Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die groep Prophet is vanjaar nege en dertig jaar oud. Jaco Strydom het vir Theo Geyser (regs) en Koos van der Merwe gevra, waar het alles begin? Foto: Karin Amm

LEES EN LUISTER: Die ‘profete’ is terug – en hulle vlei nie

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Theo Geyser en Koos van der Merwe van die groep Prophet gesels met Jaco Strydom oor hulle nuwe album wat kyk na “die donker ding diep in ons almal”.

“Ons het ontdek dat die Koronavirus mense se smaak aantas, ook hulle musieksmaak,” lag Theo toe ek hom gelukwens met hulle nuutste album Die Kolonie se sukses.

Dit het ’n paar weke terug gebeur. Ek het dit op sosiale media gesien, en besluit om vir myself te gaan loer of dit waar is – of Koos en Theo nie dalk ’n grap maak nie. En dit wás so. Die Kolonie was nommer een in Suid-Afrika op Apple se iTunes. Eers dog ek, ek het verkeerd gekyk, dit is sekerlik die lysie van die Gospel-musiek in Suid-Afrika. Maar hulle was heel bo, bo alles, selfs bo Justin Bieber en ’n lot ander wêreldbekende bands.

Nou en dan gebeur dit dat ’n album vir ’n paar uur bo is aan die lys, dink ek. Maar ’n paar dae later was hulle steeds bo, heel bo, nommer een in Suid-Afrika.

“Toe Koos my bel om my dit te vertel, het hy opgemerk dat dinge van hier af net kan agteruitgaan, af onder toe,” sê Theo, “en dit hét!”

Wat het aanleiding gegee tot hulle besluit om weer ’n album op te neem? ’n Volle sestien jaar het verloop sedert die laaste Prophet-album.

“Wanneer die tyd kom om iets te sê, weet ’n mens dit net,” sê Koos. “Na jare dat mense ons vra om weer iets op te neem, was dit net die regte tyd. Miskien ontnugtering tydens Covid-19 en die vreemde en korrupsieverwante nuusberigte. Dalk ook die eerlike wete dat die donker in ons almal is, ons kolonia­liseer, vat wat ons wil hê, al maak dit ander arm en stukkend.”

LEES OOK: Podsending: ‘Ek vind ’n Christelike familie in Rusland’

Theo vertel hoe hulle laasjaar by die Stellenbosch Woordfees iets gesing het voor ’n Johnny Cash-show, en sommer net geweet het hier kom ’n ding. Dieselfde naweek is die grendeltydperk aangekondig vir Covid.

Koos van der Merwe is in Pretoria gebore, was in ’n klomp skole en het gematrikuleer in Edenvale. Hy woon vandag op Wildernis. Theo Geyser woon die laaste 21 jaar op Stellenbosch, hy is in Heidelberg gebore en het grootge­word op Standerton.

Hulle is albei vandag voltydse leraars by gemeentes. Koos by Eden-gemeente op George en Theo by InVia op Stellenbosch en in Kaapstad.

Hulle sien mekaar eintlik heelwat, vertel Koos, selfs toe hulle vir sestien jaar nie saam opgetree het nie, want hulle is soort van familie, hulle is “swaere”, want hulle is met twee susters getroud.

Prophet is hierdie jaar nege en dertig jaar oud. Waar het alles begin?

“Ek het Koos ontmoet deur my broer wat saam met hom op Kweekskool was,” vertel Theo. “Die gemene deler was eers visvang, en langs die waters het daar diep openbarings plaasgevind wat onwetend Prophet sou voorberei vir hulle roeping. Die ontstaan was onbeplan. Een Sondagmiddag nadat Koos in Kemp­tonpark moes gaan sing het, vra hy my om saam te gaan. Ek het in ’n grap geantwoord: ‘Ek sing net in bands, so wat is ons naam?’ Koos het instinktief geantwoord: Prophet! Net dit. Daar was geen diep openbarings of verskuilde betekenisse nie.”

Theo sê hy het eintlik vir Koos jammer gekry en wou hom graag help. “In 1982 het ek uitgereik na ’n armsalige teo­logiestudent …” lei Koos se weergawe.

Prophet se Theo Geyser (links) en Koos van der Merwe. Foto: Karin Amm

Die eerste jare was vol uitdagings. Die liedjie “Houtkruis” het goed afge­gaan by die meeste kerkmense, maar voor dit was hulle dikwels in die moeilikheid. Theo en Koos moes voor tugkomitees verskyn, kerkmense het uitgestap ty­dens hulle optredes, radiostasies het geweier om hulle musiek te speel.

“As jy nege en dertig jaar gelede op ’n kansel staan en jy sing die Hoender-liedjie, wat gaan oor hoe Petrus moes voel elke keer as hy ’n hoender hoor … Dit was net ek en Koos wat hoender­vleis gekry het oor ons eksegese. Verskriklik baie mense het uitgeloop, en toe was daar ’n tannie wat ’n besonderse openbaring gekry het en ’n brief geskryf het aan al die sinodes om te sê ons het die gees van die Antichris,” vertel Theo.

Dinge het soos in die res van Suid-Afrika ook vir Prophet begin verander teen 1994. Koos en Theo was skielik toegegooi onder die uitnodigings vir optredes.

Hulle vertel dat hulle by erg uiteenlopende gemeentes opgetree het. “Van die konserwatiewes het van ons gehou, want hulle het gedink ons lewer kritiek op die Charismatiese kerke, en die ander het weer gedink ons lewer kritiek op die verkramptes en konserwatiewes,” lag Theo.

Ek vra oor die nuwe album.

LEES OOK: Video: Só het NG Kerk verander – Neels Jackson

Koos verduidelik dat Die Kolonie ten diepste gaan oor die donker ding diep in ons almal, dat jy jouself die reg kan toeëien om in te palm wat jy wil hê, al doen dit ook hoeveel skade. Die bose behoefte om te kolonialiseer, om vir ons self te vat, al maak dit ander om ons seer. Die liedjies probeer eintlik iets verwoord oor dit wat verkeerd loop in ons almal.

Die behoefte om te kolonialiseer is oral in die geskiedenis, ook vandag, in elke mens, in die kerk, in van romantiese verhoudings tot in die groter politieke en ekonomiese magsisteme, sê Koos.

Die album vra vrae oor ons eie hart, oor politici wat sê hulle gee om vir die armes, maar hulle uitbuit, oor kerke wat liefde verkondig, maar te dikwels ook net die magspel speel.

“Strate van goud”, ’n lied op die album, is geïnspireer deur Koos se seun­tjie. Hy het destyds na ’n uitsending van ’n televisieprediker gekyk wat mense uitbuit en hulle probeer kry om geld op hulle kredietkaarte te stuur “sodat die Here hulle kan seën”. Sy seuntjie het gesê: “Pappa, maar dis mos nie reg nie?” En net daar is die lied by Koos gebore.

Na die podcast, luister ek na Die Ko­lonie terwyl ek iewers heen ry, my ge­dagtes dwaal, ek dink weer aan Koos se woorde: “As ’n mens sê jy het ’n issue met die kerk, moet jy besef jy is self die kerk, jy het ’n issue met jouself.”

  • Ds Jaco Strydom is predikant in die NG gemeente Villieria in Pretoria.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.