Beeldspraak, metafore en ‘om die smaak van God in die mond te kry’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Metafore is nie net vir letterkundiges bedoel nie, sê die teoloog, digter en vertaler Cas Vos aan Marileen Steyn. Dis vir elke gelowige wat oor God nadink.


Verbeel jou ’n tafel vol geregte. Proe die pampoen, die skaap­vleis, die rys, daardie sous. En dan moet jy kies: Wat gaan jy in jou bord skep? Hoe gaan jy skep van dit wat voor jou is om ’n koningsmaaltyd te vorm?

Dít is hoe prof Cas Vos oor taal en tekste praat. Oor die woorde wat uitgesprei op ’n tafel lê vir ’n digter, ’n prediker, ’n gelowige, ’n mens om van te kies. Woorde is die disse wat sinne verbind in metafore, ironie en retoriese strategie om die taal te vorm waarmee ons ons wêreld beskryf, waardeur ons droom.

LEES OOK: Anandie Greyling gesels met dr Stéphan van der Watt

Dit is wat metafore doen: Dit help die mens om te verbeel. “Metafoor is die verbeeldingsvonk. Dit is die vonk in die hand van die digter wat aan die brand steek en lig gee,” verduidelik Vos. “Dit leer ons om met verbeelding te dink, te lewe en om te droom oor die nuwe hemel en aarde.” Vos beskryf die mens as visioneel. As sintuiglik. Met groot respek waag hy die stelling dat dit deur metafore is wat ons “die smaak van God in ons mond kry”.

Hy verwerp taal wat onderskeid tref tussen die transendente (bo en buite) en die immanente (tussen ons). “Nah-ah,” sê Vos. “God is nie op ’n solder nie.” Hy praat dan van die poreuse werklikheid – ’n metafoor vir die ‘gate’ waardeur God konstant beweeg om deel van ons wêreld te wees.

Een van die belangrike elemente van metafore is om te weet dat daar altyd ’n “is” en ’n “is nie” in ’n metafoor lê. God is die standvastige Rots, maar God is nie ’n rots nie. God is die Goeie Herder, en tog is God geen herder nie. God is die beskermende moeder van Psalm 91, maar so ook beteken dit nie dat God ’n vrou is nie.

Te midde van hierdie “is” en “is nie” lê die realiteit dat die mens nie oor God, die Onsienbare, kan praat sonder om in metafore te praat nie. Ook kan God nie net deur een metafoor verduidelik word nie, maar eerder deur ’n ryke verskeidenheid van sprankelende metafore – metafore wat “flonker en flikker en glans”. Die tema van lig kom sterk uit wanneer Vos oor metafore praat. “Metafore wil nie verduister nie,” sê hy, “maar verhelder … Dit is nie selfsugtig nie, maar deursigtig.”

Daarom kan daar nie gepreek word sonder om metafore te gebruik nie. Dit gaan nie net daaroor om intellektueel iets van God te kan verstaan nie, maar ook emosioneel. “So kan en moet ons oor God dink en praat.” Dit is taal wat in die kerk hoort, “máár,” benadruk Vos, “ook buite die kerk. Mense wag om meer van God te sien.” Só word die gebruik van metafore ’n getuienis. “Metafoor help ons om troos te ervaar en te gee. Om te skink en te drink.”

Is ons egter beperk tot Bybelse metafore? Totaal en al nie. Vos verwys dadelik na Van Wyk Louw se aangrypende metafoor van Jesus wat as die “Visarendjie van God, in ons benoude vlees val”. Mense se metafore vir God gaan natuur­lik verskil. Vos erken dit en maan: “Wees geduldig met ’n ander wat ander metafore gebruik, want die liefde is geduldig.”

LEES OOK: Oor onthou en vergewe … Dana Snyman gesels met Reggie Boesak

Hoe gedink dan oor die taal van manlikheid en vroulikheid as dit by God kom? Ook dit, maak Vos duidelik, is nie taal van wie God is nie, maar taal van wat God doen. Dit bly metafore. “Manlik en vroulik is nie ’n baie slim onderskeid as dit by God kom nie … Laat ons God ervaar as God en Here en nie verstrengel raak in klein denkpatrone nie en dat God self sê wie Hy is. Hy is God en nie ’n mens nie.”

Hierin lê ’n groot geskenk: in die besef dat metafore nie net ons beperkte pogings is om God te sien nie, maar dat dit ook die manier is waardeur God Homself aan ons bekendmaak. Tog maan Vos dat hierdie metaforiese openbarings steeds met verwondering en misterie gepaard moet gaan. Ons keuse van metafore vir God kan ook nie onsinnig wees nie. Ons moet presies weet wat ons sê.

Ons gesprek eindig met woorde geïn­spireer deur Dante se Inferno wat Vos pas uit Italiaans na Afrikaans vertaal het: “Metafore is om die sterre te sien, om lig te sien, om God te sien. Om na God te luister, om tot verstaan te kom en om tot aanbidding te kom.”

  • Prof Cas Vos se eietydse vertaling en eie liefdesgedigte verskyn vandeesmaand by Naledi onder die titel Onder die vlerke van jou liefde.

Ds Marileen Steyn is jeugleraar by NG Saldanha.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode