Suid-Afrika het van 1-4 April 2025 op Wellington in die Wes-Kaap as gasheer opgetree vir die internasionale konferensie van ReDi (International Society for the Research and Study of Diaconia and Christian Social Practice) wat vir die heel eerste keer in die globale Suide gehou is.
Dié eerste ReDi-konferensie buite Europa het “nuwe/ander” perspektiewe tot die gesprek gevoeg, vertel prof Hannes Knoetze, verbonde aan die Departement Praktiese Teologie en Sendingwetenskap in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP).
Prof Naas Swart van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) is by die geleentheid as die nuwe voorsitter van ReDi verkies. Die saamtrek se tema was Diakonia and Christian Social Practice: Challenging Contexts and Emerging Trends.

Meer as 90 mense het vir die konferensie geregistreer en ongeveer 20 lande was verteenwoordig, aldus Knoetze. “Altesaam 45 referate is in drie parallelle bane aangebied asook drie hoofaanbiedings. Hierdie hoofaanbiedings het gefokus op diakonie in die inheemse kerk, profetiese diakonie, en gesellige volhoubare ontwikkeling, wat die inklusiwiteit en diversiteit van die konferensie beklemtoon.”
Kerkbode wou by Knoetze (HK) weet:
Kerkbode (KB): Deelnemers aan die konferensie kon saam dink oor “diakonaat”, ’n term wat verwys na Christelike sosiale praktyk en wat goed soos maatskaplike sorg, welsyn en sosiale ontwikkeling insluit. Een van die temas wat na vore getree het, was “watter teologie” gebruik word wanneer daar van diakonaat gepraat word. Sê ’n bietjie meer oor hoe jy die vraag hoor en veral oor wat jy by afgevaardigdes in reaksie daarop gehoor het?
HK: Vir verskillende mense het “diakonaat” verskillende betekenisse. Binne die NG Kerk verstaan ons dit meestal as Diens van Barmhartigheid. Volgens my verstaan het die NG Kerk na die Cottesloe-beraad juis gekies vir die term Diens van Barmhartigheid op grond van ons teologie, wat op daardie stadium afsonderlike ontwikkeling gesteun het. Dit was teenoor die Wêreldraad van Kerke (WRK) wat toe in haar Diakonaat die “Programme to Combat Racism” geskep en befonds het wat die ANC gesteun het in die stryd teen apartheid.
Die verskillende teologieë wat ek by die konferensie gehoor het, is ook weer gekoppel aan verskillende kontekste en ek bely ek veralgemeen hier in my antwoord. Vanuit die Post-Christendom Europese konteks gaan dit om “goeie dade” en is daar soms nie meer ’n teologie daaragter nie, maar is dit ’n professie (beroep). Vanuit die ontwikkelende lande en Afrika het ek grepe uit die bevrydings-, die missionale en Trinitariese teologie gehoor. My waarneming oor die afgevaardigdes se reaksie, is dat ons almal met ’n oop hart en ’n leerbare gees geluister het, aangesien ons in ons eie gebrokenheid worstel met die gebrokenheid van ’n flenterwêreld. Juis vanuit die verskillende teologiese verstane is ons verryk om iets meer van God die barmhartige Vader en Jesus die groot diakonos te verstaan.
KB: ’n Mens hoor soms dat diakonaat veral in Europese kontekste meer ’n beroep as ’n bediening geword het. Dat diakonaat as ’t ware geprofessionaliseer is? Wat presies is die oorsaak, kenmerke en gevolge hiervan? En hoe sien jy dit in Suid-Afrikaanse konteks uitspeel?
HK: Ons het nie vir God nodig om goeie dade te doen nie. In Europa kan jy gaan studeer om ’n diaken te word en ’n salaris daarvoor te verdien, ek hoef dus nie ’n aktiewe kerklidmaat te wees om ’n diaken te wees nie. So, dit is inderdaad geprofessionaliseer. Veral in ’n ouerwordende samelewing is die fokus sterk op die versorging van bejaardes. Die interessante is dat sommige kerke en teoloë in Europa opnuut weer begin dink oor diakonaat voortspruitend vanuit die nagmaalstafel.
Alhoewel die woord diakonaat nie so sterk in die Suid Afrikaanse kerke funksioneer nie is barmhartigheidsdienste nog sterk aan die kerk gekoppel en is byna elke gemeente met een of ander gemeenskapsprojek besig. Tog is die NG Kerk nie altyd op gemeentevlak by professionele en strukturele diakonaat wat geregtigheid bevorder betrokke nie. Binne die NG Kerk word hierdie werk veral deur die kerkverband, sinodes gedoen en lewer gemeentes meestal geldelike bydraes. Daarom is daar ook weer pogings om die Kerklike Maatskaplike Dienste (professionele diakonaat) en die plaaslike kerk/gemeente se verhouding te versterk. Binne die meeste Afrikakerke word die woord “diakonaat” nie gebruik nie en word eenvoudig daarna verwys as “die werk van die kerk”. Wat ’n mooi beskrywing.
KB: Via diakonaat het ’n mens te make met spesifiek Christelike sosiale praktyk … Wat maak dit Christelik? En is dit ’n sinvolle onderskeid?
HK: Jesus het nie net vir die kerk of gelowiges gesterf nie, maar vir die wêreld. Dus glo ek alle goeie dade kom van God of dit deur Christene of heidene gedoen word. Daar is ook voorbeelde hiervan in die Bybel. Wat maak dan sosiale praktyke Christelik? Wat dit volgens my Christelik maak, is die motivering waarmee die dade gedoen word. Word dit gedoen om God te eer en uit gehoorsaamheid aan God, omdat ons deelneem aan dit waarmee God besig is, of omdat ons dink dat dit ons beter mense maak. As ons bely Jesus is Here oor die heelal, dan bely ons daarmee ook alle goeie dade kom van God af.
