Moderator besweer gerugte van kerkskeuring, maar vrae bly talm

Die moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode het vrese vir kerkskeuring besweer.

Dit kom ná Rapport Sondag prominent berig het dat sommige lidmate glo dat so ’n skeiding onafwendbaar lyk “oor die kwessie van gay-huwelike”.

Ds Nelis Janse van Rensburg het Maandag gesê gesprek kan plaasvind solank verskillende groeperinge in die kerk die “bona fides van mekaar se geloof” aanvaar. Hy glo dit is wel die geval binne die kerkverband.

Die Sondagkoerant het op grond van ’n Zoom-opname van ’n vergadering wat in hulle besit beland het, berig dat Pieter Breytenbach van die Moreleta Kairos Netwerk (MKN) onder meer sou gesê het dat dié groep nie daarin belangstel om hulle met die ‘ander stroming’ (in die NG Kerk) te vereenselwig nie. Janse van Rensburg het daarna met Breytenbach gesels en is nie ontmoedig nie. “(Breytenbach se) verbintenis is om eerlike gesprek te hê,” aldus Janse van Rensburg.

Janse van Rensburg het Maandag aan Kerkbode gesê hy dink nie die NG Kerk gaan skeur nie.

Baie misverstand

Die dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het vantevore met ’n afvaardiging van die MKN ontmoet en volgens Janse van Rensburg is ’n opvolgontmoeting in die nuwe jaar op die kaarte rondom drie goed: Skrifhantering, teologiese opleiding en kerkregtelike kwessies.

Janse van Rensburg sê daar is “ontsettend baie misverstand” in die kerk. Hy maak ook die punt dat die kwessie van verhoudings tussen mense van dieselfde geslag tot ’n mate slegs ’n simbool van “’n klomp bekommernisse” onder lidmate is. “Ons wil konstruktief praat,” het Janse van Rensburg gesê en bygevoeg dat dit goed sal wees vir die kerk om goed te luister. “Ek dink hierdie gesprek kan die hele kerk help.”

Ook ds Willem Badenhorst, ’n leraar by Moreletapark, word in die Rapport-berig aangehaal. Rapport het berig dat Badenhorst verduidelik het hoe ver die groep al is met hul planne vir kerkskeuring. Badenhorst het ná die verskyning van die berig aan Kerkbode gesê: “Ek het nie van skeuring gepraat nie. Ek het wel gepraat oor die prosesse van gesprekvoering wat kom en dat ons nie water trap nie, maar dat ons vorder in die prosesse om die gesprek met die ASM voort te sit.” 

Hy verduidelik: “As ons besig was om skeuring te beplan, sou ons nie hierdie pad van gesprekvoering geloop het nie. Na my eerlike wete is daar binne die MKN geen planne vir kerkskeuring nie … skeuring is met prosesse verwar. Ons is wel besig met prosesse om aandag te gee die sake waaroor ons en die ASM ooreengekom het om te praat.” 

Badenhorst het gesê dis ’n “delikate tyd in die geskiedenis van die kerk” en dat ’n mens nie kan ontken dat daar ’n “verskeurdheid” in die NG Kerk is nie. “Die feit dat daar nou tans 70 gemeentes is wat doleer en die getal bly groei, bewys die verskeurdheid,” aldus Badenhorst. “Die MKN wil juis poog om na oplossings te soek wat kan help keer dat hierdie verskeurdheid nie ’n verdere kerk kloof in die breëre kerk veroorsaak nie.” 

Daar is altesaam 1 110 gemeentes in die NGK se tien streeksinodes, wat Namibië insluit, volgens die 2020 Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke. 

Ds Theo Danzfuss, wat ook in die berig figureer, het te kenne gegee dat hy verskil van die Sondagkoerant se weergawe van gebeure.

