Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Krimpende lidmaatgetalle is iets om oor kleinserig te raak

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Arnold Griesel van Bethulie skryf: Albin Bowler se skrywe van 9 Desember (Belangrik om te kyk na ‘raamwerk’ van redes vir dalende lidmaatgetalle) verwys na my skrywe van 2 Desember 2022 (Is welwillende uitkoms moontlik met spanning tussen lidmate wat anders glo?).

My narratief fokus op die uitveeproses van ’n eens duidelike Christelike gereformeerde geloofsvoetspoor wat afgedruk is deur ’n dominante NG Kerk op wit Afrikaanssprekende gereformeerde Christene. Gaan die voetspoor totaal verweer?

My skrywe verwys na ’n 2019-artikel in Kerkbode, waar dr Gustav Claassen se sienswyses oor dalende lidmaatskap aangehaal word.

LEES OOK | Getalle: Dalk is kleiner ook goed

Waarmee Bowler en skrywer saamstem

Empiriese data wys dat die NG Kerk se lidmaatskap met sowat 709 000 vanaf ongeveer 1,4 miljoen in 1986 afneem na die NG Kerk Jaarboek 2019 se syfer van slegs 691 050. In 1986 was die lidmaatskap verteenwoordigend van sowat 47% van die Afrikaanssprekende wit bevolking en in 2019 slegs 25%. Amptelike statistiek weerlê dat dit te make het met wit bevolkingsyfers.

Gevolglik stem ons saam dat die werklike oorsake van die afname in steun eerder in die ongeïdentifiseerde “raamwerk van redes” van Claassen gesoek kan word, ’n onderwerp wat in hierdie skrywe nie verder aandag kry nie.

LEES OOK: Die oogmerk van die NG Kerk se ‘droomscenario’

Waaroor ons verskil

Bowler is van mening dat ek die doleerders se sienings ongelukkig staaf met my interpretasie van die statistieke. In die proses maak hy verder onder andere die stelling: “Aan die ander kant, gaan meer en meer swart lidmate aansluit by die NG Kerk”.

Die skrywer het juis slegs van statistiek en data gebruik gemaak en hom weerhou van interpretasies. Die doel was dat die syfers op meriete op sigself sou spreek. Bostaande opmerkings noop my om wel enkele opmerkings te maak.

  1. Bowler verleen steun aan Claassen se sienswyse dat toekomstige gemeentegroei in diversifikasie lê – alhoewel die syfers dit nie wys nie. Die Droom-scenario 2030-brief van ds Dubois du Toit, ontbloot ’n beeld van die beoogde gewysigde samestelling van die diverse veranderende lidmaatskap en geloofbasis/belydenis(se). Die fokus is op ’n ander lidmaatbasis.
  2. Dit is vir skrywer jammer dat toekomstige lidmaatgroeiprojeksie op ras as veranderlike en nie met ’n geloofdifferensiasiefokus, oorweeg en geprojekteer word nie.
  3. Meer as 100 gemeentes doleer of het beswaar met uitvloeisels van die Algemene Sinode se “Ruim Huis”-beleid en het so amptelik standpunt ingeneem teen die AS se verwatering van Skrifgesag.
  4. Die gevolge van die afname van lidmaatgetalle reflekteer operasioneel ook reeds in indiensnemingsyfers. ’n Onlangse Kerkbode-berig skets ’n droewige prentjie van rekonsiliërende gemeentes wat funksioneel afskaal. Die voltydse predikantposte sedert 2018 het verminder met 419 oor vier jaar (gemiddeld so 105 per jaar). Dit is ’n verbysterende 33,4% en wys dit is wel iets om oor kleinserig te raak.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top