Kerkskeuring: 5 vrae aan Theo Danzfuss

Kerkbode (KB): Hoe dink Moreleta Kairos Netwerk (MKN) oor skeuring in die NG Kerk en watter omstandighede maak eenheid moontlik?

Theo Danzfuss (TD): Slegs die MKN se sentrale komitee kan amptelik namens die MKN praat. Ek antwoord jou vrae dus in my persoonlike hoedanigheid.

MKN se standpunt wat reeds by die konferensie herhaaldelik gestel is, is dat die Algemene Sinode reeds die NG Kerk inwendig geskeur het deur weg te dwaal van die suiwer gereformeerde vertolking van die Bybel. Die hoogtepunt van hulle dwaling was die omstrede besluite van 2019 waar die sinode direk teenoor die Here se Woord, by implikasie ook seksuele verhoudinge tussen persone van dieselfde geslag, nie net goedgekeur het nie, maar selfs besluit het om ’n formulier op te stel om sulke verhoudings amptelik te bevestig met die kerk se seën.

Dit het die kerk reeds so geskeur dat ’n groot getal lidmate en leraars uit protes daarteen reeds bedank het. Die protes het intussen so gegroei dat daar tans sover ons kennis strek, reeds meer as 70 gemeentes is wat besluit het om amptelik te doleer. So ’n sterk protes was daar nog nooit voorheen in die NG Kerk se geskiedenis nie.

Lees ook: Moderator besweer gerugte van kerkskeuring, maar vrae bly talm

Aangesien ware kerkeenheid vir MKN belangrik is, het MKN daarin geslaag om verskeie leraars, kerkrade en gemeentes wat op die punt was om uit die NG Kerk te bedank, nuwe hoop te gee vir reformasie binne die kerk. Ons glo dat die Here van ons verwag om so lank moontlik binne die NG Kerk na reformasie en ware eenheid te soek soos Hy ons in Efesiërs 4:15-16 leer: “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid.”

Ware kerkeenheid is vir ons baie belangrik maar die Bybel ken geen eenheid ten koste van die waarheid nie. Dit is slegs moontlik waar gelowiges ooreenkom om saam in liefde by die waarheid te bly. Die Bybel ken geen kunsmatige eenheid ten koste van die waarheid nie.

KB: MKN het ’n beoordeling saamgestel van die AS se gids oor die besluit oor selfdegeslagverbintenisse. Daarin staan daar: “Oorkoepelend verklaar die MKN egter dat die besluite vir ons in omtrent elke opsig onaanvaarbaar en selfs verwerplik is.” Verduidelik die kernprobleem wat hierdie besluit(e) onaanvaarbaar maak?

TD: Aangesien die sinode self gesê het dat die besluite as ’n eenheid beskou moet word, so is dit ook as eenheid hanteer, kan ons dit slegs in geheel beoordeel en in geheel aanvaar of verwerp.

Die besluite is onaanvaarbaar omdat dit direk in stryd is met die Woord van God. Die kerk se vorige standpunt, wat baie jare lank gegeld het, is geneem op grond van behoorlike Bybelse en teologiese studies wat voor die sinode gedien het. Die nuwe omstrede besluite van 2015 (wat reeds twee keer ongeldig verklaar is en toe weer in 2019 op onkerkordelike wyse deurgedruk is), is egter geneem sonder enige Skriftuurlike studie of teologiese verslae. (Lees Kerkbode se volledige dekking van die 2019 sinode by HIERDIE skakel en die regstreekse blog wat ons redaksie tydens die 2019 sinode behartig het HIER. Lees HIER hoe ’n kerklike taakspan verslag lewer oor hoe daar tot die besluit oor selfdegeslagverbintenisse gekom is. – Red.)

Die lidmate word nou gepaai dat elke gemeente self daaroor kan besluit. Dit is nie eenheid nie, dit is skisofrenie. Artikel 43 van die kerkorde bepaal dat dit die taak van die Algemene Sinode is om die kerk se gemeenskaplike belydenis en beleid te bepaal. Hulle kan dus nie op eerlike wyse besluit dat wat vir een gemeente sonde is, in ’n ander gemeente die kerk se amptelike seën wegdra nie. Dit is teologiese skisofrenie.

Die 2019-besluite het in elk geval volgens ons kerkorde geen regsgeldigheid nie aangesien Artikel 23.1 duidelik bepaal dat besluite van kerkvergaderings slegs bindend is insoverre dit nie in stryd is met die Bybel, die belydenisse of die kerkorde nie.

