Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Predikante moet die mense aan wie hulle hulle dienswerk lewer se gedagtewêrelde (Filosofie), binnewêrelde (Sielkunde) en saamleefwêrelde (Sosiologie, Politiek, Etiek, Ekonomie) op geldige maniere hanteer, ten einde relevant te wees. Die alternatief is ’n bediening wat lewensvreemd by mense verbygaan, skryf Christo Lombaard.
In die Kerkbode-uitgawe van 3 Maart 2023 (“Dominees! Hoekom so baie grade agter julle name?”), vra Gerrie de Lange die vraag, goed-grondig en -bondig, in ’n lesersbrief: “Hoekom is elke tweede dominee ’n doktor? Is dit vir status, ’n beter salaris of vir wat? Hoekom so baie tyd mors vir verdere naslaanwerk, navorsing, ens, om ’n doktorsgraad te verwerf? Het ’n dominee tyd vir sulke dinge? Party het selfs twee doktorsgrade! G’n wonder die evangelie kry nie genoeg aandag nie! Hoekom is doktors nie lief vir huisbesoek nie?”
Miskien bedoel De Lange sy brief heel ernstig; miskien as sommer net ’n vinnige gedagte. Hoe dit ookal sy, hy verwoord daarmee ’n sentiment wat elke nou en dan gelug word, waaroor ek al ’n rukkie lank iets vir Kerkbode wou skryf. Ek neem daarom hier die vrymoedigheid, met dank dat hy die kwessie weer tuisbring binne openbare gesprek.
LEES OOK: ‘Om kerke te bou op ’n rasbasis is liefdeloos’
Eerstens: Hoekom verder studeer? Kom ons begin daar.
Die langslewende instelling in ons wêreld, is die kerk – dit bestaan ’n goeie twee millennia lank al. Die tweede-langslewende instelling in die wêreld, wat nou so rofweg ’n millenium lank al bestaan, is die universiteitswese. Die universiteitswese het, nota bene, direk vanuit die kerk ontstaan, met die doel om kerk-en-samelewing ten dienste te wees. Om dus kerk en akademie teenoor mekaar te stel (“so baie tyd mors vir verdere naslaanwerk, navorsing”), werk nie lekker nie: geloof en nadenke/navorsing kan in beginsel nie sonder mekaar nie. Die een stig juis die ander. Vandaar die eweneens nagenoeg millennium-oue wysheid van Anselmus (wat hy op ’n manier oorgeneem het van Augustinus, nog ’n ses eeue of wat vantevore), fides quaerens intellectum: geloof soekende na begrip. Anders geformuleerd: “Ek glo, Here; help my verstaan”. Dít is wat studie behels. Met hierdie verband, dat die geloof die rede inspireer, en dat die rede geloof en mensdom ten dienste staan, wat diep-Bybelse gronde het: dat ons God geheel liefhet met hart, siel en verstand (Deuteronomium 6 se openingsverse en Matteus 22 se slotverse, onder meer).
Dit klink op die oppervlak dalk op ’n manier vroom, Vir wat nog swot? ’n Denkelose geloof is egter nóg Bybels nóg Christelik – in beginsel; dit wil sê, op heel basiese geloofsgronde al.
Die praktiese eise om God, kerk en medemens ten diens te staan as dominee, verg verder dat bedienaars hulle roeping tot studie as óók-verstandsdiens ernstig neem. Die Bybel as Woord van God is aan die Christelike kerk gegee in Hebreeus, Aramees en Grieks. Dit is 100% prakties-gesproke die openbaringstale. So ís die Skrif. Sal ons dan nou eerder, prakties-gesproke, die Bybel op ’n afstand wil hou deur nie hierdie openbaringstale ernstig te neem nie?