Intussen het lesers uiteenlopend gereageer op die onderwerp via Kerkbode se webblad, briewebus of Facebookblad. Magriet Rossouw het via Facebook laat hoor: “Wat het geword van verdraagsaamheid, ‘agree to disagree’ en om nie te oordeel nie. Leef in liefde en kyk met sagte oë na dié wat anders as jy dink en glo …”

Prof Louis Jonker van Universiteit Stellenbosch meen weer: “Daar is ’n tyd (meestal) wanneer ’n mens moet veg vir kerkeenheid. Trouens, Johannes 17 dui aan dat Jesus self daarvoor gebid het,” het hy aan Kerkbode geskryf. “Maar daar kom ook ’n tyd dat ’n mens uit oortuiging nie deur dreigemente van kerkskeuring, of aanklagtes deur beswaardes van koers af gedwing moet word nie,” skryf Jonker.

Buiten vir enige nuwe inligting wat uit die Zoom-opname bekom is, is daar reeds bekende meningsverskille rondom verdraagsaamheid. ’n MKN-skrywe waaroor Kerkbode vroeër vandeesmaand berig het, lui: “Die NG Kerk se teoloë wil die kerk … probeer oortuig om ’n gesindheid van verdraagsaamheid te openbaar oor selfdegeslagverbintenisse in die kerk.” Die skrywers rig hulle kritiek na ’n uittreksel uit ’n gespreksgids wat deur ’n kerklike taakspan ontwikkel is en waarvan die ASM verlede jaar kennis geneem het. Daarin lees ’n mens: “Die voorbeeld van Handelinge 15 kan ons as kerk gerusstel dat ons 2019-besluit ’n Bybelse manier van besluit is.”

Die MKN skrywers reageer hierop: “Dit is ’n valse stelling aangaande die betekenis van die apostelvergadering (in Hand 15). Die MKN vind dit bedenklik dat die ASM op hierdie manier ’n boodskap wil laat uitgaan, om die besluite van AS 2019 te regverdig.” 

Die gespreksgids waaroor dit hier gaan, is ontwikkel deur ’n span van vyf lede plus ’n sekundus en is geskryf om ruimte te skep vir gesprek oor die besluit van 2019 se (Algemene Sinode) oor selfdegeslagverhoudings “sodat sinodes binne hulle eie konteks die saak kan hanteer, verduidelik ds Heerden van Niekerk, sameroeper van die skryfspan. Hy voeg by: “Die span wat die gids saamgestel het, verwelkom kommentaar en sal graag ooreenkomstig die AS se besluit met streeksinodes persoonlik in gesprek tree.”

Die MKN-skrywers het juis dit gedoen in die lywige dokument wat hulle nou vra op amptelike wyse in die NG Kerk versprei moet word. “Dit is gewoon ’n valse voorstelling om die apostelvergadering in Handelinge 15 voor te hou as ’n skikking van standpunte!

Die waarheid is dat die vroeë kerk uitsluitsel moes kry oor ’n baie gewigtige teologiese saak, naamlik of die Christene uit die heidendom ook soos die Jode besny moet word. Daar was Christene uit die Jodendom wat die besnydenis wou handhaaf, ook vir die ander nasies wat in Christus geglo het. Dit was dus ’n ernstige Ja of ’n Nee, waaroor uitsluitsel verkry moes word.

Die apostels het toe ’n vergadering in Jerusalem gereël waar die saak intensief bespreek is. Die profesieë in die Ou Testament is nader getrek. Daar is bevind dat God van lankal af beplan het dat die nasies deel van sy volk sou word.

Toe het die vergadering ’n besluit geneem. LW. die vergadering het hulle gedistansieer van die mense wat die Christene “verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag ontvang het nie”. Daar was hoegenaamd geen sprake van ’n skikking of verdraagsaamheid van standpunte nie. Na die vergadering het die apostels ’n brief uitgestuur om die besluit van hulle vergadering bekend te maak. Hulle het in die brief verklaar:

“Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: dat julle nie vleis moet eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid (porneia) moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. Hartlike groete.”

