Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Hy was moeg vir die doodsdreigemente en dat die polisie niks doen om hom en sy kinders op sy plaas in Mpumalanga te beskerm nie. Daarom het hy besluit om president Donald Trump se aanbod aan “wit Afrikaners” op te neem om na die VSA te emigreer. Só vertel die 46-jarige Charl Kleinhaus in ’n onderhoud met die BBC. Hy is een van 49 (ander bronne praat van 59) Suid-Afrikaners wat onlangs deur amptenary van die Amerikaanse regering as deel van ’n hervestigingsprogram verwelkom is. Foto: eNCA

Te midde van wye verdeeldheid, betreur kerk in VSA voorkeurbehandeling vir Afrikaners wat hervestig


Hy was moeg vir die doodsdreigemente en dat die polisie niks doen om hom en sy kinders op sy plaas in Mpumalanga te beskerm nie. Daarom het hy besluit om president Donald Trump se aanbod aan “wit Afrikaners” op te neem om na die VSA te emigreer.

Só vertel die 46-jarige Charl Kleinhaus in ’n onderhoud met die BBC. Hy is een van 49 (ander bronne praat van 59) Suid-Afrikaners wat onlangs deur amptenary van die Amerikaanse regering as deel van ’n hervestigingsprogram verwelkom is.

Ander soos gasteplaaseienaar Thea van Straten het ook misdaad uitgelig as hoofrede hoekom hulle Suid-Afrika verlaat. Skaars het hierdie groepie in hulle nuwe vaderland geland of die kerkgroep wat al dekades die Amerikaanse regering help om vlugtelinge te hervestig, het geweier om die Suid-Afrikaners te help (sien ook: in pics : africaner refugees leave SA for US van eNCA).

Vir konteks rondom hierdie gebeure, eers ’n oorsig, of witkruisarendkyk, soos Antoinette Pienaar dit noem.

Eerw Sean Rowe, die voorsittende biskop van die Episkopaalse Kerk, het in ’n pastorale brief genoem die besluit om hulle betrokkenheid by die Amerikaanse regering se vlugtelinghervestigingprogram te beëindig was “’n pynlike maar noodsaaklike stap om ons getuienis geloofwaardig te hou”. Foto: episcopalchurch.org

Slegs hulp vir nuwe ‘Afrikaner refugees’ terwyl duisende ander s’n afgesny is

Die VSA het ’n lang geskiedenis van vlugtelinge ontvang en help hervestig. Dit is meestal ’n proses wat tot twee jaar en selfs langer kan neem, volgens inligting op Global Refuge, ’n organisasie wat steun aan vlugtelinge bied.

Trump het reeds in sy eerste termyn al te velde getrek teen die duisende vlugtelinge wat jaarliks op regeringsonkonste hervestig word. Een van die eerste goed wat Trump ná sy herverkiesing gedoen het, is om die land se grense te sluit vir die sowat 600 000 mense wat in oorweging vir vlugtelingstatus was, het PBS News in Mei vanjaar berig.

Dit sluit in die tydelike beskermde verblyfstatus (Temporary Protected Status-program of TPS) aan mense uit Afganistan wat met die VSA saamgewerk het en nou herberg soek uit vrees vir weerwraak deur die Taliban-regering. Die Amerikaanse regering het aangekondig die TPS-program kom in Julie vanjaar tot ’n einde; ’n besluit wat na wat berig word soveel as 11 700 mense raak.

Die sowat 640 Afgaanse vlugtelinge wat Sondag 15 Augustus 2021 op Kaboel in ’n US C-17 Amerikaanse militêre vragvliegtuig saamgebondel het om uit die land te vlug. Foto: Defense One

Geopende Deure het Afganistan verlede jaar uitgelig as 10de op hulle lys van die 50 gevaarlikste lande vir Christene ter wêreld en in 2022 was hulle in die nommer 1-posisie (Suid-Afrika was nog nooit op hierdie lys nie).

Nietemin is Suid-Afrika, by name “Afrikaner refugees escaping government-sponsored race-based discrimination”, die enigste groep wat Trump uitsonder vir voorkeurstatus vir hervestiging in die VSA. Hy sê hierdie groep se grond word afgevat as deel van grondhervorming en het dit ’n “ernstige skending van menseregte” genoem. Soos verwoord in sy bevel: “South Africa is confiscating land, and treating certain classes of people very badly […] I will be cutting off all future funding to South Africa until a full investigation of this situation has been completed!”

