Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Doret Niemandt gesels met dr Thys du Toit: ‘Roeping is jou unieke bydrae’


Thys du Toit glo dat die Here deur die Heilige Gees elke mens roep om iets te doen in sy koninkryk en hy wil mense help om God se roepstem te hoor sodat hulle daardie ‘iets’ kan ontdek en gaan doen. Roeping, vertel dr Du Toit, is elke persoon se unieke bydrae tot die samelewing. Du Toit skryf daaroor in sy tesis met die titel “Op soek na ‘gereformeerde roepingsverstaan’ in postapartheid-Suid-Afrika: ’n Prakties-teologiese ondersoek met die oog op lidmaatbemagtiging”.

Du Toit vertel dat hy as predikant self met roeping geworstel het. Is daar nog vir hom ’n roeping hier in Suid-Afrika? Het God vir hom ’n plan in hierdie land? Dit is die vrae wat in sy gedagtes gemaal het soos wat mense om hom geëmigreer het en groener weivelde gaan soek het, soos wat vriende moeg geraak het vir die land en negatiewe geselsies rondom die braaivleisvuur gemaak het, en soos wat hy gewonder het oor sy kinders se toekoms.

Thys du Toit hier met vlnr sy vrou Elnette, Elma, Luan. Foto: Verskaf

In sy studies ontdek hy dat roeping iets is wat van God af kom – en God het vir almal ’n plek en ’n doel en ’n toekoms. Ons vra gereeld vir ons kinders: ‘Wat wil jy word as jy eendag groot is?’ Moet ons nie eerder vra nie: ‘Wat dink jy is die gawes en talente wat Jesus vir jou gegee het en hoe kan jy dit eendag gebruik?’ Die een vraag is gefokus op ’n loopbaankeuse, die ander vraag is gefokus op God se koninkryk en jou plek daarin. Jou roeping. Wat natuurlik ook jou loopbaankeuse insluit. Om ’n keuse te maak tussen ’n dokter, ’n prokureur, of ’n juffrou gaan jou help om in te skryf by ’n universiteit, maar om bewus te wees van jou gawe of talent om mense te genees, om op te staan vir geregtigheid, of om jongmense se lewe te beïnvloed, dit is waar roeping inkom.

Du Toit vertel dat dit baie belangrik is om jou roeping te ontdek en hy gebruik Simon Sinek se ‘Golden Circle’-konsep om mense te help om dit te doen:

  • Die eerste vraag is: Hoekom?

Wat is die hoekom van jou lewe? Wat is die hoekom van jou geloof? Ons almal lewe altyd na ’n sekere teiken toe, wat is dit wat jóú lewensreis betekenisvol maak?

  • Die tweede vraag is: Hoe?

Wanneer jy die hoekom ontdek, is dit belangrik om te ontdek hoe jy jou gawes en talente kan gebruik en uitleef.

  • Die derde vraag is: Wat?

Eers wanneer jy die hoekom en die hoe ontdek het kan jy regtig ontdek wat presies dit is wat jy nou moet gaan doen.

Hier is ’n voorbeeld … As jy besluit jy wil ’n langafstandatleet word en jy wil die Comrades hardloop, dan is dit die ‘wat’. Om die regte hardloopskoene aan te skaf, ’n goeie oefenprogram te volg en gesond te eet, dit is die ‘hoe’. Maar die ‘hoekom’, die kernvraag, dit moet baie sterk en duidelik wees, anders gee ’n mens maklik op, verduidelik Du Toit. Mense begin gewoonlik by die ‘wat’; dit is egter wys om eers by die ‘hoekom’ te begin.

LEES OOK: Marileen Steyn gesels met Ansie van Wyk: Ander poste ook ’n roeping

Dit is dieselfde in ons geloofslewe, die ‘hoekom’ is baie belangrik. Wat presies is jou dryf? Eers dan kan jy uitkom by die ‘hoe’ en die ‘wat’.

Vyf ondersoekpunte

Dit is nie ’n eenmalige ontdekkingsreis nie en alhoewel die ‘hoekom’ dalk nie so baie deur jou lewe gaan verander nie, gaan die ‘hoe’ en die ‘wat’ baie verander soos wat jy en die wêreld om jou verander. Du Toit gebruik dan die vyf vrae van ’n waarderende ondersoek wat iemand kan begelei op hierdie ontdekkingsreis:

 

‘Define’ – Definieer jou ‘hoekom’. Hoekom is dit vir jou belangrik om met ’n roeping te leef? Hoekom moet jou roeping gefokus wees op God se koninkryk?

‘Discover’ – Ontdek jou huidige ‘hoe’. Hier is dit belangrik om te begin by dit wat vir jou lekker is. Waarmee is jy goed? Wat is jou natuurlike talente, gawes en passies? Soek met ’n waarderende eerder as ’n kritiese oog.

‘Dream’ – Droom verder oor jou ‘hoe’. Hoe bring ek dit waarin ek goed is na ’n droom toe, hoe kan dit my roeping wees? Jou roeping en dit waaroor jy passievol is, is baie keer nou aan mekaar verbind.

Design’ – Besluit op die ‘wat’. Dit is die praktiese vraag oor hoe jy by die droom, by jou roeping, kan uitkom. Wat is dit wat ek nou kan gaan doen?

‘Destiny’ – Om te gaan leef wie God jou roep om te wees. Om nou daardie eerste tree te gee en op hierdie ontdekkingsreis die heeltyd sensitief te wees vir jou roeping.

So, wat wil jy word as jy eendag groot is? Iemand wat haar liefde vir mense uitleef in ’n onderwysrigting? Iemand wat sy sin van geregtigheid uitleef in ’n prokureursfirma? ’n Ouer wat God se roepstem deel met kinders? Dit is nie ’n loopbaanvraag nie, dit is ’n koninkryksvraag. Iemand wat met dit wat Jesus vir jou gegee het ’n verskil gaan maak in hierdie wêreld, ongeag die uitdagings van ons tyd.


  • Dr Thys du Toit is predikant van die NG Gemeente Vredenburg.
  • Dr Doret Niemant is predikant van die NG Gemeente Valleisig.
  • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.