Hoe is Covid-19 besig om die rouproses te verander?
Slaggereed sit seker so twintig van ons een onlangse Vrydagmiddag om 16:00 elk in ons eie blokkies op die rekenaarskerm. Hier en daar ’n bekende gesig, maar, soos dit met begrafnisse gaan, is die belangrikste persoon nie hier nie.
Wyle oom Phil was ’n matige maar hardwerkende pa en eggenoot, ’n grootkop in Scout-kringe, in sy jongdag bestorm deur ’n renoster tydens ’n staptog in ’n Zoeloelandse wildreservaat … en glo ’n legendariese om-die-kampvuur-sanger, hoewel ek slegs sy weergawe van “White Christmas” onthou – sy nie onproblematiese liedjiekeuse tydens my Apartheid-era grootwordjare in Durban.
Ons groet hom vandag en rou so alleensaam soos ons deesdae rou. Oor Zoom met die tipe laslappieliturgie wat navorsers soos dr Nicolaas Matthee reeds ’n geruime tyd besig hou.
Matthee is ’n navorsingsgenoot verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy soek en kyk aanlyn begrafnis- en roudienste. Deur die lens van Praktiese Teologie zoem hy in op hoe gelowiges hulleself inrig tydens eredienste – die sogenaamde liturgie van die byeenkoms. Daarin spesialiseer hy. “… Ritual liturgical expression of death, grief and bereavement in online and digital space,” soos dit gestel word in die oor-die-outeursteks van ’n nuwe publikasie waarin Matthee ’n insiggewende bydrae gemaak het onder die titel “Do funerals matter? Grieving during Covid-19”.
Dit is Matthee se navorsing waartoe ek my wend toe ek na afloop van oom Phil se diens probeer sin maak van ’n privaat vermoede wat sekerlik teen hierdie tyd min of meer universeel moet wees: Dat dit ingewikkeld is om sterflinge van pre-pandemie begrafnisse te speen.
’n Vol lewe, kortliks
Oom Phil was altyd aan ’t reis ná sy aftrede, wat opsigself vir my soos ’n leeftyd gevoel het omdat hy reeds ’n geoliede pensionaris was toe ons ’n paar dekades gelede via sy tweede huwelik familie geword het. Hy was 91 toe hy dood is. Rustig. Vredig, vertel sy jongste seun, wat einduit na hom omgesien het. Phil het video’s geskiet en geredigeer voor dit alledaags was. Hy was vrygewig met sy tegniese kennis (“you’ll notice, I don’t pan”). Hy het selfs ander se vakansievideo’s reredigeer en netjies verpak in VHS-formaat met ’n titel op die plakker geskryf in sy stellig dog beskeie handskrif. Na hierdie dinge dwaal my aandag terwyl ’n Anglikaanse eerwaarde uit Durban die geestelike sy van die virtuele roudiens hanteer. Sy’s ’n ouer dame wat met vreugde herroep hoe broer Phil daai dag ’n swaai op ’n speelgrond reggemaak het en basies met groot selfloosheid geleef het. Sy ander seun praat oor sy pa se nalatenskap. Aan dié se sy, sit sy vrou. Hulle is aan tafel in ’n baie chic kombuis iewers in Amerika. Hulle kinders, verspreid oor daardie land, skakel ook in. Elkeen kry kans om te vertel hoe hulle oupa Phil onthou. Daar is ook gesigte uit Kanada en ander lande, maar die meerderheid is vanmiddag in KwaZulu-Natal, in ’n land waar Covid-19 sowat 95 500 mense weggeraap het, volgens Sacoronavirus.co.za, en waar plaaslike leraars dikwels met min aanloopbaan moes styg tot op ’n punt waar hulle teologies én tegnologies vlot genoeg is om gelowiges te help troos vind en afskeid neem.

“Voor Covid-19 kon Suid-Afrikaners kies om te treur en rou op wyses wat vir hulle relevant was,” skryf Matthee in sy hoofstuk wat vervat is in die bundel Covid-19 in congregations and communities, uitgegee deur Naledi en saamgestel deur prof Ian Nell, ook van die US. “Vir menige mense was dit die bywoning van ’n begrafnis as die primêre doodsverwante ritueel.” Inperking het verlies aan opsies gebring. Hoe rou ek nou? Ook vir my was dit waar. Oom Phil se digitale roudiens het ten slotte nie die tekstuur van ’n “regte” begrafnis gehad nie. Daar was nie die rooi grond waarmee ’n graf in Durban gaap nie. Daar was nie die kurkdraaigevoel op die krop van die maag wat sommige van ons kry met die sien van ’n lewelose gesig nie. Daar was – hoewel ek hom tot my eie verrassing skielik intens gemis het en spyt gevoel het dat ek geen van sy vele Kerskaartjies beantwoord het nie – nie die slopende begrafnisgevoel wat die digter WH Auden verwoord nie as hy in “Funeral Blues” skryf:
The stars are not wanted now; put out every one,
pack up the moon and dismantle the sun,
pour away the ocean and sweep up the wood;
for nothing now can ever come to any good.
