Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Uit die kantoor van dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk:
Die Nasionale Vergadering is naby aan die finalisering van die Verkiesingswysigingswetsontwerp om die nuwe sperdatum van 10 Desember 2022 te haal wat in Junie 2022 deur die Konstitusionele Hof toegestaan is. Die konstitusionele hof het die parlement aanvanklik vier-en-twintig maande gegee om kieswette te wysig om dit vir onafhanklike kandidate moontlik te maak om aan nasionale en provinsiale verkiesings deel te neem. Die parlement het nie hierdie sperdatum gehaal nie.
Terwyl die uitspraak in die aanvanklike New Nation Movement-saak gefokus het op die eng kwessie van onafhanklike kandidate, het dit die deur oopgemaak vir ’n deeglike hersiening van die huidige kiesstelsel, ’n kwessie wat al twintig jaar lank vermy is.
Die leemtes in ’n geslote partylys-stelsel waarvolgens politieke partye totale beheer oor hulle LP’s uitoefen, is by die Zondo-kommissie ontbloot. Dit was ten minste gedeeltelik verantwoordelik vir die Parlement se talle mislukkings om die President, die uitvoerende gesag en staatsorgane tot verantwoording te roep. Hoofregter Zondo het die omvang van hierdie verlies aan aanspreeklikheid blootgelê en ook die wyse waarop dit ander fundamentele grondwetlike beginsels ondermyn het. Só aftakelend is hierdie gebrek aan aanspreeklikheid dat dit regter Ray Zondo genoop het om aan te beveel dat die Parlement dit moet oorweeg om ’n kiesafdeling-gebaseerde, maar steeds proporsionele, kiesstelsel in te stel. Die doel daarmee is om die kapasiteit van LP’s te verbeter om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou.
Dr Aaron Motsoaledi, minister van Binnelandse Sake, het in 2021 ’n ministeriële advieskomitee (MAC) aangestel om hom te adviseer oor opsies vir verkiesingshervorming.
Die ministeriële advieskomitee (MAC), onder voorsitterskap van voormalige minister Valli Moosa, het twee opsies voorgehou. ’n Kiesafdeling-gebaseerde stelsel met 200 enkellid-kiesafdelings en 200 lede wat deur ’n proporsionele verteenwoordigingslysstelsel verkies word, is deur die meerderheid van die MAC-lede verkies. Dit is die model wat die geskikste vir Suid-Afrika is, en het steun vanuit ’n wye front burgerlike organisasies gekry.
Die minderheid was ten gunste van wat die “minimalistiese” opsie genoem word, wat bloot poog om onafhanklike kandidate toe te laat om in verkiesings mee te ding onder die huidige suiwer proporsionele verteenwoordigingslysmodel. Dit poog om so min as moontlik te doen om die stelsel te verander, terwyl daar gehoop word dat dit die hof se oordeel sal bevredig. Daar is geen soortgelyke model iewers in die wêreld nie – niemand anders het gedink dit is ’n goeie idee nie.
Om onafhanklike kandidate behoorlik en regverdig te akkommodeer, asook om vlakke van aanspreeklikheid te verbeter, is dit duidelik dat een of ander vorm van kiesafdelingstelsel nodig is. Die konsepwetsontwerp wat tans voor die Parlement lê, is egter gegrond op die “minimalistiese” opsie – dit is inherent onregverdig teenoor onafhanklike kandidate, terwyl dit gunstig is vir veral groter politieke partye.
Dit het twee fundamentele gebreke. Eerstens ondermyn dit die kernbeginsel dat alle stemme van gelyke waarde moet wees – as dit byvoorbeeld 50 000 stemme vereis om ’n setel te verseker, en ’n onafhanklike kandidaat kry 200 000 stemme, sal een setel toegeken word en 150 000 stemme sal “vermors” word. ’n Politieke party wat dieselfde 200 000 stemme kry, sal waarskynlik vier of dalk selfs vyf setels kry!
Tweedens is daar ’n voorstel in die wetsontwerp dat om te kwalifiseer om in ’n verkiesing te staan, ’n onafhanklike kandidaat ongeveer 11 000 handtekeninge en ID-nommers van kiesers moet kry – dit is ’n buitengewoon hoë drempel vir deelname. ’n Politieke party het net 1 000 handtekeninge nodig om by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer te word.
Die wetsontwerp laat min tyd vir betekenisvolle openbare betrokkenheid. Dit is baie duidelik dat politieke partye, veral dié wat tans in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is, weerstand bied teen beduidende verkiesingshervorming. Nadat die Wetsontwerp na die Komitee vir Binnelandse Sake verwys is, is openbare voorleggings, skriftelik en mondeling, deur die komitee ontvang. Kort nadat hierdie oefening voltooi is, het ’n haastig gereëlde provinsiale openbare deelname aan die gang gekom. Die publiek is nie voldoende van hierdie verhore in kennis gestel nie, en hulle is ook nie genoeg tyd gegun en inligting gegee om betekenisvolle voorleggings te maak nie. Anekdotiese bewyse toon dat verskeie deelnemers bloot geskrewe boodskappe ter ondersteuning van die wetsontwerp voorgelees het. Dit is dus waarskynlik dat die Parlement sy grondwetlike plig versuim het om openbare betrokkenheid by sy wetgewende prosesse te fasiliteer.
