Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Dis tyd om die perd op te saal, dominee!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Die geskiedenis van die NG Kerk is deurspek met verhale van predikante wat ’n merkwaardige bydrae op verskillende terreine van die samelewing gemaak het. Een van die verhale wat vertel word, is die van ds JD Kestell, ook bekend as Vader Kestell. Met die uitbreek van die 2e Anglo-Boere-Oorlog wat van 1899 tot 1902 plaasgevind het, het ds Kestell sy perd opgesaal en die Harrysmith Kommando as kapelaan vergesel.

Na afloop van die Slag van Platrand wat op 6 Januarie 1900 naby Ladysmith in Natal plaasgevind het, het ds Kestell oudergewoonte die gewonde boerekrygers help versorg. Daarna het hy sy eie lewe in gevaar gestel deur met ’n wit vlag oor te stap na die Britse soldate. Daar het hy gehelp om die Britse gewondes se wonde te verbind en water uit te deel. In sy dagboek skryf Kestell dat een van die gewonde soldate aan hom gesê het: “Reverend, this is the best sermon you have ever preached.” In erkenning vir sy optrede, het die Britte later vir hom ’n gedenksteen op die koppie opgerig.

LEES OOK: G’n water, krag of toilette: Só gaan dit by NG gemeente op ou weermagbasis in verre Noordwes

Geborg

Watter betekenis hou die optrede van Kestell vir dominees in 2023 in? Die Suid-Afrika waarin ons ons in 2023 bevind vra sulke heldhaftige optrede van dominees. In stukkende gemeenskappe het dit nodig geword dat dominees hand bysit waar paaie herstel word in die dorp, waar watersuiweringsaanlegte reggemaak word en waar buurtwagte patrollie ry. Jy, dominee, sal op trekkers en stropers moet klim, vendusies moet bywoon en weer in die huise van lidmate moet kom. Jy sal langs die sportveld van die plaaslike skool sigbaar moet wees. Jy sal moet leiding neem waar gemeenskappe byeenkom om van die plek waar hulle leef ’n beter plek te maak. Dit het dringend nodig geword dat jy, dominee, spreekwoordelik jou perd opsaal en saam met die gemeenskap waar jy werk op kommando gaan.

Om dit te doen, sal jy die gemak en die veiligheid van jou kantoor of jou spreekkamer vir die harde werklikheid van die samelewing moet verruil. Jy sal moet ophou om die gemeente met SMS’e en WhatsApp-boodskappe te bedien en te bestuur. Jy sal fisies teenwoordig moet raak waar lidmate in ’n daaglikse stryd om oorlewing gewikkel is.

En dan? Miskien gaan jy dan een Sondagoggend ’n kerk binnestap waar kerkbanke wat lank leeg gestaan het, stampvol mense sit.

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.

1 thought on “Dis tyd om die perd op te saal, dominee!”

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand