Meer as 4 500 Christene is verlede jaar in Afrika vir hulle geloof vermoor. Dit is die ergste in Nigerië, waar militante groepe strooptogte op Christen-gemeenskappe uitvoer waartydens mense doodgemaak, vermink, verkrag en ontvoer word vir lospryse of seksuele slawerny.
So berig die organisasie Geopende Deure Internasionaal wat op 17 Januarie sy 2024 Wêreldwaarnemingslys (WWL) bekendgestel het. Dié lys wys jaarliks die top 50 lande waar, volgens hulle opnames, Christene die ergste vervolging weens hul geloof ervaar.
Die 2024 Wêreldwaarnemingslys fokus veral op die lot van Christene in sub-Sahara Afrika. Volgens die nuutste opnames was meer as 82% van Christene wat verlede jaar wêreldwyd weens hul geloof doodgemaak is, in Nigerië en het geloofsverwante moorde in sub-Sahara dié in enige ander streek op die jaarlikse lys ver oortref. Hierdie tendens kan al vir verskeie jare gesien word.
Daar is egter wêreldwyd ’n toename in die aantal lande waar Christene vervolging weens hulle geloof ervaar. Volgens die organisasie wys hulle opnames, sedert hulle 31 jaar gelede met die lys begin het, dat die aantal lande waar Christene hoë vlakke van vervolging ervaar amper verdubbel het vanaf 40 lande in 1993 tot 78 lande in 2024.
Vyf uit die top 10 lande op die 2024 WWL is in Afrika.
Mense word op die webblad gevra om vir hierdie gelowiges te bid. Daar is ’n top 50-gebedskalender wat in Engels, Afrikaans of Zoeloe afgelaai kan word asook ’n afdruk van die Wêreldwaarnemingslys.
Lees die volledige verklaring hier.