KB: Die MKN-verslag praat ook oor verdraagsaamheid. “Die NG Kerk se teoloë wil die kerk dus met hierdie bedreiglike (sic) argument in die Gids probeer oortuig om ’n gesindheid van verdraagsaamheid te openbaar oor selfdegeslagverbintenisse in die kerk.” Is MKN in gesprek met LGBTQI-gemeenskappe en watter terugvoer kry julle?

TD: Die MKN se probleem is nie die LGBTQI-gemeenskap nie, maar die Algemene Sinode se onaanvaarbare Skrifhantering en minagting van die Skrifgesag. Ons het wel sonder dat ons daarvoor gevra het, verskeie persone gekry wat getuig dat hulle ook so geleef het, maar nou daarvan bevry is.

KB: Geskiedenisboeke onthou die ontstaan van die APK in 1987 eenvoudig as ’n aksie deur lidmate wat hulle nie langer kon vereenselwig met die veranderde koers van die NG Kerk nie. Kan die NG Kerk iets leer uit daardie geskiedenis wat in hierdie situasie help?

TD: Dit sou blote bespiegeling wees, want omstandighede verskil radikaal. Dit sou beter wees om te vra wat kan die NG Kerk leer uit die tyd van die Reformasie toe daar skeiding gekom het tussen die Roomse kerk en die reformatoriese kerke. Hieruit kan ons leer om weer erns te maak met Artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat waarsku dat ons geen besluite van kerkvergaderings bo die Bybel mag stel nie. Ons kan ook leer om groter erns te maak met Artikel 29 wat handel oor die kenmerke van die ware en die valse kerk.

KB: Jy verduidelik MKN probeer “soek na ’n oplossing wat kan keer dat die NG Kerk nie verder skeur nie.” Hoe sou so ’n oplossing lyk vir lidmate wat saamstem met die besluite wat by die Algemene Sinode van 2019 geneem is rondom selfdegeslagverbintenisse?

TD: As hulle eerlik wil wees, sal hulle uit die NG Kerk bedank, want hulle hanteer en vertolk die Bybel nou radikaal anders as die beloftes wat hulle afgelê het toe hulle lidmate van die NG Kerk geword het. Hulle het dus ons onderlinge byeenkoms oor wat ons as een kerk saambind eensydig verbreek sonder om die lidmate eers daaroor te raadpleeg. Onthou die Algemene Sinode is nie die NG Kerk nie. Die NG Kerk is in die eerste plek die plaaslike gemeente. Al sou selfs 65% van die sinodegangers vir die voorstel gestem het beteken dit slegs sowat 130 stemme het sonder enige Skrifgronde besluit dat byna een miljoen lidmate die Bybel nou anders moet lees en sekere Skrifuitsprake moet ignoreer. Byna 600 bladsye beswaarskrifte daarteen, vanuit die Woord en belydenis, is nie eens deur die sinode bespreek nie.

’n Ander oplossing sou wees dat die Algemene Sinode ontbind en vervang word met ’n federale sinode waar elke gemeente self kan besluit of hulle deel wil wees of nie.

Verskillende opsies is moontlik om die huidige kunsmatige en gedwonge verband tussen gereformeerdes en liberales in een algemene sinode, te verander na ’n losser kerkverband deur vrywillige assosiasie of disassosiasie. Artikel 37 van die kerkorde bepaal dat die samestellende kerke (wat huidige sinodes insluit) wat dit in die lig van God se Woord kan regverdig, vry is om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts uit algemene sinodale verband te tree. Waarom kan die Algemene Sinode nie nog ’n artikel byvoeg wat soortgelyke regte vir gemeentes gee ten opsigte van die sinodes en dus ook hulle verband (via hulle sinodes) met die Algemene Sinode nie?

Die probleem is dat die skeuring wat die Algemene Sinode bewerk het besig is om so groot te word dat selfs die MKN dit later nie meer kan keer nie. MKN probeer steeds om gemeentes te motiveer om nie uit die NG Kerk te tree nie aangesien ons nog soek na ’n meer vreedsame en eerbare oplossing.

Ongelukkig kan slegs ’n dringende buitengewone sitting van die Algemene Sinode hierdie skeuring wat hulle reeds bewerk het stuit. Ongelukkig kan kerkordelik slegs die ASM so ’n buitengewone sinode byeenroep. Daarom rus die onus tans vierkantig op die skouers van die ASM om die skeuring te stuit of om toe te laat dat dit erger en leliker word.

Daar is dus nog verskeie opsies om die skade te beperk. Die uitkoms is tans in ’n groot mate afhanklik van hoe die ASM hierop gaan reageer.