Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dominees! Hoekom so baie grade agter julle name?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Gerrie de Lange van Middelburg, Mpumalanga skryf: Hoekom is elke tweede dominee ’n doktor? Is dit vir status, ’n beter salaris of vir wat? Hoekom so baie tyd mors vir verdere naslaanwerk, navorsing, ens, om ’n doktorsgraad te verwerf?

Het ’n dominee tyd vir sulke dinge? Party het selfs twee doktorsgrade! G’n wonder die evangelie kry nie genoeg aandag nie! Hoekom is doktors nie lief vir huisbesoek nie?

Prof Johan van der Merwe se artikel (Kerkbode, 17 Februarie 2023) slaan verder die spyker op die kop, mooi so, prof Johan, as dit gebeur sal daar minder doktors wees. Het ek reg elders gelees; as ’n dominee nie voorloop nie, dan gebeur daar niks!?

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

5 thoughts on “Dominees! Hoekom so baie grade agter julle name?”

  1. Muller Oosthuizen

    Baie relevante bevraagtekening! Dit blyk deesdae ‘n goedkoop transaksie te wees met soms goeie salarisse en goeie beurstoekenning.

    Ek ken slegs een leraar met ‘n meesters- / doktorsgraad wat hul nagraadse kundigheid in gemeentelike of breër kerklike verband aanwend.

    Ek ken wel geen gemeenteleraar wat sulke studies in opdrag van hul gemeentes aangepak het nie.

    Verder het ek geen idee waar hulle die tyd gekry het om sulke studies in te pas nie. My algemene indruk is dat sulkes studies ten koste van gemeentewerk en familielewe gedoen word.

    Ek wonder maar net saam hoe en hoekom die NG Kerk en teologiese opleidingsinstansies hierdie kringloop daargestel het.

    Oor huisbesoek en sorg wil ek nie eers wonder nie. Die resultaat spreek boekdele – na beide kante toe.

  2. Doktor Dominee

    ‘n Doktorsgraad bring in die teologie of bediening selde ‘n beter of groter traktament na vore.
    As iemand hulle passie wil uitleef, waarom nie ‘n doktorsgraad doen nie? Muller Oosthuizen, prof Van der Merwe sou self ‘n doktorsgraad benodig om vandag te kan doseer, nie waar nie?
    Ek gebruik my doktorsgraad elke dag in vele opsigte in die bediening

  3. Kenneth McKenzie

    Broer Gerrie

    Ons leef in `n dag en era waar elke janrap en sy maat vanuit sy bakkie op `n selfoon ‘bedien’ as `n selfaangestelde pastoor of geestelike leier. Daarmee saam het die gawe van onderskeiding in die kerk getaan en volg mense verskillende teologieë en verdigsels na goeddunke omdat dit sag op die oor val. Dit laat die kerk in `n katarsis van onkundigheid en `n onvermoë om ‘connoisseurs’ te wees van goeie en opbouende Gereformeerde teologie.

    Daar is `n populêre gedagte onder sekere kerkgroeperings wat lui “Jesus didn’t call the qualified but He qualified the called”. Vir `n oomblik klink dit waar totdat daar dieper daaroor gedink word. Jesus self was nie net `n selfaangestelde straatprediker nie maar was `n Rabbi wat as leermeerster die skare onderrig het. Paulus was ook `n Skrifgeleerde en `n Fariseër wat onder Gamaliël gestudeer het (Hand. 22:3). Ons Reformatoriese vaders (Luther, Kalvyn, Zwingi, Bucer, Knox) was ook nie pampoene nie maar het bewese akademiese vaardighede gehad. Verder meer het die predikante uit Nederland ook nie aan die Suidpunt van Afrika aangekom met `n graad 8 houtwerk kwalifikasie nie maar hulle het gefunksioneer binne en buite die kerk as uiters bekwame persone vanweë hulle geleerdheid.

    Ek is dankbaar dat daar predikante is wat hulle self voordurend toerus deur die hoogste akademiese gehalte na te streef. Gemeentes mag dalk vra watter waarde tot die bediening gevoeg word? Die antwoord is eenvoudig; `n predikant wat teologies verdiep en verstandelik groei in wasdom het in die lewe van die gemeente `n beduidende impak. Dit is waarneembaar in die prediking, leiding van die gemeente, onderskeiding van moeilike sake, toerusting van die lidmate en die impak op die plaaslike gemeenskap. Vanuit my persoonlike lewe kan ek getuig dat dit te danke was aan my M.Th aan die UFS waarin daar `n groter missionêre fokus ingeskerp is met die gevolg dat die gemeente sigbaar in die gemeenskap betrokke geword het.

    Ek stem volmondig saam met Prof Johan van der Merwe dat die bediening egter nie tot die studeerkamer beperk behoort te word nie. Dit is vanselfsprekend. Predikante is juis geroep om `n verskil in die wêreld te maak deur sout en lig te wees. Per implikasie beteken dit sekerlik betrokkenheid by die vandisie, koöperasie, sportveld, skool, klub, kerk, gemeenskap en huis van gemeentelede. Dit gesê, dink ek ons moet waaksaam wees om te redeneer dat die predikant se verdere opleiding in die weg van die bediening staan. Predikante studeer ter wille van die bediening net ten koste daarvan nie. Daar is geen vergoeding, verhoging of styging en status deur verder te studeer nie. Die aanwins van `n predikant wat beter toegerus is, is dat die hele geloofgemeenskap daarby baat.

    Seen vir jou.

  4. Eduan Naude

    “God doesn’t need our theology, but neither our ignorance!” Om ‘n doktorsgraad aan te pak en te voltooi, is ‘n reuse taak. En nie almal maak dit klaar nie. Geluk aan diegene wat dit doen. Jou vraag moet eintlik wees: wat doen jy nadat jy jou graad voltooi het? Hoe peil jy ‘n beter, meer deurdagte voorbereide preek? Of ‘n minder selfversekerde goedkoop antwoord in ‘n pastorale situasie? En ‘n brein wat geoefen word om meer menswaardig leiding te gee? Nee, laat ons weer ‘n nasie van studerendes en denkende mense voortbring! My kommer is dat dit stilweg besig is om te verwater.

  5. Die kerk is seker die enigste werkgewer wat nie ‘n verhoging of bevordering aanbied na verkryging van ‘n na-graadse kwalifikasie nie! Status? Nee. Groter salaris? Nee. Daardie kwalifikasie kos jou geld (selfs met ‘n beurs). En jy kry dit nooit terug nie. Jy doen dit vir jou eie verryking sodat jy jou bediening beter kan doen.

Comments are closed.

Scroll to Top