KB: Die bestaanskontras tussen globale streke (breedweg: noord en suid) is groot. Hoe speel dit uit in só ’n saamtrek?
HK: In die lig van die voorafgaande antwoorde is dit duidelik dat dit verskriklik verrykend en leersaam is en dat ons as streke mekaar nodig het om beter begrip en insig te kry oor ons deelname aan God se groot dade in ons dag en tyd. Een van die groot konteksverskille is dat in die noorde gefokus word op bejaardebediening terwyl die uitdagings in die suide meer rondom kinders en veral vroeëkindontwikkeling is.
KB: Meer algemene vrae oor jou vakgebied … Reis ’n mens vandag deur Afrika, is dit nie eenvoudig om die impak van eeue se sending op te som nie. By die Elmina-kasteel in Ghana, waarvandaan gevangenes oor die Atlantiese oseaan na slawerny gevoer is, pryk ’n Portugese kerk in die binnehof en ’n Nederlandse aanbiddingsaal bo ’n aanhoudingskelder vir vroue. Word jy ooit uitgedaag dat – vanuit die staanspoor en tot onlangs – missionale pogings ook groot skade aan mense berokken het? Hoe dink jy hieroor en watter teoloë/skrywers/interaksies het jou denke oor daardie aspek gevorm?
HK: Ek oordeel dat enigiemand wat ernstig is oor God en sy koninkryk telkens in die kerk en met elke aand se TV-nuus met die hartseer van stukkende lewens waaraan ons deel het gekonfronteer word. Die feit dat ons nog elke Sondag in ’n “wit of ’n swart erediens” sit is seker die grootste uitdaging wat die NG Kerk vandag (of ten minste vir my persoonlik) konfronteer. Dit is seker die sterkste getuienis van ons gebrokenheid. Daagliks rig ons as die kerk nog vele skade aan deur die manier hoe ons goed aanneem, hoe ons dink en hoe ons doen, al is dit met die beste bedoelings.
Enkele persone wat my beïnvloed het is kategete en gemeentepredikante in my jeug, dosente en teoloë soos Piet Meiring, Johan Heyns, Russel Botman en Nico Koopman. Swart en wit kollegas in die bediening. Ek dink aan iemand soos oorlede Oom Lampies Lebone, moderator van die NGKA, evangeliste met wie ek gewerk het en ook gewone lidmate in die swart en wit kerk. Deesdae is dit veral die studente in die klas wat my denke telkens oor die kerk en my teologie uitdaag. Wat ’n voorreg! Wat my egter ook opval is hoe Europa en Amerika hulle verontskuldig of onskuldig hou ten opsigte van die ongelykhede in die wêreld.
KB: ’n Onlangse verslag deur Mergon getiteld Awakening Africa – Insights for kingdom mobilisation wys daarop dat Westerse befondsing na Afrika oorwegend na “expatriate-led nonprofits” gekanaliseer word, eerder as plaaslike organisasies. Hoe dink jy oor die kwessie van vooroordeel ten opsigte van Afrikalande en die verskynsel van afhanklikheidskweking. Watter voorbeelde daarvan (of van die teendeel) het jy al teëgekom? Die Mergon-verslag rapporteer: “According to the Segal Family Foundation – which partners with over 350 organisations in sub-Saharan Africa – along with other grant data, only 1% to 10% of global funding goes to locally-led organisations. Despite expatriate-led organisations growing at roughly twice the rate of local organisations, these locally-led organisations have a comparatively similar impact. Unfortunately, donor bias, rather than effectiveness, often determines funding decisions. This disparity limits the growth of African-led solutions and reinforces dependency on external leadership and funding.”
HK: Ek dink hierdie is ’n goeie voorbeeld van wat gebeur (in Afrika) as ons die “diakonaat” losmaak van die plaaslike gemeente. Plaaslike gemeentes is steeds die mees verteenwoordigende gemeenskapsorganisasies en die mense wat die beste kan help. Tog gegewe ons verskillende wêreldbeelde wantrou ons mekaar oor ons miskommunikeer en nie moeite wil doen om regtig te luister en verhoudings te bou met plaaslike gemeentes nie. Ek dink die meeste van “ons” is steeds bevooroordeeld en dink “net ons” kan dit reg doen. Die beste voorbeelde hiervan het ek in Botswana beleef waar Suid-Afrikaners met hulle 4X4’s uitreik na gemeenskappe sonder om met die plaaslike kerke kontak te maak en te hoor waaraan daar regtig nood in die gemeenskap is. Dan kom “ons” daar met ons vragte kos en klere en ons doen “evangelisasie” en ons “bekeer” honderde mense en ry weer. Sonder dat enige bekeerling by enige geloofsgemeenskap ingeskakel word. Volgende jaar kom ons terug en bekeer dieselfde mense en deel weer vir dieselfde mense kos en klere uit. So spandeer ons duisende rande aan vervoer ens, sonder om werklik ’n verskil in mense of die gemeenskap se lewe te maak. Miskien kon ons die R10 000 van die reiskoste vir die plaaslike gemeente gegee het en gevra het dat een van hulle in ons erediens vir ons gemeente kom terugvoer gee. Sou dit nie dalk meer effektief wees nie? Of wat sal gebeur as ons regtig verhouding bou en by teologiese opleiding betrokke raak om die mense self te bemagtig om die evangelie te verkondig.
Very well presented. Every quote was awesome and thanks for sharing the content. Keep sharing and keep motivating others.