Schalk van Heerden en die brûe wat hy bou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Ek is baie meer skaam om te sê ek is ’n dominee, as ’n kerk­kantoortannie,” sê Schalk. “Dit is vir my die grootste embarrassment waarvan ek vir meer as twintig jaar probeer wegvlug het, en nou moet ek dit doen, en dis vir my ’n kruis wat ek moet opneem, want ek weet in watse boksies sit ek iemand as ek hoor hy sê hy is ’n dominee.”

Schalk van Heerden het vir tien jaar in Mosambiek gewoon. Terug in Suid-Afrika besluit hy om weer deel te word van ’n hoofstroomkerk. Die naaste NG Kerk aan sy nuwe woonplek in Randburg was Fontainebleau Gemeenskaps­kerk. Die gemeente het geadverteer vir “’n kerkkantoortannie”. Schalk het aansoek gedoen en die pos gekry.

“Ek het al baie snaakse goed in my lewe gedoen,” sê hy, “en dit is seker een van die moeilikste goed ooit!”

Schalk is gebore in die Vrystaat en het grootgeword in Natal. Sy pa was ’n boer. Na skool het hy teologie gaan swot en daarna ontwikkelingstudies.

“Ek was die enigste wit, Christen, Afri­kaanssprekende man, wat vleis eet in die klas, ek was alles wat hulle gehaat het. Ek het eers besef hoe konserwatief ek is, toe ek saam met die rêrige liberals swot,” lag Schalk. Hy het later ’n dosent geword in ontwikkelingstudies.

Hy vertel hoe hy doelbewus homself dikwels in moeilike situasies sit. Deels omdat hy glo dat ’n mens groei op ongemaklike plekke wat jou uitdaag, maar ook omdat hy voel dat ons brugbouers moet wees.

Schalk het na sy studies vir amper tien jaar op ’n klein dorpie in Mosambiek gaan woon, waar hy op minder as R2 000 per maand geleef het.

In ’n onderhoud met die Financial Times sê hy: “I spent my gap year working on an agricultural project in Mozambique. Eventually I decided to go back there full time, leaving South Africa, where I’d grown up. I had very little money, and I slept in a tent for the first three weeks. Eventually, I made a friend in the town who gave me a room … at the back of a butchery – it stank of rotting meat. At the lowest point, I had no money and even resorted to eating my toothpaste. My South African friends laughed at me.”

Roelf Meyer het Schalk op RSG hoor praat, hom gekontak en saam begin hulle toe FSSA (Action for a Safe South Africa), wat via sport betrokke is by jeug in die townships – en onder andere ook werk onder renosterstropers in die Kruger / Mosambiek-oorgrenspark.

Behalwe vir “kerkkantoortannie”, dominee en Schalk se betrokkenheid by FSSA, is hy aan die stuur van Betereinders.

“Ons is eintlik skaam oor hoe eenvoudig ons plan is,” verduidelik Schalk. Dit gaan oor “staan saam” – die verhoudingselement – en “werk saam” om aktief ’n verskil te maak. Suid-Afrika­ners moet eers inspring, mekaar leer ken en verstaan voor ons kan leer saamwerk. Armoedeverligting is ook ’n groot doelwit van Betereinders.

“’n Klomp slegte dinge broei uit as mense nie werk het nie,” sê hy.

Betereinders trek elke jaar op Versoeningsdag ’n laer in die townships, en braai dan saam met die plaaslike mense. Sommer net om saam te kuier, maar ook om te wys hoe baie dinge al veran­der het van Bloedrivier se dae af, en om saam te droom oor ’n beter toekoms.

“Ons liefde van God en Jesus moet translate in die konteks van ons land en rasseverhoudings en geregtigheid, ek kan nie integriteit hê in ’n klein wegge­steekte estate of babbel en sê dís my Christenskap nie,” sê hy.

Waarom is hy na al die jare terug in die NG Kerk?

Hy verduidelik dat ’n mens nie bloot jou passie kan uitleef nie, jy het ook ’n plig. Dinge wat jy eenvoudig moet doen. ’n Tipe roeping. Hy het grootgeword in die NG Kerk, maar het vir lank alle bande met hoofstroomkerke verbreek. Vandag is hy terug want hy glo dat jy nét ’n brugbouer kan wees in hierdie land as jou voete aan beide kante van ons verdeelde samelewing gegrond is. Sy voete is lank reeds in die townships … en die NG Kerk verteenwoordig (steeds) die ekstreme ander kant.

Hoe gereeld raak jy moedeloos? vra ek.

“Drie maal per dag, elke liewe dag,” sê Schalk, “en ek praat van ’n diep diep moedeloosheid, ’n eksistensiële krisis tipe moedeloosheid. Hoe ek my lewe en my roeping die beste kan verwoord is: Jy is ’n Springbok en speel in Wellington teen die All Blacks, daar is tien minute oor, jy is 40 punte agter, jy weet jy gaan hierdie wedstryd verloor, maar jy moet steeds tackle, steeds aanhou seerkry al weet jy jy gaan nie wen nie.”

Schalk sê te veel mense wil uitreik en betrokke wees by liefdadigheid omdat hulle wil wen.

“Eers wanneer jy verstaan dat jy gaan verloor, kan jy die beauty daarin sien om aan te hou probeer.”
Daar is seker darem ook ’n klomp mooi stories wat hom hoop gee?

Schalk sê daar is, veral verhale van mense wat op die grond ’n verskil maak, maar die grootste motivering om ’n lig te probeer wees, is die duisternis, al die moeilikheid in ons land.

“Hoe meer moedeloos ons is, hoe harder moet ons werk,” sê hy. “Die be­diende moet elke dag die toilet skoonmaak al hou die baas aan om daarin te poef, jy het nie ’n keuse nie, dis jou plig.”

Dit is hoe moeilik en eenvoudig die boodskap van die evangelie vir Schalk van Heerden is. Na ons gesprek dink ek: Suid-Afrika sou vandag ’n beter plek wees as meer dominees kerkwees soos hierdie ou verstaan het.

  • Ds Jaco Strydom is predikant by die NG gemeente Villieria in Pretoria.