Wat sal ons dan in al hierdie dinge hoor?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ds Tom Smith vertel vir Marileen Steyn meer oor die navorsing wat Fontainebleau Gemeenskapskerk in hulle gemeente gedoen het en gesels oor die belang van luister.

“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?”

Hierdie woorde van Paulus speel gereeld in my gedagtes. Dit is die “so what?” van elke preek, elke gesprek, elke ervaring, elke stuk navorsing wat my pad kruis. Wat sal ek dan van hierdie dinge sê?

En dan tref Covid. Covid, met al die ontwrigting wat ons almal al genoeg aan ons lyf gevoel het sodat dit nie nodig is om dit hier uit te spel nie. Die predikant in my wonder nou al vir 18 maande: Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? Die navorser in my vra: Wat sal ander dan van hierdie dinge sê?

LEES OOK: Marileen gesels met prof Nico Vorster

Dít is hoe dit gebeur het dat ek met ds Tom Smith van Fontainebleau Gemeenskapskerk (FGK) begin gesels het oor Covid, kerk-wees en die breedvoerige navorsing wat die gemeente onlangs onder hulle gemeente gedoen het.

Wat sal Smith dan van hierdie dinge sê?

Die navorsing waaroor Smith gesels, is nie net navorsing ter wille van navorsing nie. Dit is deel van ’n groter luisterproses waarmee die gemeente al sedert November 2020 besig is. Dit is ’n proses wat spruit uit die gemeente se diepe behoefte vir geloofsonderskeiding. Smith beskryf geloofsonderskeiding as “’n ritme van ontdek waar ons nou is”. Dit is ’n proses wat vra dat die gemeente luister.

Smith praat oor hoe belangrik luisterprosesse is in ’n tyd wanneer digitale bediening dikwels eenrigting kommunikasie vanaf die kerkleierskap na die gemeente tot gevolg het. “Ons moet kan luister,” benadruk hy. Die fokus vir Smith en FGK, besef ek meteens, was nie soseer op wat hulle kan sê nie, maar wat hulle kan hoor.

So wat het Smith en FGK dan van hierdie dinge gehoor?

Hy praat dadelik van die gemeente se diepe behoefte vir sinvolle groei en dissipelskap. Die gemeente toon ’n behoefte om in kleiner en “mid-size” groepe te groei en geloofsgemeenskap te vind. Die groei waarna daar gehunker word, is nie, verduidelik Smith, die klassieke Bybelstudie nie. In FGK se konteks is dit eerder om sin te maak van wat die sin van die lewe is vir ’n tipiese wit gemeenskap wat hulleself in die kapitalistiese wêreld bevind.

LEES OOK: Anandie gesels met dr Pieter Visser

Dit is uit hierdie plek waar die stemme in Covid-tyd nie net vrae vra oor Covid nie, maar ook oor sake soos Black Lives Matter, oor multikulturaliteit en oor die plek van mense in Suid-Afrika in die aangesig van geweld en plundery. Smith vertel van die manier waarop die ontwrigting van Covid die skeure wat reeds daar was, oopgebreek het en versterk het. Hy wys uit dat baie van die verskynsels van die tyd nie te vinnig alleenlik aan Covid toegeskryf moet word nie, maar dat daar fyn geluister moet word om te sien of hierdie verskynsels nie alreeds voor Covid teenwoordig was nie. Van die stemme wat in hierdie tye gehoor word, was moontlik lankal reeds daar, maar kry nou eers te midde van die krisistye ’n gehoor.

Ek vra vir Smith watter insigte van hulle luisterproses iets vir gemeentes in totaal ander kontekste kan beteken. Hy meen egter dat die proses waarin FGK hulleself bevind van meer waarde vir ander gemeentes kan wees as die resultate van daardie proses. Op hierdie punt verwys hy na die NG Kerk se hulpbron “In pas” wat gemeentes soos FGK gehelp het om te luister, maar wat ook ander kan help om in pas met God te lewe.

LEES OOK: Marileen gesels met ds Anriëtte de Ridder

Die luisterproses is ’n belydenis dat God aktief besig is in Covid en dat daar stories is van hoe God in mense se lewe werk – ook in hierdie tye. Smith haal vir Pat Keifert aan: “God is verbing”. Verbing, wat speel met die Engels vir ‘werkwoord’ is ’n manier om te praat van die manier waarop God aktief betrokke is. Op hierdie punt haal hy Gerard Manley Hopkins aan: “Christ plays in ten thousand places.” Dit sou later ook ’n titel van een van Eugene Peterson se boeke word. Hierdie belydenis vra dat Christene en gemeentes na God se “verbing” luister en dit raak hoor.

Die geloofsgewoonte van luister is nie net tot die leierskap beperk nie. FGK het ’n span van 20 lidmate by die luisterproses betrek en sodoende, verduidelik Smith, ontwikkel hulle ’n kultuur van mense wat leer luister. Dit is een van die maniere waarop die gemeente kan beweeg om gemeentelede toe te rus in die gemeentelede se bediening.

“God is nie verlore in die tyd nie,” sê Smith. Partykeer is God besig om te treur, partykeer om te konfronteer, maar God is besig om te werk. As predikant word ek dus uitgenooi, nie net om iets oor al hierdie dinge te sê nie, maar eerder saam met elke gemeentelid te vra: Wat sal ons dan in al hierdie dinge hoor?

  • Ds Tom Smith is medeleraar by die Fontainebleau Gemeenskapskerk in Johannesburg.

▶ Ds Marileen Steyn is jeugleraar by NG Saldanha.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode