Wierdapark doen eie navorsing tydens Covid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek kan nie meer onthou waar ek vir dr Pieter Visser, medeleraar van NG Wierdapark, ontmoet het nie. Dit was waarskynlik by ’n kerkvergadering. Jy sal ons menigmaal by dié vergaderings se koffiestasie kry. In elke gesprek met Visser stap ek verryk weg en wonder ek meer oor die kerk en haar mense. Hierdie onderhoud vir Kerkbode was geen uitsondering nie.

LEES OOK: Marileen gesels met ds Tom Smith

Wierdapark-gemeente het na ringsgesprekke besluit om navorsing in hulle gemeente te doen. Die vraag het ontstaan: Hoe kweek jy dissipels in ’n digitale ruimte of te wel era? Dit was vir die predikantespan belangrik dat dit nie eensydige kommunikasie is nie, maar sal fokus op hoe die gemeente kan deelneem aan ’n proses.

Voordat die vraelys opgestel is, het ’n kleiner span ’n buitepersoon ingetrek om ’n gesprek te fasiliteer en saam te beplan. Hier het hulle bepaal dat hulle aanvanklike vraag moontlik die verkeerde vraag was om te vra. Die vraag word herformuleer om te fokus op hoe gemeentelede bedien wil word. Visser verduidelik dat ons (nie net gemeentes of predikante nie) onsself bevind in onbekende waters. Daar is min maatstawwe wat regtig kan reflekteer hoe dit tans gaan. Daarom was hulle daarvan oortuig om die lidmate self te vra.

Die vraelys is opgestel om beide die fisiese byeenkomste sowel as die digitale ontmoetings in ag te neem. Visser het voor die navorsing aangeneem dat hulle gemeente se webblad ’n sogenaamde ‘hub’ is. ’n Plek waar mense digitaal inskakel. Nadat die data bestudeer en geïnterpreteer is, het hulle tot die besef gekom dat hulle WhatsApp-kommunikasie eerder die verkose medium is. Wierdapark-gemeente, nes baie ander, stuur op WhatsApp die YouTube-skakel na die videopreek, gedagte vir die week en ander kommunikasie.

Wierdapark-gemeente het ook in die vraelys aangedui dat hulle meer wou weet hoe dit met hulle gemeenskap gaan. Wat is die lief en leed, asook hoe hulle kan help of ondersteun. Visser vertel dat hulle dadelik hierop verskerp het en meer gereeld e-posse spesifiek hieroor begin uitstuur het.

Visser verduidelik ook dat deur die YouTube-kanaal se statistieke dop te hou, kon hulle bepaal dat nie almal liedere tydens die YouTube-eredienste wou kyk nie. Daarom het hulle dit aangepas en twee video’s opgelaai – een met musiek en een daarsonder. Die gemeente het baie positief hierop gereageer en dit het tot gevolg gehad dat meer mense inskakel op die YouTube-eredienste.

LEES OOK: Anandie gesels met dr Wessel Wessels

Hierdie vraelys is ook gebruik vir ’n tipe bewusmaking. Visser het eerder moontlikhede gelys waaruit lidmate kon aandui wat hulle bygewoon het, in plaas daarvan dat lidmate self moontlikhede moes uitdink. Verder meen Visser dat die vraelys verskillende redes aangedui het hoekom mense eerder digitaal inskakel. Hierdie redes sluit Covid-19 in, maar ook nuwe ritmes wat aangeleer is. Visser beklemtoon dat hulle gemeente nie van digitale lidmate ’n sogenaamde ‘tweedeklas lidmaat’ maak nie. Dit is interessant dat die refleksie van die vraelys aandui dat mense ’n behoefte het vir saam kuier by die kerk. Verder wil dit vir Visser voorkom of mense steeds eerder by hulle eie gemeente inskakel, al is dit dan digitaal.

Ek vra vir Visser of ons dit teologies kan regverdig om lidmate te vra hoe hulle bedien wil word. Visser se narratiewe aanslag slaan sterk deur as hy antwoord “is dit nie eintlik arrogant om te sê nie, ongeag wat julle soek, dit is wat julle gaan kry”. Wie is regtig die kenner op die gebied? Ons as teoloë kan kies hoe om die boodskap op ’n sekere manier te verpak, maar die lidmate is tog ook kenners van hulle eie lewe en wat hulle nodig het. “Ons (predikante) is daar om ’n gesprek te fasiliteer. Ons is vertalers,” meen Visser.

Verder moet ons gemeentelede vertrou, sê Visser. Veral as ons hulle so in ’n proses betrek en in ’n onseker tyd soos hierdie. Terugvoer moet altyd met respek hanteer word en ons moet besef ons is besig met ’n stuk interpretasie wanneer ons die terugvoer lees. Visser stel voor dat ’n mens jou eie vooroordele besef en erken in hierdie proses.

LEES OOK: Inenting: Jou siening het implikasies vir ander en jou spiritualiteit

Dít wat binne Wierdapark-gemeente se vermoë was om te implementeer (vanuit die terugvoer) het hulle gedoen. “Onmiddellik,” sê Visser. Verder het mense hulle name in die vraelys aangedui en het die gemeente met individue kontak gemaak indien hulle kon sien dat daar eintlik ’n behoefte vir ’n gesprek is. Visser se raad is dat ’n gemeente ook moet vra hoe volhoubaar is dit wat geïmplementeer word. Hulle gemeente het byvoorbeeld in hierdie tyd baie sterk saam met ringsgemeentes begin werk.

Ek hoor iets by Visser oor vooropgestelde idees wat ons moet bely as ons mense innooi om deel van ’n navorsingsproses te wees. Visser versinnebeeld ’n narratiewe aanslag wat fokus op ’n respekvolle wyse en vertroue wat deurlopend deel van so ’n proses moet wees. En laastens, Visser oortuig my dat ’n mens met ’n opregte voorneme moet kom om die data te interpreteer en om te luister na wat mense ‘sê’ in ’n vraelys.

  • Dr Pieter Visser is medeleraar by NG Wierdapark in Centurion. Hy het sy doktoraal aan NWU in Pastorale Narratiewe Terapie (Voorhuwelikse begeleiding en werk-gesin-balans) voltooi. Hy het ook ’n passie vir digitale bediening.

▶ Ds Anandie Greyling is verbonde aan die NG gemeente Pierre van Reyneveld.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode