Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Participate Envision Navigate is waarvoor PEN vandag staan en dié middestadbediening in Pretoria is vanjaar 30 jaar oud – ’n suksesverhaal met ’n nederige begin waarop hulle uitvoerende hoof en stigterslid dr Marinda van Niekerk baie trots is, want dit bly vir haar ’n mooi storie al het dit 'n paar brawe besluite gekos wat met tye pynlik was. Foto’s: Verskaf

PEN se mooi storie oor 30 jaar was nie sonder pyn nie


Toe kinders in die grendeltyd begin agter raak met hulle skoolwerk, het die NG-gebore hulporganisasie PEN op WhatsApp-groepe daagliks lesse aan die skoolkinders in hulle jeugprogramme gestuur. In hierdie groep was ook 30 matrieks wat almal geslaag het.

Dít is maar een van vele inspirerende stories wat Participate Envision Navigate, waarvoor PEN vandag staan, het om te vertel, kom ’n mens gou agter as jy op hulle webwerf gaan rondloer. Dit is ’n organisasie sonder winsbejag met ’n visie om van jongs af al ’n impak te maak om die bose kringloop van armoede in mense se lewe te verbreek.

Dié middestadbediening in Pretoria is vanjaar 30 jaar oud – ’n suksesverhaal met ’n nederige begin waarop hulle uitvoerende hoof en stigterslid dr Marinda van Niekerk baie trots is, want dit bly vir haar ’n mooi storie, noem sy onlangs op RSG se gewilde godsdienstige leefstylprogram “Sondagjoernaal”. Kerkbode vra haar om te vertel wat vir haar so merkwaardig aan PEN se storie is.

Dankbaar vir ’n kwynende gemeente se brawe besluit

Sy begin PEN se storie 30 jaar terug by ’n groepie bejaarde lidmate van ’n eens florerende maar nou krimpende middestadgemeente met moeilike besluite om te neem. “Die visie van PEN het meer as 30 jaar gelede in die hart van Pretoria NG gemeente se toe al meestal bejaarde lidmate ontstaan. Hulle gebed was dat hulle gemeente steeds relevant sal bly al verander die konteks,” vertel Marinda. As jong proponent het sy in die tyd by dié gemeente, die oudste NG gemeente in Pretoria, begin werk in haar eerste pos as predikant. Dit was die vroeë 1990s – ’n tyd van “radikale sosio-ekonomiese en politieke verandering in ons land,” soos sy dit stel.

Op die tafel was ’n voorstel om 50% van die gemeente se eiendomsreg in ’n trust te plaas vir ’n plaaslike VGK-gemeente, maar daar was teenkanting. Hierdie was ’n gesiene gemeente, by dié historiese kerkgebou in Bosmanstraat is “Afrikanerministers ingehuldig en begrawe”.

“Dit was moeilik. Ons is uitgemaak as traitors van die Afrikanervolk,” onthou Marinda. Dit is in dié tyd dat PEN (toe gestaan vir Pretoria Evangelisasie en Nasorg) gestig is. “Só, ’n baie mooi storie, maar hy het met baie pyn en lyding gekom … vandag kan ’n mens die vrugte pluk van die moeilike besluite … PEN se hele bestaan is te danke aan Pretoria-gemeente se brawe besluit,” sê sy oor die gemeente wie se verhaal van transformasie sy graag as voorbeeld gebruik.

’n Vinnige Google-soektog bring aan die lig dat skaars 15 jaar later PEN die enigste oorblyfsel van die werk was, wat deur dié gemeente begin is, wat steeds aangegaan het na Afrikaanse dienste in 2007 afgeskaf is, volgens die webblad gemeentegeskiedenis.co.za. Vandag is die gemeente in die proses om met die plaaslike VGK gemeente Mamelodi ya Tswane te verenig.

 

PEN – ’n uitdagende droomwerk

Op die vraag of sy as jong proponent in 1992 ooit sou kon droom dat sy 30 jaar later aan die hoof sou staan van ’n NPO met 120 permanente werknemers én ’n groot groep vrywilligers, lag sy vrolik: “Ek het begin by Pretoria-gemeente en gou vir myself uitgemaak ek sal baie gou verveeld raak in die tradisionele gemeente-opset. Iemand sê nou die dag vir my, ‘Marinda, jy leef jou droom’ en ek sê ‘dis absoluut so. Ek leef in die wonderlikste spasie. Ons design klinieke, ontwerp programme vir kleuters, is besig om elke dag nuwe goed te skryf vir jeugwerk en ons homeless programme en ons vroueprogramme. Ek love wat ons doen! Dis so ’n wonderlik kreatiewe spasie … en ek moet heeltyd bly leer om beter te doen wat ek doen.”

Dié droomwerk sluit in projekte met kleuters, jeug en volwassenes. “Ons strategie sluit in om ’n ekosisteem van sorg te skep rondom mense (spirituele sorg, fisiese sorg, emosionele sorg, gemeenskapsbou en beroepsgereedheid). Binne hierdie benadering leer ons mense om vir hulleself verantwoordelikheid te neem en goeie besluite te neem,” verduidelik sy. Die uitkomste van hierdie strategie sluit in die akademiese ondersteuning en leiding met die aanleer van lewensvaardighede vir jongmense om hulle te help om verantwoordelike lewens te lei.

Dit sluit ook kwaliteit kleuterskoolonderrig in waarby ’n geskatte 3 000 kleuters in 80 informele kleuterskole in die breë Gauteng baat vind. Marinda raak passievol as dit kom by hoe belangrik dit is om kinders vroeg skoolgereed te kry. Dan is daar ook projekte wat shelters, drop-in centers en werkskeppingsprogramme insluit.

Die verval binne die middestad-omgewing van Pretoria bied ’n uitdagende werkomgewing. ’n Mens se kop spin van elke dag gekonfronteer word met Suid-Afrika se probleme, erken Van Niekerk. “Jy is heeltyd besig om met die giants van ons samelewing te stoei en te veg en jy moet by wees …” maar dan skop haar innerlike optimis weer in en voeg sy gou by dat dit ook ’n wonderlike leerspasie is.

Die afgelope twee jaar met Covid het soveel mense hulle werk verloor en was die behoefte aan noodvoedsel so groot dat PEN genoodsaak was om terug te beweeg na ’n sterk noodvoedsel-voorsieningsbeleid. Die organisasie het hulle netwerke, wat oor jare gevorm is, gebruik om klere, voedsel en skoonmaakmiddels in te samel vir ’n groot groep diensorganisasies in die stad. Hulle moes ook hulle eie shelter-programme uitbrei van twee na vyf noodbehuisingsprojekte (drie vir manne en twee vir vroue).

PEN se programme sluit ook kwaliteit kleuterskoolonderrig in waarby ’n geskatte 3 000 kleuters in 80 informele kleuterskole in die breë Gauteng reeds baat vind.
Tydens die pandemie was PEN genoodsaak om hul eie shelter-programme uit te brei van twee na vyf noodbehuisingsprojekte (drie vir manne en twee vir vroue).

Om te sien mense word geraak deur God se liefde gee hoop

Op die vraag wat gee hulle hoop te midde van die nood wat net al groter raak, sê Van Niekerk die feit dat hulle sien mense word deur God se liefde geraak en hulle pas hulle lewe daarvolgens aan, gee haar hoop. “Kinders wat leer om met respek en liefde na hulle medemense en omgewing om te sien; volwassenes wat ouers word wat lief is vir hulle kinders en alles sal doen om vir hulle ’n beter toekoms te gee; gemeentes wat hulle roeping verstaan en leef vir ander; besighede wat hulle Koninkryksroeping vind en geld aanwend tot diens aan organisasie soos ons … hierdie klein groen grashalms van hoop en tekens van ware transformasie, gee my hoop.”

Vir hulle 30ste bestaansjaar word daar vir elke maand van die jaar tot November iets beplan – daar is feestelike samekomste, ’n kuns-en-wynfondsinsameling in Mei, ’n spesiale ‘brag’-sessie algemene jaarvergadering in Junie en ’n groot gemeenskapsfees op die naweek van 30 September tot 2 Oktober.

Van stop is daar by PEN geen sprake nie. Hulle is daar om ’n verskil in ’n uitdagende middestad-omgewing te maak en dit so wyd moontlik. Nou die dag, vertel Marinda, stuur iemand vir haar die bekende storie van die seesterretjies wat jy een vir een in die see kan teruggooi om darem ’n paar te red. “Toe sê ek, nee my magtig! Dit gaan nie help nie. Ek is een van daai wat sê kry die bulldozers (om te kom help)!” lag sy hande aan ’t beduie in die lug. Só, daarom is hierdie jaar 2022 “die jaar wat PEN graag daarop wil fokus om met groot dankbaarheid aan die Here vir sy troue sorg die nederige verhaal van PEN te vier,” sluit sy af.


Hoe kan ek of my gemeente betrokke raak by PEN?

Daar is baie praktiese maniere om betrokke te raak: 

  • Help met insamelings van kos, klere en ander hulp.
  • Finansiēle hulp is baie welkom: hou ’n partytjie en laat jou familie en vriende bydra
  • Gee van jou tyd. Daar is ’n groot behoefte aan vrywilligers om te help met tutoriale hulp, aanbied van kleuterprogramme en die regpak van skenkings in PEN se store.

Jy kan ook betrokke raak by jou eie gemeenskap om so PEN se visie uit te leef: “Ons droom oor ’n land waar elke mense kan voel hulle behoort en floreer”. 

Besoek PEN se webblad by www.pen.org.za om meer uit te vind.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top