Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die afname in die NG Kerk se lidmaatgetalle was die afgelope tyd weer in die nuus. Hoe verander die grootte van die NG Kerk en waarom is dit belangrik om te weet watter veranderinge in die kerk se lidmaatprofiel plaasvind? Die kerk het al vir die laaste paar jaar minder as ’n miljoen lidmate en as daar na die profiel gekyk word is daar meer lidmate (ongeveer 28%) wat ouer as sestig jaar is, as lidmate jonger as sestien jaar (ongeveer 22%). Dit is belangrik dat die kerk indringend kyk na haar bediening aan jonger lidmate en hoe hulle bedien moet word. Die ouer lidmate stel ook nuwe uitdagings aan die kerk, want daar is ’n ongelooflike potensiaal opgesluit in die ouer groep wat benut kan word in diens aan die kerk en samelewing.
In sommige gesprekke is die grootte van die NG Kerk oënskynlik van kardinale belang. Lidmaatgetalle word deel van ’n magspel om aan te dui hoe sterk die kerk is of was. Maak die dominante stem altyd ’n verskil? As ongeveer 80% van die land se bevolking hulle tot die Christelike geloof verbind, waarom is daar soveel sosiale probleme in die land? Neem maar net die gebrek aan versoening of die swak rasseverhoudinge as enkele voorbeelde, wat ons Christelike getuienis uitdaag.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2019/11/Schoeman-Kobus1.jpg” caption=”Prof Kobus Schoeman is dosent in Praktiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
’n Ander argument oor die dalende lidmaatgetalle is dat die platteland ontvolk het en daarom word die plattelandse gemeentes al hoe kleiner. In die meeste plattelandse dorpe is daar nog net soveel mense as tien jaar gelede, maar die samestelling van die dorp se bevolking het waarskynlik verander hoewel daar minder wit en Afrikaanse mense is. Die uitdaging aan die gemeentes is om na almal op die dorp om te sien.
Lidmaatskap dui op ’n verbintenis aan ’n bepaalde instelling. In die geval van die kerk dui dit op ’n geloofsverhouding tussen die individu, die kerk as ’n geloofsgemeenskap en God Drie-enig. Die verhouding begin gewoonlik by die doop en word weer bevestig met ’n openbare belydenis deur ’n jong volwassene. Na die doop en openbare belydenisaflegging word daar min met lidmate oor hulle verbintenis aan die gemeente gepraat. Dit is ’n leemte, want lidmaatskap lê op verskillende vlakke deur die lewenslange geloofsreis van ’n gelowige. Die Nederlandse teoloog Henk de Roest gebruik die beeld van ’n teater. Soms is ek op die verhoog, soms ’n regisseur, ander tye is ek agter die verhoog en soms sit ek net in die gehoor. Daar moet ruimtes geskep word om op verskillende tye op verskillende maniere deel van die geloofsgemeenskap te wees. Lidmaatskap as ’n verbintenis aan die geloofsgemeenskap beteken nie altyd dieselfde nie.
Die groot en magtige NG Kerk bestaan nie meer nie en dit is waarskynlik goed dat dit gebeur het. Klein en geloofwaardige gemeentes kan nog steeds op verskillende plekke sorg en omgee. Dit gaan nie oor die getalle nie, maar oor die integriteit van ’n geloofsverhouding met die lewende Here. Koos Kombuis skryf op 18 Oktober dat die NG Kerk stadig besig is om die soort organisasie te word vir wie hy hom as Afrikaanssprekende nie meer hoef te skaam nie. Die kwaliteit en impak van ’n geloofsverbintenis kan nie net in getalle en grootte vasgevang word nie.
▶ Prof Kobus Schoeman is dosent in Praktiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.