Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Nelis Janse van Rensburg | Partypolitiek en die Kieswet


Die Grondwethof het aan die regering opdrag gegee om die land se Kieswet te wysig sodat onafhanklike kandidate aan die verkiesing van lede van die Nasionale Vergadering kan deelneem. Die voorstelle wat tans by die president lê vir ondertekening laat egter veel te wense oor, skryf Nelis Janse van Rensburg.

Nelis Janse van Rensburg

Die burgerlike samelewing aanvaar toenemend sy verantwoordelikheid om deel te neem aan die skep van ’n regverdige Suid-Afrika. Dit is nodig, want sedert die dramatiese politieke hervorming van die negentigerjare het die regering al meer mag gegryp. Dit het ook nie by mag in die staatsdiens gebly nie, want die terrein van die burgerlike samelewing is omvangryk betree en ingrypende maatreëls is op die totale gemeenskap afgedwing.

Die Grondwet gee inderdaad aan die regering die mandaat om met regstellende aksie ’n beter demografiese verspreiding van deelname aan die ekonomie en die bestuur van die land te bewerkstelling. Dit word egter op ’n wyse gedoen wat in vele opsigte die slegste moontlike uitkomste vir die armste en mees brose mense van hierdie land tot gevolg het. Die lesse oor die gevolge van sentrale inmenging in die basiese ekonomiese kragte van ’n land sou elders geleer kon word. Die buitengewone hoë werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is egter die getuienis van ’n regering wat nie Ekonomie 101 geslaag het nie en nêrens elders die pynlike lesse van magsbeheptheid geleer het nie.

Van baie vroeg af het die ANC-regering op elke gebied sy bande met die burgerlike samelewing verbreek. As dit nie in onderwys was nie, was dit in gesondheidsorg, landelike veiligheid, grondhervorming of werkverskaffing. Die sentrisme van die regering het die verwagte wins wat ’n geïntegreerde en samewerkende samelewing inhou, vinnig ’n nekslag toegedien.

Nêrens blyk hierdie verwerplike benadering tot regering duideliker as in die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys wat tans oorweeg word nie. Die voorgestelde wet vernietig die mandaat aan ouergemeenskappe met betrekking tot taal- en godsdiensbeleid, toelating tot skole en die aanstelling van personeel. Openbare skole word effektief staatskole met ’n klein bietjie deelname van ouers.

Die burgerlike samelewing het die heelpad weerstand gebied teen die regering se misplaaste pogings om alles te beheer. Dit was egter veral die korruptering van die staat wat die burgerlike samelewing op sy agterpote laat staan het. Hierin het die ekumeniese kerk ’n sterk rol gespeel. Die “unburdening campaign” van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, met die verdoemende verslag wat daaruit gespruit het, is maar een voorbeeld van die baie betekenisvolle bydrae wat die kerk gemaak het tot die burgerlike verset wat uiteindelik tot president Zuma se val gelei het. Burgerregte-organisasies het in dieselfde tyd die Grondwet en die howe benut om die regering tot verantwoording te roep.

Lees meer: Parlement moet ontbind, vra SARK

Die gebrek aan die skeiding van die funksies en mandate van die regerende party, die parlement en die regering in die benadering van regeringslui, het grootliks bygedra tot die omvattende politieke vergrype van die afgelope dekades. Hiervan was kaderontplooiing maar een voorbeeld. Voeg egter hierby die omvattende politieke inmenging in die staatsdiens, en jy besef die politieke krisis waarin ons onsself tans bevind, is maar net ’n logiese uitkoms van ’n ideologiese monster wat sy vernietigingswerk suksesvol gedoen het.

Die regstellende maatreëls wat deur die huidige president ingestel is, is lofwaardig. Maar dit is ook te min, gryp nie genoegsaam in in die struktuur van die ekonomie nie en oortuig niemand dat ons op pad is na ’n beter toekoms nie.

Die vlak waarop politieke partye in ons land funksioneer, is ’n skande. Julius Malema se onlangse uitsprake oor die sogenaamde rewolusie wat onomwonde vereis dat daar een of ander tyd doodgemaak moet word, is maar een voorbeeld van die ineenstorting van die basiese veronderstelling dat politieke partye se eerste funksie is om aan die Grondwet uitvoering te gee en die waardes daarvan te onderhou. Die EFF se boelietaktiek in die Parlement is eweneens ’n verleentheid vir Suid-Afrika.

Lees ook: Nelis Janse van Rensburg| ’n Nuwe soort politiek

Die vlak van politieke aktiwiteit van die politieke partye laat ernstige vrae ontstaan oor die soort nasie wat tevrede is met hierdie soort verteenwoordigers. Maar net toe ons hoop dat daar in die toekoms maniere sal wees om self te besluit wie ons leiers is, ontdek ons opnuut met ’n skok hoe die regerende party niks ontsien om sy mag te beskerm nie.

