Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Geseënd is die kinders

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


’n Fliek wat my in die afgelope tyd diep geraak het, is die fliek Saint Frances (2020).

 

In hierdie verhaal bevriend die 34-jarige Bridget ’n 6-jarige dogtertjie, Frances, wanneer sy aangestel word om haar deur die dag op te pas wanneer haar ma’s nie tyd het vir haar nie. Die dogtertjie Frances, of Franny, se een ma werk voltyds, terwyl haar ander ma fokus op ’n pasgebore baba en terselfdertyd worstel met postpartum depressie.

 

Hulle benodig hulp met die lewenslustige Franny.

 

Aanvanklik maak Bridget heelwat foute met Franny, en is dit vir haar ’n leerproses om behoorlik na Franny om te sien. Franny maak dit ook nie noodwendig aldag maklik vir Bridget nie, en daag haar gereeld uit, insluitend oor haar lewenskeuses as ’n volwassene.

 

Geleidelik word die twee karakters egter beste vriende.

 

In ’n aangrypende toneel in ’n Katolieke kerk gaan sit die dogtertjie Franny in die biegkamer – aan die kant waar die priester sit. Wanneer Bridget haar soek, en vind, en vra: “Is that you?” antwoord Franny: “My child. Speak, child.”

 

Bridget bely teenoor Franny, haar biegmoeder!, dat dit soms vir haar makliker is om te maak asof sy iemand anders is, omdat sy nie ’n indrukwekkende persoon is nie – sy is nie getroud nie, sy het nie kinders nie, en sy het nie ’n vaste werk nie – maar Franny antwoord dat sy wel trots is op Bridget.

 

Bridget is dapper, want sy pak goed aan waarvoor sy bang is – sy probeer byvoorbeeld gimnastiek en ysskaats saam met Franny, en sy staan op teen ’n boelie – verduidelik Franny.

 

En in daardie oomblik in die kerk spreek Franny vir Bridget, wat jare laas in ’n kerk was, van haar sondes vry. “What are you doing?” vra Bridget. “Washing you clean,” antwoord Franny.

 

In hierdie film lê Gods vergifnis en genade in die woorde van ’n kind.

 

In ’n artikel met die opskrif “And a little child shall lead them” (’n verwysing na Jesaja 11:6) skryf die feministiese teoloog Lyn Holness dat hoewel kinders aan die hart van die Christelike geloof staan, kindskap binne die kerk en ons samelewing dikwels beskou word as ’n voorlopige, voorbereidende stadium vir ‘ware’ menswees – naamlik volwassenheid.

 

Tog bevat die Bybel talle verhale waarin kinders sentraal staan – soos in die verhale van die seuns Moses, Dawid en Samuel – skryf Holness. Christus self word mens in die gestalte van ’n kind. In die vleeswording word ons aandag hervestig op kinders en kindskap. Sonder die kind Jesus is daar immers geen goeie nuus nie, want sonder die inkarnasie is daar geen kruisiging en geen opstanding nie. Sonder Godskind is daar geen evangelie nie.

 

Tog gaan dit om selfs meer as blote kindskap, meen Holness. God kies om vlees te word binne die geskiedenis in die gestalte van ’n kind wat gebore word aan arm en eenvoudige ouers; binne ’n buite-egtelike tienerswangerskap, en aan ouers wat binnekort vlugtelinge sou word.

 

In die Koptiese tradisie staan verhale van Josef, Maria en Jesus se tyd in Egipte sentraal. Die familie vlug om koning Herodus se massamoord op kinders te ontsnap (Matteus 2:13-23), en binne die Katolieke kerk is die ontvlugting na Egipte ook een van die sewe smarte van Maria. In heelwat van hierdie verhale, opgeteken in apokriewe boeke waarin die familie se tyd in Egipte beskryf word, verrig die kind Jesus wonderwerke.

 

Hierdie verhale, skryf Lyn Holness, wys daarop dat Jesus alreeds as ’n kind volledig God en mens is. Jesus se verlossingswerk begin nie eers wanneer hy ’n volwassene is nie. Die Koptiese tradisie, waarin hierdie verhale gekanoniseer is, beklemtoon hiermee juis dat Christus as kind reeds die werk van verlossing, genesing en florering verrig.

 

Kinders is volledig mens.

 

Dit is ’n skreiende aantyging teen ons dat daar meer as ’n 1 000 kinders elke jaar in Suid-Afrika vermoor word. Dit kom neer op meer as drie kindermoorde per dag – waarvoor volwassenes grotendeels verantwoordelik is. Volgens professor Shanaaz Mathews, direkteur van die Kinderinstituut by die Universiteit van Kaapstad, is hierdie syfers waarskynlik ’n onderskatting, omdat heelwat moorde nie behoorlik ondersoek word nie of gewoon oorgesien word deur wetstoepassers.

 

Ons hoef bloot in hierdie dae te dink aan die nuus rondom Jerobejin van Wyk (13) van Klawer, wat wreed vermoor is deur ’n volwassene.

 

Is ons samelewing enigsins meer menslik en veilig vir kinders as dié van Herodus – veral vir kinders wat, soos Jesus, arm en eenvoudig grootword? Wat bly vir ons, wat die verhaal van koning Herodus se massamoord op kinders elke Adventstyd met soveel afgryse lees, dan anders oor as om bitterlik te huil oor die daaglikse vergrype teen kinders?

 

“’n Stem is in Rama gehoor, ’n droewige gehuil en ’n luide rouklag; Ragel huil oor haar kinders, en sy weier om vertroos te word, omdat hulle nie meer daar is nie” (Matt 2:18).

 

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is lid van die moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.