Enersyds verklaar 85 % van Suid-Afrikaners hulself as Christene, volgens die jongste sensus. Andersyds word 27172 mense jaarliks in die land vermoor. Hoekom lê die twee werklikhede haaks op mekaar, vra Fanie Heyns.
Dr Braam Hanekom, pas uitgetrede direkteur van die sentrum vir publieke getuienis van die NG Kerk, stel dit so: “Daar is die afgelope twee jaar meer mense in die land doodgemaak as in die Gasa-strook sedert 7 Oktober 2023.
“En misdaad en geweld in die landbousektor is 500% hoër as in die res van die wêreld.”
LEES OOK: Die ABC van Diakonaat: Gelowiges dink nuut oor kerk se werk
Hanekom meen dat die misdaadsituasie in die land verskeie oorsake het. Dit is egter ook deels te wyte aan “die inploffing van wetstoepassingsinstellings wat ’n vakuum gelaat het wat deur bendes en sindikate gevul is.”
Maar dit laat die kritieke vraag onstaan waarom Christene nie ’n dieper voetspoor in die land laat nie.
Edwin Fillies, basishoof van Youth with a Mission (YWAM) in Muizenberg en ’n internasionale direkteur van die sendingorganisasie, beskryf dié soort Christenskap as net ’n “sentimeter of twee diep.
“Sondag se aanbidding kom nie Maandag by die ambag en die werkplek uit nie – dit is ’n skeiding tussen die geestelike en die sekulêre wat die doeltreffende uitlewing van Christenskap ondermyn in die land. Christenskap word nie uitgeleef sodat ons sout van die aarde en lig vir die wêreld word nie.”
“Daar is ’n skeiding tussen leer en lewe,” is hoe dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar: vennote en getuienis van die NG Kerk in die Vrystaat, dit beskryf. “Die ‘Sondag-Christenskap’ moet ook Maandag en Dinsdag publiek beslag kry en dit gebeur nie. Daar sal Sondag aanbid word, maar op die Maandag aanvaar ’n amptenaar omkoopgeld, of is ’n boer rassisties op die plaas.
“Geleefde Christelikheid is die uitdaging. Dit help nie Donald Trump-hulle open met Skriflesing en gebed in die Withuis en deur die dag maak hy droog nie.
“Die evangelie moet mense transformeer in hulle konteks,” meen Mostert.
En wat van ons parlementslede wat verbind is met korrupsie maar ook staan binne welke kerkverband?
Mostert se siening dat ‘Sondag-Christenskap ook Maandag staanplek in die publieke domein moet kry, is juis ge-eggo in die boek van Richard Stearns, oud-president van World Vision in Amerika The hole in our gospel: What does God expect of us.
Stearns sê: “We need to move beyond an anemic view of our faith as something only personal and private with no public dimension and instead see it as the source of power that can change the world.”
Polisentriese sendingwerk
By die Lausanne-konferensie verlede jaar is een aspek van evangelisasie en sending belig wat die heroriëntasie van sending vereis.
En dit is die uitnodiging tot polisentriese sendingwerk – dit is sendingwerk “from everywhere to everywhere and from everyone to everywhere.”
Sendingwerk is nie meer sending van die Weste na die res nie. Christelike missie word gebore in alle dele van die heelal na alle dele van die heelal. Die Christendom is globaal. Elke kultuur en elke streek stuur en ontvang sendelinge, en die goeie nuus van die Christelike geloof word kruiskultureel in alle rigtings van die heelal gedeel.
Die polisentriese missie erken dat God se missie nie beperk word tot ’n enkele organisasie of groep nie. Maar dit is ’n deelnemende onderneming wat diverse individue, kerke en gemeenskappe insluit, wat elk hulle unieke gawes en perspektiewe met mekaar deel, volgens Mostert.
Die sogenaamde episentrum van die Christelike geloof het ook geskuif as jy luister na Peter Tarantal, internasionale assistent-direkteur van Operasie Mobilisasie (OM), wat 5 000 werkers in 147 lande het.
