Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Maricus le Grange op sy gelukkige plek: agter die orrel. Foto: Neels Jackson

Orrelmaraton in Pretoria: Vir die liefde van die orrel


As Maricus le Grange agter die orrel inskuif, borrel die vreugde deur hom. ’n Mens hoor dit in note wat lig dans, in dawerende crecendo’s en in meesleurende melodieë – in musiek wat uitdrukking gee aan ’n wye spektrum van emosies.

Maricus is lief vir die orrel, en dit is daardie liefde wat hy met ander mense wil deel. Hy wil mense se hart vir die orrel wen.

Daarom dat Maricus, orrelis van die NG gemeente Stellastraat in Pretoria, verlede jaar tydens die grendeltyd kragte saamgesnoer het met Rolf Rencken, orrelis van die buurgemeente Lynnwood. As die Organ Buddies het hulle ’n reeks aanlyn orrelkonserte gehou. Dié konserte is steeds op YouTube te sien.

 

 

Nou is daar ’n nuwe projek in die vooruitsig. Op Saterdag 6 November wil Maricus, saam met enige ander orreliste wat wil deelneem, ’n orrelmaraton hou. Die idee is om ’n kameraderie onder orreliste te bevorder. As ’n mens kan wegkom van die onderlinge kompetisie en die elitisme wat daar soms onder orreliste bestaan, kan hulle soveel beter saamwerk om die liefde vir orrelmusiek te bevorder, meen Maricus.

LEES OOK: Die heilige klanke, nuwe geleenthede en moeilike besluite wat ou orrelis vir moderne gemeentes bring

Hy nooi enige orrelis om hom te kontak en ’n program voor te lê van musiek wat hy of sy tydens die maraton wil speel. Dit kan ’n program van vyf minute wees of ’n program van ’n uur, of enigiets tussen-in.

Die gedagte is om die program dan ’n week vooraf te publiseer sodat mense wat na hulle orrelis wil kom luister, kan weet wanneer hy of sy speel – en dan hopelik ook na ’n paar ander orreliste ook te luister. Dié slag gaan hulle nie die musiek uitsaai nie, want hulle wil hê mense moet kom om daarna te luister.

LEES OOK: NGK gee Kimberley-kerkorrelis vlerke

Die maraton gaan in Stellastraat se kerkgebou op die gemeente se Walcker-orrel gespeel word. Maricus vertel dat die orrel in 1958 gebou is en in 2017 vergroot is. Toe het hulle vier pypreekse bygevoeg, waaronder ’n 16 voet fagot. Nou het die orrel 24 pypreekse en 35 registers. Nadat hy ’n paar sommetjies gemaak het, sê Maricus die orrel het nou 1 708 pype. Hy noem dit ’n “redelike groot orrel”.

Vir meer besonderhede kan belangstellendes Maricus by maricus@stellastraat.co.za kontak.

  • Neels Jackson is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.