Kairos in die Kaap: ‘Skeuring is nie ’n opsie’

Kerkskeuring of hofsake is nie in die prentjie nie, het die afgetrede kerkregkenner ds Helgard Janse van Rensburg onlangs by Kairos Netwerk (KN) se eerste byeenkoms in die Wes-Kaap gesê.

“Die probleem is nie die NG Kerk nie, ons is die NG Kerk. Ons het wel ’n probleem met die Algemene Sinode, onkerkordelike prosedures en teologiese opleiding wat absoluut liberaal geword het.”

Vir KN is die twee mees werkbare opsies vir die pad vorentoe tans ’n “sinode van onafhanklike NG gemeentes,” soos toegelaat in terme van Kerkorde Artikel 37 óf alternatiewelik ’n federasie van sinodes soos voor 1962. KN wil daarom dringend sien dat ’n buitengewone sinode belê word om hieroor uitsluitsel te kry.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is saam hardop opgesê by die byeenkoms waar ds Dubois du Toit, in die swart en wit T-hemp, van Namibië een van die gassprekers was.

LEES OOK: Nuwe eenheidsmodel op die tafel om skeuring binne NG Kerk te vermy

Maar dit was nie net kerkregpraatjies tydens die geleentheid wat op 23 Oktober by Strand-Moedergemeente plaasgevind het nie. Dr Gerhard Mahne het die dag se gebedsgeleenthede gelei waar die kongresgangers onder meer gevra is om namens die kerk as geheel skuld te bely vir die “dwaalleer” wat toegelaat word. Mahne, wat van 2004-2006 deel was van die sinodale taakspan oor homoseksualiteit, meen ’n groot aantal lidmate verlaat die NG Kerk omdat hulle voel soos Annette Botha, ’n lidmaat wat gevra is om by die geleentheid haar storie te deel.

’n Emosionele Botha, wat vroeër vanjaar as lidmaat bedank het, het die sowat 195 konferensiegangers vertel dat sy sedert 2015 “wroeg in haar gees” of sy nog in die NG Kerk moet bly. Dit bekommer haar dat al minder uit die Bybel gelees word by jeugdienste en dat kinders nie meer weet hoe om die Bybel te gebruik nie, sê die donkerkop-ma van twee jong dogters. Sy is deel van ’n groepie oudlidmate wat weekliks saam kerkhou. “Dit is eintlik vir my hartseer dat ons vandag hier moet wees, maar dit is ook baie bemoedigend,” begin sy, die eerste van drie mense wat gevra is om oor hulle geloofstryd binne die ‘ruimer huis’ van die kerk te praat.

Die KN-konferensie, wat ook via die internet uitgesaai is, is een van verskeie wat tans landwyd gehou word en word beskryf as die “produk van ’n groeiende beweging van dolerende gemeentes in Suid-Afrika en Namibië,” luidens ’n KN-verklaring (sien verklaring onder).

LEES OOK: Ses jaar se Kerkbode-verslaggewing oor die gay-debat

Daar is tans ongeveer 80 gemeentes uit die NG Kerk se meer as 1 000 wat doleer, waarvan Strand-gemeente een is. “Doleer” is ’n ou kerklike tradisie waardeur gemeentes wys hulle is ongelukkig of treur oor besluite deur die kerk se leierskap.

Saterdag se geleentheid het ’n paneelgesprek ingesluit gelei deur Van Rensburg, die jong Namibiese ds Dubois du Toit en leiersfigure in KN soos ds Theo Danzfuss, dr Henrietta Klaasing en ds Piet Otto.

Verrigtinge het mense soos dr Christo Benadé, medeleraar by NG gemeente Suiderstrand en voorsitter van die Ring van Somerset-Wes, met ’n vraag gelaat oor waar dit hom laat indien hy tevrede is met die pad wat die kerk se leierskap stap: “Ek het my nog altyd gesien as iemand wat vashou aan die waarhede van die evangelie, die opstanding van die Here Jesus Christus en die hoop wat Hy vir ons gebring het … en deur my bediening nog altyd probeer fokus daarop … Daarom is dit vir my soveel meer pynlik en hartseer as ek vanoggend hier beskryf word as ’n dwaalleraar en die een wat owerspel pleeg omdat ek deel is van die leierskap van die kerk en omdat ek die kerklike pad volg en tevrede is daarmee dat die kerklike pad gevolg word en ook vrede het met die besluite wat geneem word.”

In reaksie hierop is vanuit die paneel toegegee dat daar baie mag wees wat soos Benadé met sulke vrae mag worstel, maar dat elkeen vir homself sal moet uitmaak wat die waarheid oor die Bybel is.

Die middag is afgesluit met die aanwys van ’n voorlopige taakspan om te help met die uitbou van ’n netwerk van behoudende gemeentes en lidmate in die Wes-Kaap.


Meer oor die 2019-besluit

Na die Algemene Sinode van 2015 en die buitengewone sinodesitting van 2016 het afgevaardigdes by die Algemene Sinode in 2019 gesê hulle “neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.”

“Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word,” luidens die besluit oor selfdegeslagverhoudings wat HIER ten volle gelees kan word.

Daardie sinode het byna ’n week geduur en Kerkbode het van die afgevaardigdes daar ná sowat 45 uur om sinodetafels gevra oor hulle indrukke. “Ek is ongelooflik verlig oor die gebeure tydens die selfdegeslagdebat. Die gemoedelikheid en die wyse waarop dit hanteer is, het my beïndruk. Dit kon so maklik soos 2016 uitgedraai het,” het Ida Brink, kerkraadslid van die NG gemeente Differentia in Boksburg destyds aan Kerkbode gesê. Ander was besorg. Dr Riaan van Zyl van Bethlehem het gesê: “As ek na die voorstel kyk, kan ek nie saamstem nie.”

Lees Kerkbode se beriggewing oor die 2019-sinode en hoe daar tot die besluit gekom is, HIER en HIER.


 

Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “Kairos in die Kaap: ‘Skeuring is nie ’n opsie’

  1. Riaan Esterhuyse says:

    Ek is baie jammer dat daar predikante, gemeentelede en kerkraadslede is wat besig is om eintlik 900 ander gemeentes te beswadder met wat hulle se. Daar is kerklike wee, soos enige ander organisaie het. Wat hier gebeur grens aan muitery – voorwaarlik ‘n skande!!!!

  2. Johannes Froneman says:

    Ons in die NG Kerk sal moet leer om teologiese verskille te hanteer sonder kerkskeuring. Die realiteit is dat ons die Bybel verskillend lees en dat ons daarom by verskillende antwoorde uitkom. Dié verskynsel is nie beperk tot die NG Kerk nie en kom wêreldwyd voor. Ons sal mekaar moet respekteer en ruimte laat vir verskille. Hoe dit gaan uitspeel, weet ek nie, maar ons moet mekaar nie verketter nie.

Comments are closed.