Mense kry swaar.
Dít het ek opnuut besef nadat ’n eenvoudige gediggie wat ek op facebook geplaas het, soos ’n veldbrand versprei het. Dit vertel van die herfs en die blare wat val, verwys na sterftes en siektes wat meer word en eindig met die reël: dis besig om ’n verskriklike winter te word.
Daarmee kon mense assosieer. Hulle voel ’n verskrikking aan. Hulle kry swaar. En omdat die mense swaarkry, kry hulle begeleiers, die dominees, swaar. Dominees wat begrafnis op begrafnis moet hou, wat families moet bemoedig terwyl hulle self moedeloos voel, wat hoop moet gee wat hulle self min van oor het.
LEES OOK: En die dood is mooi
Die dood loer nie meer van ’n afstand af oor ’n heining na ons nie. Hy is hier tussen ons en dit voel of hy maak wat hy wil.
Dit lyk vir my of ons meer oor die dood sal moet praat as ons deur hierdie seisoen wil kom.
Veertig jaar gelede in ’n sielkundeklas op Tukkies, het ’n dosent ons vertel van die Nederlandse sielkundige JH van den Berg en die “neurotiserende faktore” wat hy geïdentifiseer het. Dit is samelewingsfaktore wat bydra om neuroses te veroorsaak, wat daartoe lei dat mense en die samelewing self siek word.
Die neurotiserende faktore sluit dinge in soos dat mense meer mobiel geraak het, daarom meer oppervlakkige kontak met ander mense en minder diep verhoudings het. Of die toenemende welvaart wat mense so selfstandig laat voel dat dit later tot eensaamheid lei.
Die een faktor wat destyds al ’n groot indruk op my gemaak het, was Van den Berg se waarneming dat die dood uit die samelewing verwyder is.
LEES OOK: Ruim sélf op – voor jy doodgaan
Die dosent het dit só aan ons verduidelik: Dink hoe was dit ’n paar geslagte gelede. Mense het op die plaas gebly en as die einde vir Oupa aanbreek, dan sterf hy daar in die opstal op sy bed met sy mense om hom. Dan word die lyk daar deur die familie self uitgelê. Die kis word van die solder af gehaal en die familie lê self vir Oupa daarin neer. Die graf word ’n entjie van die huis af in die familiebegraafplaas gegrawe en daar word Oupa ter ruste gelê. Die familie is by die hele proses betrokke. Hulle hande werk met die dood.
Intussen het die samelewing so verander dat die dood ’n vreemdeling geword het. As iemand nou siek word, word hulle hospitaal toe geneem, en agter glasmure in intensiewesorg-eenhede verpleeg. Hulle word grootliks van hulle families geïsoleer, en nou met Covid-19, soveel meer as ooit tevore. As so iemand sterf, kom haal die ondernemer die lyk en versorg dit. Die familie sien dalk net die kis as die persoon dae later begrawe word. Hulle is toeskouers.
Waar die dood vroeër ’n bekende en normale deel van die lewe was, het dit nou die groot onbekende geword, en daarom iets skrikwekkends.
Die boodskap wat ek in die sielkundeklas oor die dood gekry het, is op ’n ander wyse versterk toe ons kort daarna Uys Krige se drama Die goue kring in die Afrikaanse klas behandel het. Dit gaan oor ’n Spaanse gemeenskappie wat dit regkry om die Dood gevange te neem. En met die Dood ’n gevangene, sterf niemand meer nie. Vir die gemeenskap is dit ’n groot vreugde.
LEES OOK: ‘Daar is werklik engele om ons,’ vertel skrywer ná haar dogtertjie se dood
Maar mettertyd verneem hulle van vroue wat in barensnood is, maar nie geboorte kan gee nie. En siekes wat ly weens pyn, wat nie kan sterwe nie. En hulle besef dat die lewe nie kan voortgaan sonder die dood nie. In die woorde van hulle biskop: “… dat die lewe geen sin het sonder die dood, dat as daar geen dood meer is nie, daar ook geen lewe meer kan wees nie.”
Nou loop die dood daagliks tussen ons rond en dit is vir ons ’n skrikwekkende ervaring. Ons ken dit nie, want die mediese wetenskap het so gevorder dat die dood minder algemeen geword het. Kindersterftes, wat vroeër ’n bekende verskynsel was, kom baie minder voor. Lewensverwagting is baie hoër as ’n eeu of wat gelede.
Die dood was op ’n manier ver van ons af. Maar nou het dit verander, en dis verskriklik.
Miskien moet ons meer oor die dood praat, sodat ons iets kan herwin daarvan dat die dood ’n normale deel van die lewe is. Ons moet immers almal eendag sterf. Niemand kan dit systap nie. Ons moet die onuitgesproke verwagtinge teëwerk dat die dood eintlik ver is, dat dit ’n uitsondering is.
Dit beteken nie dat ons nie moet hartseer wees as iemand naby aan ons sterf nie. Natuurlik nie. Ons móét treur. Maar die dood hoef ons nie angsbevange of wanhopig te laat nie.
Dit beteken ook nie dat ons die dood op maniere moet wegpraat of ontken nie. Glad nie. Ons moet die werklikheid van die dood in die oë kyk.
En terwyl die dood in die Bybel meermale die simbool word van alles wat boos of sleg is, bely gelowiges mos dat die dood oorwin is. Saam met Paulus kan ons vra: Dood, waar is jou angel?
Die besef dat die dood onlosmaaklik deel van die lewe is, dat dit ’n normale verskynsel is, dat dit iets is waarmee ons moet saamleef, kan ons dalk help.
Ek besef dit is nie ’n kitsoplossing vir die emosies wat mense nou beleef nie. Nou kan ons maar net probeer om mekaar lief te hê, al is dit op ’n afstand van 1,5 m.
Maar op die duur kan ’n beter begrip van dood en die plek van die dood in hierdie lewe, ons dalk help om ’n gesonder gemeenskap te word. Daarom moet ons meer oor die dood praat.
dit was ’n vreemde herfs
met blare wat net aanhou val aanhou val aanhou val
toe die sekelswaaier ’n draai kom maak het
om ’n ma van skoolkinders te kom haal
vier huise laer af in die straat
het daar ’n dik krakerige kombers op die sypaadjie gelê
en die blare het net aanhou val aanhou val
terwyl die berigte net aanhou kom en aanhou kom
nou is dit ’n aktrise dan ’n rugbyspeler ’n sakeman
die blare verstop die geute
nog ’n ouerpaar is ’n paar dae na mekaar weg
nog vriende is in isloasie
nog kennisse gaan lê
die syfers klim
die blare val
dis besig om ’n verskriklike winter te word
- Neels Jackson is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.
Baie goed raakgevat – empaties geskryf en met sagte blik op ons paadjie(s) vorentoe. Dankie!