Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Hierdie berig is deel van ’n 2025-innovasieprojek deur Bybel-Media in samewerking met Kerkbode. Ons gebruik soekenjin-data vir die uitsoek van onderwerpe en ons (her)publiseer relevante inhoud uit die Kerkbode-argief en ander betroubare bronne. Ons betrek ook Kunsmatige Intelligensie waar nodig by die redaksionele proses.

Wat sê die Bybel oor die Heilige Gees?

Wat sê die Bybel oor die Heilige Gees? Ons bely dat die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun die een ware God is. Maar daar is ’n interessante ontwikkeling in die Bybel. Daar is eintlik twee beskouings oor die verhouding tussen die Gees van God en God self in die Ou Testament.** 

Wat sê die Bybel (Ou Testament)? 

Die een beskouing dat die Gees eintlik net die krag van God of God-in-aksie is (Num 11:25; Rig 14:6, 19; 15:14; Eseg 36:27; Jes 42:1; 61:1). Die ander is dat die Gees ’n Goddelike Persoon naas God die Vader is (Rig 13:25; Jes 11:2; Ps 139:7 en volgende verse; Jes 40:13 en volgende verse).

LEES OOK: Nuwe Testament | Jesus se lydensweg na ons diepste hoop

Wat sê die Bybel (Nuwe Testament)? 

Wanneer ons by die Nuwe Testament kom, is daar egter nie meer onsekerheid oor die Persoon van die Gees nie. Veral in die Evangelie van Johannes doen Hy dinge wat net aan ’n persoon toegeskryf kan word: Hy word ons “voorspraak” of “advo­kaat” genoem. Hy sal die dissipels leer en herinner aan alles wat Jesus* gesê het. Hy sal bewys dat die wêreld skuldig is. Hy sal die dissipels in die hele waarheid lei en Christus* verheerlik. (Joh 14:26; 16:7-15).

LEES OOK: DINKSTOF | Verstaan die Ou Testament: Levitikus en die liefde (Deel 1)

Wat sê die Bybel oor die werk van die Gees?

Wat die werk van die Gees betref, moet die Nuwe Testament in twee dele verdeel word: vóór Pinkster, en ná Pinkster. Vóór Pinkster gaan dit eintlik oor die bediening van Jesus, maar die Gees speel ’n belangrike rol daarin. Veral Lukas wys op die inisiatief wat die Gees in die lewe van Jesus geneem het (Luk 1:35, 41, 67, 80; 2:27; 3:17, 22; 4:1, 14).

Ná Pinkster

’n Mens sou van Jesus se aardse bedie­ning kon sê: “Die Gees het deur Jesus ge­werk.” En dan ná Pinkster: “Jesus werk deur die Gees.” Want soos die Gees op ’n besondere manier teenwoordig was en inisiatief geneem het tydens Jesus se aardse bedie­ning, neem Jesus inisiatief in die werk van die Gees. Dit is Jesus wat die Gees stuur, Jesus voeg daagliks by die gemeente dié wat gered is (Joh 16:7; Hand 2:47) – trouens, die prediking van die apostels is sonder meer: Jesus. Ontleed maar elke preek van Petrus en Paulus (Hand 2; 3; 4; 5; 10; 13; 17)! Die tema is Jesus wat opgestaan het.

LEES OOK: Die ABC van Diakonaat: Gelowiges dink nuut oor kerk se werk

Wat sê die Bybel oor die vrug van die Gees?

Dit is dus heeltemal verkeerd om ’n soort spanning tussen Jesus en die Gees te skep. Dis nie so dat Jesus as ’t ware die inleiding was en dat ons eers by die eintlike saak kom as ons die Gees ontvang nie. Die Gees kom Christus verheerlik (Joh 16:14).

Die groot werk van die Gees lê in die toepassing van die werk van Christus. Christus het vir ons die heil verdien, en die Gees kom dra dit in ons lewe in. Hy kom vorm die liggaam van Christus en kom sy bruid voorberei. Die gawes van die Gees, die vrug van die Gees, en die heilsorde/heilsweg is alles die werk van die Gees.

Daar word soms gesê dat ons in die belydenis van die kerk die Gees verwaarloos. Ons bely in die Apostoliese Geloofsbely­denis ’n hele aantal dinge van Jesus, maar niks van die Gees nie, net die woorde: “Ek glo in die Heilige Gees.” Maar dit is ’n misverstand. Alles wat daarna genoem word, is sy werk: die kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergifnis van sonde, die op­standing, die ewige lewe.


** Hierdie inskrywing deur Adrio König het oorspronklik verskyn as deel van die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE), die elektroniese weergawe van die gedrukte CKE wat in 2008 by Lux Verbi.BM in samewerking met Bybel-Media verskyn het.

Hierdie berig is deel van ’n 2025-innovasieprojek deur Bybel-Media in samewerking met Kerkbode. Ons gebruik soekenjin-data vir die uitsoek van onderwerpe en ons (her)publiseer relevante inhoud uit die Kerkbode-argief en ander betroubare bronne. Ons betrek ook Kunsmatige Intelligensie waar nodig by die redaksionele proses. Bron: https://ecke.co.za/heilige-gees/

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Wat sê die Bybel oor die Heilige Gees?”

  1. Albin Bowler

    Wat ‘n pratige stuk evangeliese waarheid wat wyle Prof Adrio König destyds geskryf het! Die vraag is: leer en herinner leraars hul lidmate hierdie waarheid op ‘n gereelde basis? Miskien is dit selfs tyd dat ‘n teologiese taakspan die Geloofsbelydenis aanvul om meer die werk van die Heilige Gees uiteen te sit (soos in die laaste sin van König se artikel vervat is).

Comments are closed.

Scroll to Top