Die stadige pas deur die Parlement en die minister wat opgetree het om die Kieswet te wysig, het ’n potensiële krisis geskep. Die OVK het aan die Konstitusionele Hof gesê dat die wetsontwerp vanjaar nog deur die President aanvaar en goedgekeur moet word as hulle genoeg tyd wil hê om voor te berei vir die volgende verkiesing, wat tussen 22 Mei en 14 Augustus 2024 gehou moet word.
Die scenario’s wat hulleself voordoen is dus soos volg:
- Die wetsontwerp, grootliks in sy huidige vorm, word deur die Parlement aanvaar. Daar sal waarskynlik ’n grondwetlike uitdaging uit sekere oorde geopper word, indien dit in sy huidige vorm aanvaar word.
- As die Konstitusionele Hof die wetsontwerp as ongrondwetlik verklaar, sal dit beteken dat die Parlement die proses opnuut sal moet begin, wat verdere vertragings sal veroorsaak. In hierdie scenario kan dit moontlik wees om die hof te oorreed om sy ‘inlees’-magte te gebruik om die gebreke in die Wetsontwerp reg te stel – dit sal toelaat dat die 2024-verkiesing op ’n wettige wyse plaasvind. Dit sal gekombineer moet word met die invoeging van ’n “sonsondergangklousule” in die Wetsontwerp wat bepaal dat die kiesstelsel slegs vir die 2024-verkiesing toegepas sal word, en dat die Parlement steeds betyds vir 2029 met ’n sinvolle proses van verkiesingshervorming moet begin.
- Die Parlement kan kondonasie van die Konstitusionele Hof vra om die 2024-verkiesing volgens die huidige stelsel uit te voer met ’n vaste verbintenis deur die Parlement dat ’n behoorlike hersiening van die kiesstelsel gedoen word, en dat ’n nuwe verkiesingsmodel betyds gereed sal wees vir die 2029-verkiesing.
Dit kan nie bekostig word om die 2024-verkiesing op risiko te plaas nie. Verkiesings is die lewensbloed van ons grondwetlike orde, wat die toekenning van magte en verantwoordelikhede aan regeringsinstellings, veral die wetgewer en die uitvoerende gesag, voed.
Hierdie is ’n eenmalige geleentheid om ons kiesstelsel reg te kry. Politieke partye het inherente konflikte in die keuse van die spelreëls. Dit is gewens dat dit die kiesers is wat die kiesstelsel bepaal deur ’n omvattende en bevredigende proses van openbare deelname.
Verskeie geleenthede is deur burgerlike samelewingsorganisasies gereël om ’n beter begrip van die huidige wysigingswetsontwerp te kry. Deurgaans is tot die gevolgtrekking gekom dat die wetsontwerp, soos dit tans daar uitsien, gebrekkig is en talle uitdagings bied.
Die fundamentele probleem met ons huidige kiesstelsel is dat lede van die parlement nie direk deur die mense gekies word nie. ’n Stelsel wat voorkeur moet geniet, is een waar die kiesers geleentheid kry om verteenwoordigers direk te verkies. Hulle moet ook deur die kiesers aanspreeklik gehou word en dit moet moontlik wees om goeie oorsig oor hulle funksionering te uit te oefen.
Verteenwoordigers in die Parlement moet daarom direk verantwoordbaar wees teenoor die kiesers in hulle gemeenskappe en kiesafdelings. Hulle behoort nie net aan hulle politieke partye te rapporteer en die belange van daardie partye te verteenwoordig nie, maar moet primêr rekenskap kan gee aan diegene wat hulle verkies het. Dit is die belangrikste boustene van ons demokrasie en dra gesag in ons Grondwet.
Dié Wetsontwerp ignoreer die bevindinge van ’n reeks statutêre kommissies oor twee dekades, insluitend die 2003 Frederik van Zyl Slabbert-verslag, die 2006 Parlementsverslag, die 2017 Kgalema Motlanthe High Level Commission en die Zondo-kommissie se verslag.
Met die voorgenoemde in gedagte, is burgerlike organisasies van mening dat die Wetsontwerp ernstige leemtes het. Die kiesstelsel moet in belang van die publiek wees en verkiesingshervorming moet geloofwaardig, regverdig en inklusief plaasvind. En dit moet groter openbare aanspreeklikheid bevorder.
Die NG Kerk sal vertoë rig om te verseker dat ’n betekenisvolle verkiesingshervormingsprogram geïmplementeer word na voldoende openbare konsultasie. Die kerk sal haar steun uitspreek vir die implementering van ’n gemengde enkellid-kiesafdeling en lysstelsel soos uiteengesit in die meerderheidsverslag van die MAC.