“In 1900 was daar agt miljoen Christene in Afrika en nou is daar 600 miljoen uit ’n bevolking van 1,3 miljard mense. En in China is daar 120 miljoen Christene,” verduidelik hy.
SA – sendingstasie of sendingveld?
Daar het volgens Tarantal ’n verskuiwing gekom in die tradisionele verstaan van ‘sendingwerk uit SA na ander lande toe’.
“Suid-Afrika is nie ’n sendingstasie of sendingveld nie. Hy is albei,” sê Tarantal, ’n veteraan van 37 jaar by OM.
“’n Vriend van my het byvoorbeeld navorsing gedoen oor die kerkbywoningspraktyke in Soweto en bevind dat op ’n Sondagoggend in Dobsonville net 3 % van die inwoners kerk toe gaan,” sê Tarantal.
“Maar daar is ook demografiese verskuiwings waarop dissipels van die Here bedag moet wees. So byvoorbeeld staan Bellville bekend as Klein-Mogadishoe, want daar is 40 000 Somaliërs in Bellville. Daar is heelparty mense wat van buite af inkom in Suid-Afrika en nie die Here ken nie,” sê Tarantal.
In die huidige Suid-Afrika is daar amper ’n noodsaaklikheid om talle jong mense te herevangeliseer. “Ek het grootgeword met die tien gebooie in die klaskamer. So daar was ten minste ’n soort verstaan van Christenskap. ’n Wêreldwye tendens in hierdie eeu is ’n onkunde oor basiese Bybelbeginsels. Dit is nie net Europa wat geherevangeliseer moet word nie, ons moet plaaslike jong mense ook nuut oor die evangelie leer,” sê Tarantal.
GloboChrist, en die plaaslike gemeente
Carl Raschke het in sy boek GloboChrist: The great commission takes a postmodern turn, volgens Hanekom, aangedui dat sendingwerk en evangelisasie geslaagd is waar Christene in staat is om te “inkarneer in ’n bepaalde konteks”.
Dit beteken hulle het beslag gegee aan hulle Christenskap in ’n bepaalde kultuur, dit uitgeleef as sout van die aarde en lig vir die wêreld en so bygedra tot transformasie van gemeenskappe.
Ongelukkig, sê Hanekom, het sekularisasie daartoe bygedra dat talle mense opgehou droom het oor die moontlikheid dat die Christendom persoonlike lewens en die samelewing kan transformeer.
“Daar is natuurlik gemeentes wat die missionêre karakter van die kerk goed verstaan. Maar in ’n groot deel van die Christendom het gemeentewees ’n oorlewingstasie geword,” voeg Hanekom by.
“Christus wou nie domineer of kolonialiseer nie; hy wou juis mense se lewens en samelewings transformeer,” aldus Hanekom.
Tarantal sluit hierby aan. Hy wys daarop dat dit juis OM se missie is om die plaaslike gemeentes te mobiliseer om betrokke te raak by die gemeenskap.
Party kerke het onder die invloed van ’n verbruikerskultuur gefokus geraak op die ‘prestasie van die leraar’ en om sitvlakke op sitplekke te kry. Daarmee mis hulle die hart van die evangelie. “Paulus sê in die Efese-brief oor die doel om gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk, om gemeente te wees vir en in die gemeenskap.”
“Die plaaslike kerk moet sy sendingmandaat herontdek – hoekom is ons hier, ons is hier vir ander,” verduidelik Tarantal.
Volgens Andrew Murray in sy boek Die sleutel tot die sendingprobleem is die leraar van die plaaslike gemeente ’n kernfiguur, want as hy God se hart vir die nasies herontdek, sal sy gerigtheid verander en sal transformasie gebeur, voeg Tarantal by.
Lewenskragtigheid van kruiskulturele optrede
“Daar is ’n groot en dinamiese beweging van Suid-Afrikaners van alle kulture wat kruis-kultureel na ander lande uitreik om ’n verskil vir die Here te maak,” sê Fillies.
