Wat behels die Goeie Nuus? | DIE NG KERK EN EVANGELISASIE Deel 3

AFLEWERING 3 UIT 4

In hierdie reeks artikels oor evangelisasie is die sentrale fokus op die persoon van Jesus reeds uitgewys. Sommige benaderings in evangelisasie laat die klem uitsluitlik op die mens se sonde val en dan word daar oorwegend op vergifnis gefokus. Uiteraard is dit ook waar, maar die heil in Christus behels veel meer en die Bybelse vertrekpunt in evangelisasie is nie die mens nie, maar Christus. In hierdie opsig gaan dit nie net oor wat Jesus gedoen het nie, maar oor wie Jesus is.

Daar is teoloë wat die aandag daarop vestig dat die teologie van Paulus in die verlede dikwels vanuit die verlossingsleer benader is in plaas van uit die Christologie. Wanneer dit gebeur word die volle heilsboodskap van die evangelie uiteindelik op ’n verskraalde wyse hanteer.

In sy boek Heil en heilsweg lewer Adrio König ’n pleidooi dat daar omvangryk oor die heil as sodanig nagedink moet word. In die verlede is daar al baie geskryf oor die heilsweg, maar die volle omvang van die heil moet ook verstaan word.

Miskien help dit om die Heidelbergse Kategismus se verstaan van sonde onder oë te neem. Die kategismus beskryf sonde op ’n tweeledige wyse, naamlik sonde as skuld en sonde as mag. Wanneer die kategismus verder oor sonde as mag handel, word dit as ellende getipeer. In sommige evangelisasiemateriaal en -benaderings word uitsluitlik gefokus op sonde as skuld. In hierdie verband het die teoloog Karl Barth gesê dit is goed dat die gereformeerde teologie God se genade rakende sondeskuld raakgesien het, maar jammer dat hierdie tradisie nie God se genade rakende ellende raakgesien het nie.

In die heil van God gaan dit om beide regverdiging en geregtigheid soos Ernst Conradie in sy boek Om reg te stel uitgewys het. Wanneer die kerk met evangelisasie besig is, moet daar omvattend oor die heil nagedink word. Die nood van mense verskil en gevolglik verskil ook hulle behoefte aan God se heil. In die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar (Luk 18:9-14) en die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Luk 16:19-31) sien ons twee mense voor God, die een in sy skuldbelydenis en die ander een in sy smeking oor sy ellendige bestaan. Beide het die genade van God op eiesoortige wyse nodig.

Evangelisasie moet vanuit ’n koninkryksperspektief benader word waar dit gaan om Jesus as die Here wat die koninkryk van God naby gebring het. In hierdie konteks gaan dit om aardse heil sowel as ewigheidsheil. Soms is dit net ewigheidsheil wat in evangelisasie aan die orde gestel word. Hierdie situasie kan goed met die eerste woorde van Markus se Evangelie geïllustreer word. Die boek begin met die woorde: Die begin van die evangelie van Jesus Christus. Hierdie woorde staan by hoofstuk 1 vers 1. Dit staan nie as ’n opskrif eers by hoofstuk 14 nie. Met ander woorde, die evangelie kry reeds in Galilea gestalte. Die opskrif in Markus 1:1 word opgevolg in vers 14 waar Jesus die evangelie begin verkondig – voor die kruisiging! En dan beskryf Hy die evangelie as die koninkryk van God.

Uiteindelik sterf Jesus aan die kruis as die Onskuldige vir die skuldiges, maar ook as die Slagoffer vir die ellendiges.

Die Wêreldraad van Kerke se dokument oor missionaliteit en evangelisasie, Together towards life, wat nou in Afrikaans beskikbaar is, poog om met die konsep van ‘lewe’ omvattend met die heil om te gaan. Die openingsin lui: “Ons glo in die drie-enige God wat die skepper, verlosser en onderhouer van alle lewe is”. En dan word ook gesê dat Jesus Christus se missie is om die lewe in sy volheid te bevestig.

    • Hierdie reeks is gebore uit bydraes by ’n kursus getiteld “Die verleentheid van die e-woord” en word in samewerking met die Algemene Sinode se Werkgroep vir Evangelisasie gepubliseer.
  • Ds Leon Westhof is ’n leraar by NG Gemeente Elarduspark.
Word 'n vriend van Kerkbode