Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dubois van Kestell skryf: Daar was al baie konflik en stryd oor die Algemene Sinode (AS) se 2019 Selfde-geslagverhoudings (SGV) besluit wat gelei het tot vasgelooptheid in die NG kerk met die grootste verdeeldheid seker in die geskiedenis.
Maar by dieselfde sinodesitting 2019 het ’n verslag onder die radar gedien wat dalk baie groter implikasies gaan inhou vir die eenheid van die NG Kerk se toekoms.
LEES OOK: Die oogmerk van die NG Kerk se ‘droomscenario’
In 2016 gee die AS opdrag aan ’n Taakspan Kerkverband om ondersoek in te stel na die kerk se toekoms as kerkverband en posisionering van haar rol as missionale kerk in Suid-Afrika.
Die taakspan het by die 2019-sinode hulle bevindinge voorgelê as Visie 2030, (later Droomscenario 2030), waarin verskeie skokkende voorstelle gemaak is en wat openbaar waarmee die AS oor jare heen mee besig is.
LEES OOK: Volledige lys lesersbriewe
Waar die evangeliese ywer van die NG Kerk die afgelope 30 jaar afgeneem het om verskeie redes, het die kerk se missionêre fokus nou geskuif na missionale diakonaat wat sentreer rondom sosiale geregtigheid en word so gedoseer aan teologiese fakulteite.
Die doelwitte is in lyn met die Verenigde Nasies se Agenda 2030. Daar is dus ’n samehang tussen die Grondwet (Menseregte) en Visie 2030 wat alle kerkgemeenskappe (“Reformed Family Forum” – RFF) wat reeds in netwerke betrokke is met die NG Kerk, wil saamneem in nuwe vennootskappe om ’n alternatiewe ekumeniese, inklusiewe, relevante vloeibare kerkgroepering te vestig in “Een Liggaam van Reformatoriese Geloofsgemeenskappe” met ’n eie belydenisgrondslag.
Om dit reg te kry, moet die 500 jaar oue soliede, eksklusiewe, nie-relevante gereformeerde patriargale kerk se identiteit nie net aangepas nie, maar afgebreek en getransformeer word. Die voertuig hiervoor is die Algemene Kuratorium (AK) en teologiese skole.
Daar is reeds ekumeniese samewerking al vir dekades om leraars en ander geestelike leiers van alle kerkverbande op te lei en voor te berei hiervoor. Dit is waarom ons vasgeloop is – die eksklusiewe en inklusiewe groeperinge in die NG Kerk verskil oor ons Bron (Skrif) van waarheid waarvandaan ons kom en ons visie waarheen ons op pad is.
God het aan ons ’n opdrag gegee in Matteus 28, maar as die opdrag nou verander word deur die kerk, kan ’n groep lidmate en leraars nie saamloop nie. Ons moet dus almal die Bron van Waarheid herontdek as ons vertrekpunt en God se droom of visie vir sý kerk uitvoer sonder om aanpassings te maak, dan is ons ware kerk van Christus, die mensdom se Verlosser van sonde.
