Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Albin Bowler van Bellville skryf: Arnold Griesel, van Bethulie, se brief van 14 Januarie 2023 verwys.
In Griesel se oorspronklike skrywe (2 Desember 2022) onder die hofie “Wat dit ons (nog nie) vertel nie”, vra hy sekere vrae.
Daarin is dit baie duidelik dat hy die geweldige afname in lidmaatgetalle graag wil toeskryf aan lidmate wat verskil en ongelukkig voel oor predikante binne die NG Kerk wat die “verontagsaming van Skrifgesag” beoefen.
Nee, Arnold, diegene wat glo dat predikante Skrifgesag verontagsaam, het hulle aangesluit by Kairos se dolerende gemeentes. Bethulie is een van meer as 100 gemeentes wat doleer. Dolerende gemeentes is tans nog binne die NG Kerk en maak ongeveer 12% van huidige lidmate uit.
Die lidmate wat in 1986 uit die NG Kerk bedank het oor rassistiese redes, het die APK gestig. Hulle is tans, as persentasie uitgedruk van huidige lidmate in die NG Kerk, minder as 4%.
Die grootskaalse daling in lidmaatgetalle het nie plaasgevind weens die Kairos Netwerk se sienings oor “verontagsaming van Skrifgesag” of die APK se stigting nie.
Volgens my beskeie mening is die twee grootste redes vir die daling in lidmaatgetalle: baie lidmate wat hulle vertroue verloor het in die NG Kerk se vroeë steun aan ’n liefdelose Apartheidsbeleid (’n erge vergrype van verontagsaming van Skrifgesag), asook grootskaalse afvalligheid waar baie glo dit is nie nodig om in die drie-enige God te glo nie (sien my skrywe van 9 Desember 2022).
LEES OOK: Marileen Steyn gesels met Ansie van Wyk: Ander poste ook ’n roeping
Griesel se siening is ontstellend, naamlik daar is ’n “uitveeproses” aan die gang met die demografiese samestelling van lidmate. Dit klink asof die moderatuur en baie gemeentes doelbewus “wit” lidmate wegdryf, amper ’n kerklike BEE-program nastreef. Dit is doodgewoon nie waar nie.
Boonop het Griesel die NG Kerk se geskiedenis vergeet: In kort, oorspronklik was die lidmate van ons kerk gemeng. Sedert 1824 het daar ’n geleidelike proses plaasgevind waar bruin Afrikaanssprekendes uit die kerk gedryf is. Dit het tot die stigting van die Sendingkerk gelei (vandag die VGK).
Om kerke te bou op ’n rasbasis is liefdeloos, onBybels en onChristelik. Taal is ’n beter beginsel, m.a.w. enige persoon wat gelowig en Afrikaanssprekend is, en boonop ons gereformeerde tradisie koester, hoort in die NG Kerk. Daar is geen Bybelse rede waarom die NG Kerk en die VGK afsonderlik bestaan nie. Griesel se persepsie dat ek ’n geloofsdifferensiasiefokus ignoreer, is sy vreemde afleiding.
Ongelukkig is my brief verkort. Daarin noem ek pertinent dat die NG Kerk moet volhard in evangelisasie en sending.
En dit onder “witmense”, nou meer as ooit tevore. Ons moet bid én werk vir ’n herlewing, ’n Goddelike ingryping.
Om kleinserig te raak? Nee, baie meer is nodig. Dit is ons roeping: bou en stig gemeentes. Meer predikante en diensleraars sal benodig word, want die oes is groot.