LEES OOK: KYK | Droogtehulp: ‘Elke klein bydrae help’ – 2023 RSG Red ’n Plaas
Hier en daar in die wêreld is daar wel ’n gelowige of twee wat ’n Christelike lewe sonder die Skrif voorstaan. Vir die oorgrote meerderheid van ons, egter, kán ons eenvoudig nie sonder hierdie Basis-kenbron nie. Die Gereformeerde / Calvinistiese geloofsbegrip is die Christelike tradisie wat hierdie aspek mees sentraal stel. Daarom neem die Afrikaanse kerke nog altyd die grondtale van die Bybel baie ernstig op, as ’n onlosmaaklike deel van predikantsopleiding. Daarin lê, bo en behalwe die geloofsrealisme dat die Bybel vanuit daardie antieke tale met ons praat, ook gewoon-menslike integriteit waarvan ons die waarde deeglik moet besef. Naamlik: Sou ons iemand wat praat oor Shakespeare se dramas maar nie Engels kan lees nie, ernstig neem? Sou ons na iemand wat praat oor NP van Wyk Louw se digkuns maar wat nie eens Afrikaans magtig is nie, gaan luister? Ons sal hulle mos uit die gehoorsaal uit lag. Hoe dan minder met die Bybel?
(Vra gerus dié tipe vraag aan ’n rabbi oor Hebreeus of aan ’n imam oor Arabies, en jy sien onmiddellik die verbasing deurslaan: maar hoe dan ánders?)
Met 66 boeke in ons Bybel, sal iemand dalk wil voorstel, “Ag, kom ons bestudeer maar net ’n gedeelte van ons kanon; kom ons leer ken net ’n bietjie Bybel”? Dit sou ’n standpunt geheel sonder integriteit wees. Daarom dat ons predikante-opleiding jare se studie van die Ou en Nuwe Testamente vereis; mét die grondtale. Eerder as “G’n wonder die evangelie kry nie genoeg aandag nie!”, is die teendeel juis waar: die evangelie kry die meeste aandag. Die Bybel en geloof verg studie wat, verder ook, nie anders kan nie: dit moet lewenslank voortgaan … Tensy iemand wil voorstel dat verdere geloofsgroei onnodig is vir dominees?
Nou’t ons dalk ’n redelike begrip van die Bybel bereik, maar moet ons dan nou liewers niks weet van hoe die kerk oor 2 000 jaar heen ontwikkel het nie; tot hier toe, vandag by ons nie? (Kerkgeskiedenis / Historiese Teologie.) Moet ons 20 eeue se sentrale geloofstandpunte van die kerk onbestudeerd laat? (Dogmatologie / Sistematiese Teologie). Sou ons die kerk en gelowiges se aktiewe roeping deur die eeue heen, deur die wêreld heen ignoreer? (Sendingwetenskap / Missiologie.) Sou ons gemeentes se ordening maar daar laat? (Kerkreg.) Sal ons die werk van die kerk maar liewers net oningeligd probeer verrig? (Prediking, Diakonaat, Jeugwerk, Gemeentebou, Kategese en nog vele meer …) Wat van hierdie “kernensiklopedie” van die teologie vereis nie diepgaande, jarelange intellektuele toewyding ten einde God, kerk en samelewing verantwoordbaar (eerder as sommer net lukraak) ten dienste te wees nie? Welke van hierdie vakgebiede sal ons eerder afskeep of afskaf? Kan iemand ’n voorstel maak, om ons op daardie weg te begelei?
Dan moet predikante nog die mense aan wie hulle hulle dienswerk lewer, se gedagtewêrelde (Filosofie), binnewêrelde (Sielkunde) en saamleefwêrelde (Sosiologie, Politiek, Etiek, Ekonomie) op geldige maniere hanteer, ten einde relevant te wees. Die alternatief is ’n bediening wat lewensvreemd by mense verbygaan. Is daar iemand wat dalk wil stem gee ten gunste van so ’n irrelevante tipe evangeliebediening, wat by mens-en-wêreld verbypraat? (Om predikantsopleiding los van die universiteitswese te probeer bedryf, waarvoor daar elke nou en dan stemme opgaan, sal daarom onvermydelik die kerk se roeping diepgaande knou. Alkante toe.)