Daar was net gesigte op ’n skerm en die opsie om jouself te Mute.
Matthee werp lig hierop. “Die internet en verwante tegnologie is eenvoudig een van die prominente spasies waar ons lewe plaasvind,” het hy per e-pos in reaksie op ’n paar vrae laat weet. “In die fisiese realiteit is liggaamlike deelname sentraal, waar die digitale ruimte meer die kognitiewe en emosionele aspekte van ons menswees beklemtoon.”
Ek vra na tendense in liturgiese reaksies tot die wegval van die opsie om iemand “tradisioneel” te begrawe. “Vanuit my navorsing was dit duidelik dat mense op baie maniere, maar twee spesifiek, uitdrukking gegee het aan hulle rou. Die eerste is deur in ’n digitale spasie te repliseer wat hulle ken en gewoond aan is vanuit die genormaliseerde (fisiese) realiteit. Met ander woorde, die gewone goed (rituele) wat plaasvind by ’n begrafnis is gerepliseer op bv Facebook. Tipiese rituele soos om iets te sê oor die person wat dood is, foto-slideshows, die speel van musiek wat kosbaar was vir die oorledene ens is op groepe, walls en individuele profiele geplaas, amper soos wat dit sou wees by ’n fisiese roudiens. Daar was dan ook ’n tweede manier, een waar nuwe rituele gekonfigureer is in digitale spasie. Hier is tegnologie op aangepaste en ‘nuwe’ wyses gebruik om uitdrukking te gee aan rou. Byvoorbeeld, die skep van profiele of ‘pages / accounts’ wat dien as ’n plek van herinnering aan die persoon. Hier sal ’n mens dikwels gebede en selfs gesprekke vind wat die wat rou voer oor of selfs met die oorledene,” verduidelik Matthee.
Watter implikasie het hierdie soort innovasie, wonder ’n mens? “Ek is self nie seker wat presies die implikasies hiervan is nie. Wat ek wel kan sê vanuit my navorsing is dat die realiteit van ons lewe wat by die nexus van die digitale / fisiese plaasvind, die individu agentskap gee om beheer te neem van hoe hulle aan rituele deelneem of selfs hulle eie rituele skep. Hierdie staan in kontras met hoe rituele tradisioneel verstaan word. Nie te lank gelede nie het die meeste mense presies geweet hoe nagmaal werk, hoe ’n doop werk, hoe ’n roudiens werk, maar met die veranderinge wat Covid gebring het, moet baie mense weer en krities dink oor die rol van hierdie rituele in hulle lewe en hoe hulle daaraan deelneem,” aldus Matthee.
Hy som later op: “Liturgie (moet) altyd besig en reg wees om te migreer, anders het ons dalk nie ’n antwoord op die volgende ‘Covid’ nie.”
Tired of livin’
Na sowat 40 minute se diens, kondig oom Phil se oudste seun uit die kombuis in Amerika aan dat hulle wil “uitspeel” met ’n klankopname. Dit is Phil self se stem. Hy sing “Ol’ Man River”. Die opname klink “bootleg” en rou. Oom Phil was miskien in sy 60’s toe hy opgeneem is, iewers om ’n kampvuur, geklee in sy kenteken-denim kortbroek en noupassende T-hemp, sy grys hare netjies gekam. Maar hier klink sy stem soos ’n blinde loonarbeider in die kloue van groot persoonlike verlies en onwrikbare ongeregtigheid. Dit is in kontras met die roudiens-fototjie van die glimlaggende Phil wat ons hier herdenk. Ek ken boonop nie die liedjie nie, wat beteken ek ontvang dit rein. (Ek gaan Google wel later Paul Robeson se weergawe.) In boksterme is my ken blootgestel en die momentum van die lirieke tesame met Phil se skor stem laat my steier:
I gets weary, and sick of trying
I’m tired of livin’, but I’m scared of dyin’
But ol’ man river, he just keeps rolin’ along.
Dan is die diens skielik klaar. Die liturgie gedaan. Die seuns groet en bedank hierdie internasionale opwip-vriendekring vir hulle bywoning. Dit is tyd om af te meld. Ek Unmute myself, maar ontdek soos daardie ander liedjieboer, Koos du Plessis, ons waarsku: Hartseer is stom.
- Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
- Koop die boek aanlyn deur HIER te kliek.