Die Grondwethof het aan die regering opdrag gegee om die land se Kieswet te wysig sodat onafhanklike kandidate aan die verkiesing van lede van die Nasionale Vergadering kan deelneem. Die regering is tyd gegee tot 10 Desember om die wysigings aan te bring. Die voorstelle wat tans by die president lê vir ondertekening laat egter veel te wense oor. Dit bied nie aan onafhanklike kandidate die geleentheid om op gelyke voet met kandidate van politieke partye mee te ding nie. Aan politieke partye word op ’n proporsionele basis sitplekke in die Nasionale Vergadering toegeken. Maar die stemme wat onafhanklike kandidate op hulleself verenig, tel nie noodwendig dieselfde gewig as dié van kandidate van politieke partye nie. Wanneer, in ’n bepaalde verkiesing, by wyse van voorbeeld, ongeveer 50 000 stemme een sitplek in die Nasionale Vergadering verseker, gegrond op die totaal van 400 sitplekke in die Nasionale Vergadering en die totale aantal uitgebragte stemme, en ’n onafhanklike kandidaat verenig 100 000 stemme op hom of haar, bly die onafhanklike kandidaat se aantal stemme slegs een sitplek werd. Elke stem wat ten gunste van ’n politieke party uitgebring word, tel egter en dra by tot ’n groottotaal wat die party se aantal sitplekke bepaal.

Die hoop in vele kringe was dat die wetswysigings voorsiening sou maak vir ’n gemengde stelsel waar 200 kiesafdelingverteenwoordigers en 200 proporsionele verteenwoordigers die Nasionale Vergadering sou vul. Dit sou ’n baie groter mate van gelykberegtiging inhou. Dit sou waarskynlik ook die verantwoordbaarheid van verteenwoordigers van kiesafdelings verhoog.

Lees ook: Uit Gustav se pen: Reaksie op Verkiesingswysigingswetsontwerp

Die vraag moet ook steeds gevra word tot watter mate LP’s gedwing kan word om volgens die wense van hulle politieke party te stem. Dit is immers LP’s se verantwoordelikheid om in die eerste plek aan die Grondwet en hulle gewete gebonde te wees. Die parlement word in vele van sy oorsigfunksies lamgelê deur die dwang wat partye op hulle lede plaas om volgens partyvoorskrifte te stem. Die land kan dit nie bekostig nie.

Die kerk is deel van die burgerlike samelewing. Ons lidmate is oral in die samelewing aktief betrokke. Ons het nou die geleentheid om op nuwe maniere geregtigheid te bevorder. Die toekoms van die hele nasie is op die spel. Ons demokrasie is deur die politici verniel. Ons mense is verwond en broos. Ons kan nie langer net toekyk hoe die regerende party en ander die hoop van miljoene verkwansel vir mag en eie gewin nie. Ons mag nie hierdie kans vir grondige hervorming laat verbygaan nie.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen en predikant van die NG Gemeente Welgemoed.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Nelis Janse van Rensburg | Partypolitiek en die Kieswet”

  1. Jean Oosthuizen

    Dit is opvallend hoe selektief daar dikwels in die NG Kerk omgegaan word met prinsipiële beginsels.
    Toe die NG Kerk hof toe geneem is oor 2016 se gay-besluit nadat hulle die soveelste keer die rug toegekeer is deur die kerk, was die moderator van die NG Kerk op die voorpunt om daardie onwettige besluit in die hof te verdedig. Daar is selfs in hofstukke aangevoer gays kan maar hulle eie kerk begin as hulle wil trou.
    Maar wanneer die ANC onprinsipieel optree is die NG Kerk gou by om hulle te kritiseer.

    Dit is dieselfde grondwet waaroor Janse van Rensburg nou so hoog opgee se bepalings dat daar nie teen mense gediskrimineer mag word op grond van ras, geslag of seksuele oortuiging nie, waarteen die NG Kerk en sy moderator hulle met alles tot hul beskikking verset het in die hof.
    Hulle het selfs ʼn saak probeer uitmaak vir “billike diskriminasie” en aangevoer dat dit billik is om weens geloofsoortuigings teen mense te diskrimineer.
    Voordat die NG Kerk nie sy eie huis in orde kry en van alle diskriminasie in eie geledere ontslae raak nie, het die NG Kerk hoegenaamd geen morele basis waarop hy die regering kan kritiseer nie.
    Was dit nie dat die hof aan die NG Kerk onder Janse van Rensburg se moderatorskap opdrag gegee het om hulle onwettige besluit oor gays te herroep nie, sou dit vandag nog steeds gegeld het. Hoe op aarde durf hy die ANC kritiseer gegewe sy eie optrede en die van die NG Kerk?
    En was dit nie dieselfde moderator en sy moderatuur wat so paar jaar gelede saam met Julius Malema en sy kornuite gaan tee drink en die foto’s daarvan in die wêreld ingestuur het om te spog daarmee nie? Het die moderator en sy span al met Malema self kontak probeer maak oor die sake waarna hy in sy rubriek verwys? Of was die teedrinksessie maar net ʼn publisiteitsfoefie wat gebackfire het?
    Nee dominee, jy kan nie jou brood aan albei kante wil botter en op die grondwet en die burgerlike samelewing steun wanneer dit jou pas maar dit in die hof beveg wanneer dit jou nie pas nie. Dit werk nie so nie.
    Jy sê “ons mense is verwond en broos” maar wat van die mense in jou eie kerk se wonde en broosheid op wie se menswaardigheid die kerk steeds trap?

    – Kommentaar verkort. – Red

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top