Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
ʼn Mens sou kon wegkom met die stelling dat Levitikus beslis een van die boeke in die Ou Testament is wat die minste gelees word. Wie het in elk geval lus vir wette wat beskryf hoe diere geslag moet word en watter dele gebrand moet word en watter nie? Maar daar is ander kante ook aan Levitikus, soos byvoorbeeld die feit dat Jesus uit Levitikus aanhaal, wanneer Hy gevra word watter gebod die belangrikste is. Die tweede deel van Jesus se antwoord in Markus 12 kom uit Levitikus: “Die tweede is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is belangriker as dié nie” (Mark 12:31, 2020-vertaling). Sias Meyer vertel meer.
Die “dié” verwys natuurlik na beide gebooie waarvan die eerste uit Deuteronomium 6 kom. In Levitikus 19 lees ons die volgende oor die liefde vir die naaste: “Jy mag nie jou broer in jou hart haat nie. Wys jou volksgenoot openhartig tereg. Jy mag nie ʼn misstap teen hom bly hou nie. Jy mag nie haatdraend wees en ʼn wrok koester teen die kinders van jou volk nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here” (Lev 19:17-19, 2020-vertaling).
LEES OOK: Die veelstemmigheid van die Ou Testament Deel 1 – 3
Levitikus 19 is ʼn eienaardige mengsel van totaal uiteenlopende voorskrifte. Van hulle klink vir ons bekend, ander klink vreemd, maar verse 17-19 wat uitloop op die liefdesgebod klink nogal baie relevant en sou selfs kon deurgaan as praktiese raad vir vandag. Die aanloop tot die liefdesgebod laat dink ʼn mens aan die Afrikaanse spreekwoord: “Moenie van jou hart ʼn moordkuil maak nie.” As jou broer teen jou iets gedoen het, wys hom tereg, praat dit uit, want die alternatief is om aanhoudend ʼn wrok teen hulle te koester. Ons sal vandag natuurlik die patriargale taal wil verander en ook susters insluit, maar verder klink dit soos raad wat net so relevant is. As iemand dus vra wat liefde hier in Levitikus 19 beteken, dan is die teks baie duidelik: Praat dinge uit met jou naaste uit en moenie wrokke in jou hart dra nie. Hoewel die woord “vergifnis” nie hier voorkom nie, klink dit of liefde neerkom op ʼn openheid om te vergewe, of ten minste dan ʼn openheid om dinge uit te praat. Die teks herinner ook aan Petrus se vraag in Matteus 18:21 oor hoeveel maal ʼn mens moet vergewe. Ons almal ken Jesus se antwoord.
Die ander vraag wat natuurlik hier opkom is: Maar wie is my naaste? Of wie is my broer/suster in dié geval? Vir die eerste hoorders van Levitikus het dit waarskynlik na ander Israeliete of Judeërs verwys, hoewel die tweede deel van Levitikus 19 dalk vir hulle ʼn verrassing sou inhou. Maar wie is ons naaste? Ons weet hoe Jesus hierdie vraag in Lukas beantwoord het: Met ʼn storie oor ʼn Samaritaan.
Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.
Ons kommentaarbeleid
Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.