Nelis Janse van Rensburg | ’n Nuwe soort politiek

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ons het op 1 November munisipale verkiesings gehou. Ek dink almal was verlig toe dit verby is. Dit was immers ’n tyd vol retoriek en leë beloftes. Dit was ook ’n tyd van plakkate en uitdagende slagspreuke. Na die dramatiese gebeure vroeër vanjaar toe miljarde Rande se skade aangerig is deur oproeriges en diewe, is ons ook maar steeds versigtig vir ’n skielike styging in die politieke temperatuur. Ons is waarskynlik op ’n manier almal bly dat ons die verkiesing oorleef het.

Die vraag is egter of ons met die trek van ons kruisie die plaaslike politiek kan agterlaat. Het dit nie tyd geword vir Christene en lidmate van die NG Kerk in die besonder om weer tot ’n groter mate toe te tree tot die plaaslike politiek nie? Vir geswore Calviniste is dit amper ’n natuurlike ding om te doen. Lê dit dan nie in die DNS van ons geloofstradisie dat ons nie die wêreld van die godsdiens en dié van die publieke ruimte skei nie? Dat ons nie glo in twee ryke, dié van God en dié van die wêreld nie? Dat ons wel glo dat elke vierkante sentimeter aan God behoort en behoort te getuig van sy heerskappy. Was dit dan nie Vader Calvyn wat die burgemeester van Genéve was, wat die stad wou transformeer tot ’n plek waar mense met waardigheid kon leef en floreer nie?

In sy boek ’n Tydsreisigersgids vir Suid-Afrika bied Frans Cronje vier scenario’s aan vir die toekoms van Suid-Afrika. Met een van die kwadrante van sy model beskryf hy sy sogenaamde verbrokkelingscenario. Dit is die kwadrant waarin die staat agteruitgaan terwyl populêre verwagtinge onvervuld bly. Ek dink ons funksioneer tans baie sterk in hierdie kwadrant. Hy het dit mooi beskryf. Dié wat dit kan bekostig bly in sekuriteitskomplekse en skans hulle af met hoë geëlektrifiseerde heinings van die trauma van die samelewing daarbuite. Daar het die geld vir behuising, elektrisiteit en water opgeraak. Werkloosheid neem toe en die infrastruktuur van die land raak toenemend in onbruik.

Die vraag is wat Christene te doen staan terwyl ons in hierdie toestand verkeer. In die gewone politiek soos ons dit ken, gaan dit om mag oor bronne. Maar is daar nie dalk ’n nuwe soort politiek in die land moontlik nie? Spreuke 29:18 sê: “Wanneer daar geen profetiese visioen is nie, word ’n volk bandeloos.” In Engels is dit gepopulariseer as “Without a vision, the people perish.” Hoe ontwikkel ons weer ’n oortuigende visie vir ons land? Kan daar uit die verval ’n nuwe beweging kom? Kan ons die taal van Suid-Afrika verander van magstaal na ’n taal van omgee en sorg vir mekaar? Kan ons uitbreek uit ou hiërargiese denke na denke van ’n gedeelde omgewing en gedeelde bronne en gedeelde geleenthede? Kan ons die mense van Suid-Afrika in beweging bring met die oog op gedeelde sukses en lewensruimte?