Teologiese opleiding wat eerder mens-en-wêreld op geldige maniere in dialoog wil stel met geloof-en-kerk, moet dit roepingsonthalwe doen aan die hand van die beste beskikbare insigte. Vandaar dat predikantsopleiding naas studiewerke in Afrikaans en Engels, en naas die Bybelse grondtale, ook dikwels direk op ander wetenskapstale van ons tyd moet steun. Vergeet ook nooit die veeltalige wêreld waarin ons van dag tot dag lewe nie.
Vandaar dat, tradisioneel, die roeping tot Afrikaanse teologiese opleiding insluit, studie tot op minstens meestersgraadvlak. Teen daardie tyd weet predikante dikwels reeds waar hulle Godgegewe akademiese talente lê, met die voor die hand liggende volgende stap dan, doktorsgraadstudie. Sou ’n mens predikante eerder hulle roeping wou ontsê om ook daardie dieptebydrae te maak in diens aan God en naaste? – “Jy het nou wel die vermoë om hierdie intellektuele liefdesdiens te lewer sodat kerk- en menswees béter kan wees, én jy het die akademiese voorbereiding daartoe; maar nee, moet liewer nie … Want spesialisbydraes binne koninkrykswerk is verdag.”
Wêreldwyd kry ’n mens in kerke hier en daar mense met, wat genoem word, ’n anti-intellektuele instelling. Die aanslag van daardie benadering is altyd asof geloof-sonder-nadenke op ’n manier beter sou wees as geloof-wat-júis-nadink. Dit is egter ’n valse vroomheid: dit dien die evangelie nie; inteendeel, dit skaad juis die evangelie. Soos ek dit ’n keer tevore elders gestel het:
Word dieselfde argument naamlik op enige ander spesialisgebied van toepassing gemaak, blyk die skrikwekkende aard daarvan onmiddellik – byvoorbeeld: “Ek is geen opgeleide chirurg nie; ek is maar net ’n doodgewone mens soos jy, en wat besorg is oor jou gesondheid; laat ek jou dus opereer”; of: “Ek is geen opgeleide ingenieur nie; ek is maar net ’n doodgewone mens soos jy, en wat besorg is oor ons vervoerstelsel; laat ek dus die brug oor die hoofpad bou.” Waarom word die absurditeit van hierdie tipe magsargument egter verduur, selfs waardeer, as dit by geloof kom? Geldig soos wat dit is dat eenvoudige mense se geloof bewonderenswaardige diepgang kan hê, waar juis dít egter tot gesagsaanspraak verhef word, verraai so ’n geloofshoogmoed juis die teendeel.
Ten slotte: Mnr De Lange vra, hoekom dan verdere studie onder dominees, “vir status, ’n beter salaris of vir wat?” En natuurlik voel hy korrek aan, dat daar altyd sekondêre en verdere sake is wat meegaan met spesialisstudie. Soos wat daar aanverwante sake meegaan met nagenoeg elke ding wat ons gewoonweg doen. (Ek gaan koop ’n brood, maar loop ook ’n vriend raak. Of ek gaan hou vakansie by familie langs die kus, maar ry sommer ’n paar boeke vir my ou buurman aan.) Die bysake doen egter nie afbreuk aan die hoofsaak nie. Die hoofsaak bly steeds, as dit kom by teologiese spesialisstudies: fides quaerens intellectum – geloof soekende na begrip.
Tot u diens.
Dr Christo Lombaard is hoof van Praktiese Teologie & Missiologie by die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.
(Later vanjaar verskyn ’n hoofstuk deur Lombaard getiteld “To understand — the purpose of research and of methodology” in ’n teologiese teksboek onder die redaksie van dr Jacques Beukes. Van die insigte in hierdie skrywe opgeneem spruit voort uit die navorsing onderliggend aan daardie hoofstuk.)