Hierdie besluit het ’n waterskeiding in die kerk meegebring. Onder leiding van die Heilige Gees het die kerk finaal afskeid geneem van die besnydenis en ander Joodse gebruike.

Nie almal was tevrede met die besluit van die vergadering in Jerusalem nie. Daar was steeds Joodsgesindes wat hulle gebruike aan die Christene wou opdring. Die hele brief van Paulus aan die Galasiërs gaan daaroor. Paulus noem dit ’n “ander evangelie” en bevestig dat dit verkeerd is om jou vertroue op die wet te plaas. Hy voel so sterk daaroor dat hy sê: Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman! (Gal 5:12).

Dit is hieruit duidelik dat die sinode in Jerusalem nie bloot ’n vergadering was om mekaar se opinies aan te hoor en ’n kompromie te vind oor verskillende standpunte van die gelowiges nie,” luidens die MKN-verslag.

In die lig van die bogenoemde reaksie het Van Heerden by navraag aan Kerkbode geskryf: “Die taakspan wys in die gids op voorbeelde in die Bybel waar die geloofsgemeenskap dit moontlik gevind het om ten spyte van onderlinge verskille verder met mekaar op weg te gaan. Handelinge 15 en Romeine 14 word in behandeling geneem as ’n poging om ’n uitweg aan te dui hoe ons verder met mekaar gesprek kan voer en hande kan vashou ten spyte van onderlinge verskille.

Romeine 14 handel oor verskillende teologiese opvattings en Handelinge 15 oor ’n gedeelde onderliggende teologiese siening, naamlik ’n wetsvrye evangelie. In Romeine 14 doen Paulus juis ’n beroep op die gemeente om, ten spyte van hulle verskille, eensgesind te wees (Rom 14:5-6!) op grond van wat hulle saambind – die liefde van Christus. By beide tekste is daar dus iets wat die gelowiges saambind: by Handelinge 15 ’n gedeelde teologiese visie oor die wetsvrye evangelie, en by Romeine 14 die eensgesindheid wat teweeggebring word deur ’n relativering van eie opvattings (14:5-6) en die gedeelde siening dat Christus vir almal gesterf het, wat ons noop om in liefde met mekaar om te gaan (14:15).

Handelinge 15 onderstreep die belangrikheid van ’n kompromieloosheid oor ’n wetsvrye evangelie – Christus alleen (teenoor Christus en die besnydenis (wet)). Daar word egter ’n skikking bereik oor die eet van vleis wat aan afgode geoffer is (vgl Rom 14), iets wat vir Jode ’n groot kwessie was.

Die taakspan meen dat ons met Handelinge 15 as riglyn kan werk as ons klem lê op die kardinale geloofsgoed waaroor ons dit eens is en wat ons saambind. Ons is oortuig dat daar ten spyte van onderlinge verskille steeds veel is wat ons saambind. Dink byvoorbeeld aan ons vereniging met Christus en die implikasies daarvan vir ons onderlinge eenheid. Dink ook aan die vroeë kerk waar mense vanuit uiteenlopende agtergronde en verskillende sieninge in een beweging saamgesnoer is. Hulle kon daarin slaag omdat hulle die klem eerder op eenheid as eendersheid geplaas het, met ’n Christus-oriëntasie polariteite in die samelewing deurbreek het (Griek – Barbaar, Jood – Heiden, Man – Vrou, Slaaf – Vryman, Burger – nie Burger), ’n ingesteldheid gehad het om vanuit God se genade te kyk en familietaal (“broers en susters”) gepraat het.

Beide Handelinge 15 en Romeine 14 lewer dus dieselfde uitkoms: ’n skikking in liefde – die een net via ’n onderliggende gedeelde waarheid (Hand 15), die ander via verdraagsaamheid te midde van botsende standpunte (Rom 14).”

Hoe die NG Kerk te midde van diep meningsverskil ’n “familietaal” gepraat gaan kry, sal die nuwe jaar leer.

  • Hierdie berig is ná publikasie opdateer. Red.
Word 'n vriend van Kerkbode