Die wyse waarop verreweg die meeste van Suid-Afrika se boere oor die afgelope jare gepresteer het, is inspirerend. Hulle is eenvoudig net uitstekende natuurwetenskaplikes wat op die voorpunt van ontwikkeling staan. Maar dit is die toewyding waarmee daar gewerk word om hulle kundigheid met opkomende boere te deel wat ’n mens amper meer beïndruk. Tydens die onlangse Covid-19-pandemie was die boere se bydraes tot die verspreiding van noodvoedsel ook baie groot. Die wyse waarop boere nou bydra tot voedselvoorsiening aan diegene in nood, is ewe bewonderenswaardig. Die sogenaamde tweede oes, nadat die eerste oes aan die uitsoekmarkte gelewer is, word nou ’n merker vir welwillendheid. FoodForward SA en ander soortgelyke ondernemings verskaf honderde duisende maaltye per maand vanuit hierdie bronne aan honger Suid-Afrikaners. Die punt is dat ons land nie die verbrokkeling gaan omkeer sonder dat welwillende mense hande vat en begin saam dink en werk aan nuwe moontlikhede nie. ’n Mens hoop steeds dat munisipaliteite dienslewering tot hoër vlakke sal neem. Maar ons het ’n nuwe soort politiek nodig waar Suid-Afrikaners met gedeelde waardes en drome saam dink en bou aan nuwe plaaslike bedelings van welwillendheid. Wat die regering en politieke partye wel goed reggekry het, was om die land se mense te verdeel met ideologies gedrewe agendas en rassepolitiek. Daar is van mense wat bymekaar hoort, vyande gemaak. Die een slegte ideologie is vervang met ander slegte ideologieë. Ekonomiese en finansiële besluite is herhaaldelik geneem met agendas wat niks te doen het met die skep van voorspoed en welvaart vir almal nie. Sentrale beheer het die onderliggende motief geword vir alle besluite oor alle sektore van die samelewing. Die staat sal vir alles sorg, dit alles reguleer, dit alles bestuur en almal se behoeftes bevredig. Maar in ’n verbrokkelde staat word niemand se behoeftes bevredig nie.

Hierdie ideologiese kragte is egter nie sterker as die welwillendheid en goedgesindheid van gelowige mense nie. Die verbrokkeling kan teengestaan word, nie net deur die trek van ’n kruisie nie. Dit alleen gaan nie Suid-Afrika regmaak nie. Saam staan gaan, saam bid gaan, saam glo aan ons gedeelde roeping om hier vry en menswaardig te leef, gaan die verskil maak. Ons sal ook moet deelneem aan die sogenaamde vierde vlak van regering. Dit is die gemeenskapsontwikkelingsinisiatiewe waarvoor daar in wetgewing voorsiening gemaak word. Nuwe plaaslike regerings moet almal nou nuwe gemeenskapsontwikkelingsplanne skryf. Dit is oop prosesse waaraan gemeenskappe kan deelneem. Met die regte vaardighede kan hierdie planne so gemaak word dat almal daarby sal baatvind. Dit is nou tyd vir moue oprol. Ons kan, want ons het hoop. Ons hoop is immers in Christus wat ons diensbaar maak en toerus om in elke omstandigheid te getuig van die krag wat daar is in Christus Jesus, die Here.

  • Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG gemeente Welgemoed en voorsitter van die NG Kerk se Algemene Sinodale Kommissie.

One thought on “Nelis Janse van Rensburg | ’n Nuwe soort politiek

  1. Henrietta Klaasing says:

    Geestelike herlewing bring verandering aan gemeenskappe …

    “Feit is dat elke herlewing ‘n enorme sosiale impak gehad het. Min mense weet byvoorbeeld dat skole en universiteite in baie lande gestig is as ‘n direkte gevolg van hierdie herlewing. Die duisende sendelinge wat na die onbereiktes uitgegaan het, het ‘n holistiese benadering tot sendingwerk gevolg. Gevolglik, waar hulle ook al gegaan het, het hulle hospitale en skole begin, landbou bevorder en selfs tot openbare administrasie bygedra. Mense wat deur die herlewing geraak is, het elke vorm van menslike behoefte in hul gemeenskappe begin aanspreek; voedingskemas is vir behoeftiges begin, huisvesting is voorsien vir haweloses en ongetroude moeders; rehabilitasiesentrums vir alkoholiste en prostitute, weeshuise en psigiatriese instellings is gestig, en verenigings vir die beskerming van diere is gestig.” ( aanhaling uit Bennie Mostert se boek “Wanneer God mense nuut maak” – – ’n boek oor die 40 grootste herlewings in die wereld.)

    Die mees blywende maatskaplike en sosiale veranderinge sal kom wanneer geestelike herlewing plaasvind. En dit sal net gebeur waar gehoor gegee word aan Jesus se herhalende oproep: “Bekeer julle en glo die evangelie!” ( Mark 1:15)

Comments are closed.