“So is daar ’n jong Xhosa-vrou van Oos-Londen wat besig is om haar meestersgraad in gesondheidswerk op Stellenbosch te voltooi en terselfdertyd by YWAM se Universiteit van die Nasies in Hawaii sending studeer, en wat nou ’n spanleier is in Sentraal-Asië waar sy ook haar Christelike getuienis en haar passie vir gesondheidswerk uitleef.
Daar is ook ’n plaaslike Zoeloe-vrou wat tydens Covid ’n roeping in Nigerië gehad het, maar met die deure wat toe was, het sy geëindig in Egipte en werk nou daar vir die Here,” vertel Fillies.
YWAM het ’n Fire en Fragrance-groep in Potchefstroom waar daar reeds sedert 2020 altesame 150 sendelinge opgelei is. Onlangs het hulle die roeping ontvang om na elke ander Afrikaland te gaan en daar te bid vir Afrika. Hulle het 466 vlugte onderneem na 52 van die 54 Afrikalande in 10 dae met verskillende spanne en het 320 ure in gebed deurgebring.
In Muizenberg is YWAM besig met 15 projekte om na jeugdiges en kwesbare kinders uit te reik. “Ons doen vaardigheidsontwikkeling met van hulle en lei voormalige gangsters in Manenberg byvoorbeeld op as barristas,” sê Fillies.
“Die werk wat binnelands en buitelands gedoen word, skep ’n sekere lewenskragtigheid wat daartoe bydra dat plaaslike gemeentes gemobiliseer word vir Christus,” sê Fillies verder.
Van Sondagprediker tot gemeenskapsleier
God se hart vir die weduwees en die wees, vir die hongeres en noodlydendes soos in Matteus 25 verwoord, is ’n bestaansrede vir die organisasie Orchard: Africa. Die organisasie is die afgelope drie dekades ’n brugbouer tussen gemeenskappe en plaaslike gemeentes, volgens die nasionale direkteur van Orchard, Theuno Swart.
Orchard: Africa het op ’n ashoop in Mahikeng ontstaan – waar leraars van ’n plaaslike gemeente ’n paar kinders raakgeloop het wat dae laas iets geëet het.
Later het die organisasie gegroei met die doel om kerkleiers toe te rus sodat hulle ontwikkelingshulp aan plaaslike gemeenskappe kan gee en “die kerkdeur kan oopbly van Maandag tot Saterdag.”
Orchard: Africa gebruik impaksentrums wat ’n netwerk van kerke bedien met opleiding oor hoe om na kwesbares om te sien. Die impaksentrums bied programme aan vir vroeëkinderontwikkeling, tuisgebaseerde onderrig, voeding, kerkleieropleiding, ekonomiese ontwikkeling en landboukundige opleiding.
“Ons het ook ’n hart vir tiener-ma’s en vir kwesbare vroue. Dit gaan oor hoe ons die kerk kan help om in die gaping te staan vir kwesbare gemeenskappe,” sê Swart.
“Afgesien van programme bied ons ook fisiese bronne by kontaksentrums aan vir kerke,” voeg Swart by.
Die werk van Orchard: Africa, van Badisa en van die Getuienisaksie van die NG Kerk is relevant in ’n land waarin 13,2 miljoen mense swaar ly onder ekstreme armoede. Altesame 31,9 % van die bevolking is byvoorbeeld werkloos volgens StatsSA.
“’n Bord kos skep ’n geleentheid tot ’n bediening vir mense wat dalk nie andersins in die kerk sou gekom het nie. Die praktiese en geestelike hulp word op geïntegreerde wyse aangebied,” sê Swart.
“Die behoeftes in gemeenskappe is groot en die druk kan kerkleiers oorweldig. Daarom is die gedagte van impaksentrums gebore om die kapasiteit van kerke te bou. Deur hierdie werk help ons om van Sondagpredikers ook gemeenskapsleiers te maak,” voeg Swart by.
- Fanie Heyns is ’n vryskutskrywer.
