Na ’n erediens: Só klink die grootste kompliment

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Wat is die grootste kompliment wat ’n musiekleier, orrelis of liturg wat ’n erediens gelei het na afloop daarvan kan kry? Sjoe, ek het daardie preek vanoggend vreeslik baie geniet? Oe, maar die musiek was roerend mooi en tegnies van die hoogste gehalte? Jinne, maar die blommerangskikking het uitstekend by die kerkkalender en jou das gepas?

Die meeste voorgangers waardeer (positiewe) terugvoer en ’n goeie preek wat die aandag behou bly ’n goeie preek. Maar volgens die teoloog John Witvliet is die grootste liturgiese kompliment veel eerder en doodeenvoudig – jy het my vandag gehelp om die lewende God te aanbid. Net so en net dit. En alle briljante preke en orrelspel, dien nie noodwendig hierdie doel nie.

Witvliet se opmerking steun op ’n sekere verstaan van wat die erediens is en wat daar gebeur – te wete ’n Godsontmoeting. Die preek, blomme en musiek kan alles mooi en roerend wees, en mooi en roerend bly mooi en roerend, maar in die erediens gaan dit oor ’n dieper saak. Dan is die vraag of die preek, blomme en musiek, die aanbidding van die drie-enige God dien. En die predikers en voorgangers se daar-wees in die erediens is deel van hierdie geheel.

Lees ook: Al die jongste vakatures

Dit moet duidelik wees dat diegene wat eredienste lei, weet hulle staan op heilige grond. Dit geld ook dié wat eredienste bywoon. Dit beteken nie almal moet nors, somber en erg formeel wees nie. Daar is baie vriendelike musiekleiers wie se dáár-wees getuig van ’n bewustheid van die lewende God se teenwoordigheid; ook ernstige formele predikers; om nie eens te praat van die glimlag en handdruk van die persoon wat my by die voordeur verwelkom nie. Soos simbole in die erediens mense verbind aan ’n ander wêreld, verbind die egtheid van voorgangers ons weer aan hierdie wêreld. Dit anker ons in aardsheid en so neem ’n belewenis van egtheid toe.

Volgens Tom Long is die vraag hier of almal wat deel in die lei van ’n erediens aangegryp is deur die werklikheid van God se teenwoordigheid. En dit, presies dit, is aansteeklik, maar nie fabriseerbaar nie. Ongelukkig probeer sommiges. Soos maskertyd ons opnuut geleer het – oë wat lag is betroubaarder as monde wat lag. Dit gaan oor egtheid wat onwillekeurig ossilleer tussen sekerheid en twyfel; vrolikheid en smart; duisternis en lig; ’n egtheid wat die lewe in al sy skakerings beleef, ook al die gryse, en steeds soos die boek Klaagliedere bely: “miskien is daar hoop”.

Lees ook: Bydraes deur ons lesers

Ons almal het dit al beleef, die predikant wat op só ’n wyse die kanseltrappe klim, die Bybel oopmaak, haar bril regskuif, ’n slukkie water neem en kug, en sonder dat ’n woord gespreek is, weet almal teenwoordig: “Die Here is in sy heilige tempel”. Dít gebeur veral ook wanneer daar ’n korrelasie is tussen wie ek op die kansel is en wie ek by jou kombuistafel met ’n beker tee in die hand is.

Is daar ’n resep hiervoor? Nee, geen resep nie, maar dit bestaan. Wat ons wel weet, is dat dit te make het met egtheid en ’n lewe coram Deo, binne die erediens en daarbuite.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode