word van elkeen se lewens­reis. Met die ontploffing van digitale kursusse en leergeleenthede behoort geen mens op te hou leer nie. Al is dit om net weer nuwe vaardighede aan te leer vir die volgende fase van jou lewe. Ek hoop ook dat gelowiges die digitale platforms van die kerk toenemend sal benut om hulle geloofskennis uit te brei. Kategese kan nou ’n lewenslange reis word.
  6. Ek hoop ook dat met ons gebruik van die digitale platforms ons nou sal tuiskom in ’n genetwerkte wêreld. Ons kan immers nou deur digitale platforms met mense verhoudings in stand hou wat voorheen net nie moontlik was nie. Ons kan ook gelyktydig binne verskillende ekosisteme funksioneer. Ons kan dit doen vir besigheids- of ander organi­satoriese doeleindes. Ons kan dit doen ter wille van medemenslikheid en gesamentlike leer. Ons kan byvoorbeeld nu­we soort boek- en besprekingsklubs stig, oor lang afstande. Ons kan ter wille van koinonia met ander gelowiges ons netwerke van Bybelstudie- en kleingroepe veel verder en wyer uitbrei.
  7. Ek droom ook van nog ’n nuwe ekumeniese beweging in die wêreld, waar daar veral op plaaslike vlak interkerklike netwerke van sorg en omgee gebou sal word. As ons nie binne die breë Christelike geloofsgemeenskap netwer­ke gaan bou nie, gaan ons in afsonde­ring net meer kwesbaar word. Daar is nêrens anders om te skuil as in die vertrouensverhoudings tussen gelowiges wat bereid is om in groter geloofsnet­werke saam te dien, versorg en beskerm nie. Nou, tydens die Covid-19-pandemie sien ons immers dat dit op dié plek­ke is waar daar gevestigde ekume­niese netwerke is, dat die hulp en diensbaarheid van die kerk die grootste ge­tuie­nis lewer en impak maak.
  8. Ek droom ook van ’n wêreld wat in die grendeltyd weer die waarde van fa­milie besef het en daarop voortbou. Ek droom van nuwe familiegewoontes van omgee, luister en opregte betrokkenheid by mekaar. Van kinders en kleinkinders wat daagliks kontak met hulle ouers en grootouers sal hê, deur digitale platforms en natuurlik waar dit moontlik is, ook fisies. Ek droom van digitale familiebyeenkomste oor die lengte en breedte van die wêreld. Maar ek droom eintlik van ’n verskuiwing in die waarde­stelsel van die wêreld. Dat die Covid-19-grendeltyd ons geleer het dat al ons verpligtinge en gejaag ons meestal be­roof van ons kosbaarste bates, dié mense wat die Here in ons families en gesinne vir ons gegee het.
  9. Ek sien ’n wêreld ontwikkel waar jou identiteit ten diepste gevorm sal word deur jou oortuigings en jou omgee en sorg vir ander, nie op grond van stereo­tipes en vooroordele nie. En nou wens ek sommer net wild – kan ons dalk ’n wêreld sien sonder rassisme, en sonder polisiebrutaliteit waarin die diepste voor­oordele van mense geopenbaar word? En kan ons dalk ’n wêreld sien met respek vir lewe en menswaardigheid? Ek weet nie …
  10. Tydens Covid-19 help en versorg ker­ke mense soos wat ons lanklaas ge­sien het. Dit is inspirerend en getuig krag­tiger as miljoene woorde. En ons hoor hoe die kerk weer beleef word as ’n bron van hoop en in sy priesterlike gestalte erken word as ’n onmisbare getuie van God se sorg. Ek sien ’n toekoms vir die kerk met minder interne stryde en meer liefde, meer omgee en baie meer geduld.

Kan dit alles gebeur? Of sal dit net drome bly? Wel, binne die huidige omgewing van onsekerheid, gaan die sterkste drome dalk die beste kans op ’n suksesvolle uitkoms hê. So, laat ons droom!

▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die ASM.