Ansie van Wyk, sekretaresse, leef ’n lewe van roeping. Nie net in haar werk nie, maar ook in haar doen en late as geheel. Dit is ’n roeping om mooi te maak, om te dien en om haar beste te gee. Marileen Steyn vertel meer.
Soos wat jy in Saldanha inry, pronk die netjiese skoolgronde van die Weskus Spesiale Skool aan jou regterkant. Dit is hiér waar leergestremde leerders van onder meer die Weskus, Moorreesburg, Clanwilliam en Vredendal vaardighede aanleer. Dit is ook hier waar Ansie van Wyk, sekretaresse, elke dag werk én dien.
Dominees is mos lief vir roepingstaal. “Ek het my roeping gekry toe ek 14 jaar oud was.” Kerkrade is net so lief vir roepingstaal – veral wanneer hulle ’n nuwe predikant moet aanstel. Dit word verklap in taal soos: “Vertel ons van jou roepingsverhaal.” Oor die afgelope paar jaar is daar wel al meer klem daarop geplaas dat almal ’n roeping het. Wanneer ek dr Doret Niemandt se onderhoud met dr Thys du Toit lees, word ek opnuut herinner dat dit nie net almal is wat ’n roeping het nie, maar dat alles van ons lewe ook ’n roeping kan wees en min mense beliggaam hierdie waarheid na my mening so goed soos Ansie van Wyk.
Die Weskusskool (soos dit bekend staan) is vir baie ’n integrale deel van die Weskus en Van Wyk, wat nou al vir 20 jaar daar sekretaresse is, is op die beurt ’n integrale deel van die skool. Sy is nie net daar omdat dit die eerste beste werk is wat sy kon kry nie. Vir haar was dit ’n saak van roeping, van die regte plek vind en dit was ’n saak wat sy in diepte met God bespreek het. Nou, soveel jaar later, kan sy met ’n opregtheid wat eie aan haar is, sê: “Ek lief dit om daar te werk, dis so heerlik!”

Almal kan dien
“Die leerders voel werklik tuis by die skool,” vertel Van Wyk. “Hulle word nie hier uitgestoot nie. Dit is hier waar hulle onder die leiding van wonderlike onderwysers en met die ondersteuning van die gemeenskap kan presteer.” Vir haar is haar werk die geleentheid om dinge mooi te maak. Van Wyk sien dit nie as net nog ’n brief om te tik, of ’n toets om te redigeer nie. Dit is die geleentheid om dit wat voor haar is mooier te maak vir ’n personeelkorps wat hard werk en vir kinders wat nie altyd gewoond daaraan is om die mooi van die lewe te sien nie. Dit is ’n geleentheid om te dien.
LEES OOK: Doret Niemandt gesels met dr Thys du Toit: ‘Roeping is jou unieke bydrae’
“Een van die eienskappe van Jesus wat ek die meeste van hou, is hoe Hy dien,” vertel sy. Daarom hou sy daarvan om oral waar sy kan, te dien en indien moontlik dit vir mense makliker te maak om dinge te doen. Sy haal Robin Sharma aan wat sê dat almal groot kan wees omdat ons almal kan dien. In dieselfde asem verwys sy na Kolossense wat van Christene vra om alles te doen asof hulle dit vir die Here doen. Vanuit hierdie oortuiging pak Van Wyk haar werk aan asof Jesus langs die persoon voor haar staan en asof die dokument waaraan sy werk, vir God is.
Nie dat Van Wyk altyd doelbewus werk met die gedagte dat haar Christenskap ’n invloed het op wat sy doen nie. Sy glo wel dat God haar geskep het om ongelooflike goed te kan doen – nie omdat sy so wonderlik is nie, maar omdat God haar daartoe in staat stel. “Die Here het my so gemaak. Ek kan nie anders nie, maar omdat Hy my dring om dit te doen.” Dit is God wat haar dring om met die vrug van die Gees te leef soos sigbaar in haar vriendelikheid, in haar lewensvreugde, in wie sy as Ansie is.
Vanuit my kontak met Van Wyk weet ek dat haar roeping nie net in haar kantoor lê nie. Dit is in haar huis waar sy gasvryheid en versorging teenoor ander betoon. Dit is in die berge waar sy, al stappende, na ander luister en hulle bemoedig. Dit is in die Ysterman wat sy in 2021 (op 60-jarige ouderdom) kon voltooi. Vir haar was dit ’n God-vervulde geleentheid waar sy ten diepste besef het dat God fisies vir haar krag gegee het en dat dié prestasie nie te danke aan haar eie krag of toedoen is nie. Na die Ysterman het Van Wyk beleef dat God vir haar sê: “Ansie, ek is lief vir jou: liggaam, siel en gees. As ek jou krag gee in jou liggaam, so ook kan ek jou krag gee in jou siel.” Dit is woorde wat haar krag gee om haar werk anders aan te pak, om ’n oor vir haar kollegas wat gereeld by haar kom sit (en vir wie sy soms bid) te wees. Dit gee haar die krag om te doen wat sy eintlik graag wil doen: om hoop te bring waar sy kan.
Die so what van dr Du Toit se navorsing lê nie in die deftige praatjies van teoloë of die programme van gemeentes nie. Dit lê in die lewe van mense soos Ansie, wat waar sy is haar roeping ten volle leef.
- Marileen Steyn is ’n doktorale kandidaat by die Universiteit Stellenbosch.
- Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
