Hierdie Forumbydrae is geskryf en regstreeks deur 'n Kerkbode-blogger opgelaai.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Die bedieningsorganisasie Geopende Deure Suider-Afrika het ʼn spesiale veldtog bekendgestel rondom Vervolgingsondag wat vanjaar op 15 Junie 2025 val. Dié veldtog is daarop gemik om kerke en ander Christelike organisasies betrokke te kry om bewustheid oor die benarde situasie van vervolgde Christene in Afrika te skep.
Die eerste Sondag ná Pinkster is wêreldwyd bekend as Vervolgingsondag. Hierdie dag fokus op die verskriklike vervolging wat Christene in talle lande dikwels weens hul geloof verduur – met gelowiges wat dikwels tronkstraf, diskriminasie, verwerping, marteling en selfs die dood in die gesig staar.
Die tema van Vervolgingsondag is vanjaar “Die vervolgde Kerk in Afrika”. Miljoene Christene in sub-Sahara Afrika staar gewelddadige vervolging in die gesig weens hul geloof, wat tot ʼn verbysterende ontwortelingskrisis lei. Altesaam 16,2 miljoen Christene in dié streek is tans ontwortel en bly in haglike omstandighede in ontwortelingskampe, wat daartoe lei dat Afrika die grootste ontwortelingskrisis in die wêreld het.
Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê: “Christene in sub-Sahara Afrika betaal ʼn hoë prys vir hul geloof. Vanjaar se Vervolgingsondag-aktiwiteite is ʼn geleentheid om meer oor die situasie te leer en namens hulle op te tree. Ons doel is nie net om talle gemeenskappe in Suidelike Afrika te kry om aan die dag deel te neem nie, maar ook om hul verbintenis met die vervolgde Kerk vir die toekoms te versterk.”
Maniere om betrokke te raak
Individue, kerke en ander organisasies kan op die volgende maniere betrokke raak en bewustheid in hul gemeentes skep:
- Wees ʼn spreker by jou kerk op Vervolgingsondag: Enigeen kan ʼn stem wees vir vervolgde Christene wat nie in staat is om vir hulself te praat nie deur op 15 Junie ʼn vrywillige spreker by hul eie kerk te wees. Om ʼn Vervolgingsondag-byeenkoms by jou kerk te reël, is die ideale manier om te help om die boodskap van die vervolgde Kerk te versprei.
- Nooi een van Geopende Deure se vrywilliger-sprekers na jou Sondag-kerkdiens: Geopende Deure se vrywilligers gaan op Sondagoggend, 15 Junie, persoonlike aanbiedings by kerke regoor die land doen. Hulle sal getuienisse deel oor die opofferings wat vervolgde Christene vir hul geloof maak en oor hoe Jesus Christus getrou is en hierdeur verheerlik word.
Mense wat registreer om ʼn Vervolgingsondag-byeenkoms te reël, sal toegang kry tot al die relevante materiaal, soos ʼn PowerPoint-aanbieding oor die tema, video’s, gebedskaartjies en materiaal vir kinders.
Die Vervolgingsondag-geleentheid vorm ook deel van Geopende Deure se Arise Africa-veldtog, wat ʼn meerjarige reaksie is op die aanhoudende geweld waarmee Christene in die streek geteiken word. Dié veldtog, wat in samewerking met Christelike leiers regoor sub-Sahara Afrika aangepak word, het ten doel om die Kerk in Afrika in staat te stel om in geloof sterk te staan waar vervolging die ergste is.
Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak of vir die byeenkoms te registreer, besoek Geopende Deure se webtuiste by www.opendoors.org.za.
Vir enige navrae of om ʼn onderhoud oor Vervolgingsondag te reël, kontak Elizabeth Botha, Geopende Deure se mediabeampte, by elizabethb@od.org, 083 227 8164 of 011 888 9341.
