Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Albin Bowler van Bellville skryf:
Sogenaamde behoudendes en/of dolerendes ignoreer verskeie aspekte van die hermeneutiese proses om die Bybelse boodskap te vertolk vir die moderne mens. Daar is dele wat hermeneuties uitgelê moet word. Sommige van die uitsprake, gebruike en instruksies is vir ons, wat duisende jare later leef, vreemd.
Lees ook: Kerkskeuring: 5 vrae aan Theo Danzfuss
Soms lyk dit of die sogenaamd behoudendes en/of dolerendes glad nie teologiese opleiding ondergaan het nie, want hulle beoefen dikwels ’n hermeneutiek wat dieselfde is as dié van die sogenaamde selfverklaarde profete met geen teologiese opleiding nie. En dan verklaar eersgenoemdes met groot selfvertroue dat hulle eintlik die Skrif reg interpreteer en enige ander siening is onskriftuurlik en selfs onreformatories.
In die pre-Verligting of -Aufklärung (ongeveer 1600’s) het die kerk geglo dat die hele Skrif woord vir woord letterlik vertolk moet word. Sommige Aufklärung-kritici het verskeie aspekte as belaglik verwerp. Byvoorbeeld, volgens Eksodus 12:37 het 600 000 mans (afgesien van vroue, kinders en vee) uit Egipte getrek – dus ’n paar miljoen mense met vee. ’n Atlas van die streek het al bestaan. Aufklärung-kritici het toe bereken dat die voorste deel van die Israeliete reeds by/in die Beloofde Land was, terwyl die agterste groep en hulle vee nog steeds in Egipte gewag het om te begin trek.
Die kerk was verplig om dié en ander dele te hervertolk. Uit buitebybelse bronne is toe bevind oordrywing (as deel van beeldspraak) was ’n tipiese manier om die geloof van jou groep af te speel teenoor ander gelowe. So het die idee van taalkundige eksegese ontwikkel. Uiteraard was daar teenstand teen die nuwe benadering. Maar vandag is dit algemene preekpraktyk.
Later het teoloë ook besef historiese eksegese is nodig om dele in die Skrif beter te verstaan. Weereens was daar aanvanklik teenstand. Maar vandag is ook dit algemene praktyk.
Lees ook: Na ’n erediens: Só klink die grootste kompliment
In 1973 verskyn prof Verhoef se boek Metodiek van die eksegese waarin hy teologiese studente aanmoedig om sowel taalkundige as historiese en teologiese eksegese te gebruik in die preekproses. Teen daardie tyd word die onderskeie prosesse as algemene gebruik erken. Dit dui op die organies-historiese ontwikkeling van die proses.
Dit is tyd vir ’n addisionele proses, naamlik om moderne wetenskaplike feite ook positief te verdiskonteer in die preekproses. Wetenskaplike eksegese is nodig, want die Heilige Gees se woorde is oorspronklik aan pre-wetenskaplike mense gegee om die boodskap te verstaan. Natuurlik verwag die skrywer van hierdie brief baie teenstand, net soos honderde jare gelede! Maar ek is oortuig dat dit oor vyftig jaar of meer (hopelik baie minder) deel sal vorm van die eksegetiese proses.
Die Heilige Gees het mense gelei tot taalkundige en historiese eksegese. Ek glo dat die Heilige Gees ook wetenskaplike eksegese sal gebruik om die boodskap van die Skrif nog duideliker aan mense oor te dra.
Alhoewel sogenaamde. behoudenes en/of dolerendes dit goed bedoel, is dit Skriftuurlik dat dieselfde Almagtige God ons sy Woord (“sy mond”), asook die natuur (“sy handewerk”) vir ons gegee het.
Net soos ons sekere taalkundige dele hervertolk, is dit tyd om wetenskaplike waarhede ook te verdiskonteer.