Dit blyk egter dat meer sit agter hierdie skielike oënskynlike welwillendheid. Trump kasty in dieselfde bevel ook die Suid-Afrikaanse regering vir hulle volksmoord-aanklag teen Israel by die Internasionale Geregshof in Den Haag asook die regering se noue bande met Irak wat volgens Trump terrorisme ondersteun. 

Wye reaksie ook vanuit die kerk

Trump se optrede het plaaslik sowel as oorsee wye reaksie ontlok. Die Suid-Afrikaanse regering het die Amerikaanse president se weergawe van grootskaalse landvergrype betwis. President Cyril Ramaphosa beplan om vandeesweek met Trump onder meer hieroor te ontmoet.

Plaaslike burgerregtegroepe soos Solidariteit en AfriForum het verwelkom dat, soos Dirk Hermann van Solidariteit dit op sy Facebookblad gestel het, Trump “die veiligheidskrisis van boere erken”.

Ander, soos die nieregeringsorganisasie Betereinders, het met hulle “Not USA but you SA”-veldtog vanaf groot advertensieborde kapsie gemaak teen die narratief dat Afrikaners slagoffers is.

Luister ook: Podsending | Hoe praat ons oor slagofferskap? – Kollig gesels met Schalk van Heerden en Ivor Swartz

Dit is te midde van hierdie hutspot dat die Episkopaalse kerk van die VSA na die aankoms van die Suid-Afrikaanse groep bekend gemaak het dat hulle nie gaan help met hierdie groep “vlugtelinge” se hervestiging nie.

Die kerk het besluit om hulle betrokkenheid by die federale regering se vlugtelinghervestigingprogram te beëindig en eerder immigrante op ander maniere van hulp te wees.

Besluit om nie te help nie was ‘pynlik’

Eerw Sean Rowe, die voorsittende biskop van die Episkopaalse Kerk, het in ’n pastorale brief genoem die besluit was “’n pynlike maar noodsaaklike stap om ons getuienis geloofwaardig te hou”. Rowe het die redes vir die besluit rondom Episcopal Migration Ministries se onttrekking in sy skrywe verduidelik.

Dié kerkgroep het die afgelope vier dekades die Amerikaanse regering gehelp om duisende vlugtelinge te hervestig.

Hy skryf onder meer: “It has been painful to watch one group of refugees, selected in a highly unusual manner, receive preferential treatment over many others who have been waiting in refugee camps or dangerous conditions for years. I am saddened and ashamed that many of the refugees who are being denied entrance to the United States are brave people who worked alongside our military in Iraq and Afghanistan and now face danger at home because of their service to our country. I also grieve that victims of religious persecution, including Christians, have not been granted refuge in recent months.”

Hierdie besluit is plaaslik aangeprys deur aartsbiskop Thabo Makgoba van Kaapstad (Die Episkopaalse kerk het sedert die Apartheidsjare historiese bande met die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika). Die leier van die Anglikaanse Kerk in Suider-Afrika (AKSA) het op 14 Mei in ’n publieke brief aan eerw Rowe geskryf dat hy laasgenoemde se besluit steun en hy het ook die bewerings van sogenaamde “anti-wit diskriminasie” in Suid-Afrika weerlê.

“Wat die Amerikaanse regering as anti-wit diskriminasie beskryf, is niks van die aard nie,” het Makgoba geskryf. “Suid-Afrika se regstellende aksie is soortgelyk aan dié in die VSA en poog om historiese onregte reg te stel, nie om teen wittes te diskrimineer nie.”

Hy het verder daarop gewys dat wit Suid-Afrikaners meestal steeds beter af is as hulle swart landgenote, en dat dit onaanvaarbaar is om hulle voorrang te gee bo mense wat oorlog, vervolging en armoede in lande soos die DRK, Afghanistan en Soedan ontvlug.

Lees ook: Organisasie vra kerke om Sondag 15 Junie vir vervolgde kerk in Afrika opsy te sit

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Te midde van wye verdeeldheid, betreur kerk in VSA voorkeurbehandeling vir Afrikaners wat hervestig”

  1. Chris Bezuidenhout

    Daar is baie meer agter die Eposkale kerk se besluit as bloot die 49 Suid-Afrikaners. Die Eposkale kerk in die VSA is een van die meer “verligte” kerke daar. Die rigting wat Pres Trump inslaan om die “woke” ideologie aan bande te lê speel dalk ‘n baie belangriker rol in hul besluit om formele hulp aan die vlugtieinge te staak as bloot die feit dat die 49 nie aan ware vlugteling status voldoen nie.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top